Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
VBS, EFF en Shivambu: En daar was stilte . . .

Die plundering van VBS Mutual Bank waarby Floyd Shivambu, die EFF se adjunkpresident, betrek word, lê die inkonsekwentheid van dié party se beleid teen korrupsie bloot, sê Protas Madlala, politieke ontleder.

Die verdoemende bevindings in die Reserwebank se VBS-verslag lys 27 individue en maatskappye wat altesame R1,8 miljard van die bank gekry het in ’n “plundertog”.

Senior ANC-leiers, waaronder Danny Msiza, die party se provinsiale tesourier in Limpopo, en Brian Shivambu, die EFF-onderleier se broer, word in die forensiese verslag geïmpliseer.

Aanklaers is reeds aangestel. Dit is ’n strafregtelike saak en ons sal die regte proses volg.

Die aanlyn publikasie Daily Maverick berig Brian Shivambu het glo R16 miljoen van die bank ontvang, waarvan R10 miljoen na Floyd is en R1,3 miljoen na die EFF se bankrekening.

Madlala sê die EFF se ongewone stilswye hieroor is rede tot kommer.

“Die EFF was nog die heeltyd die enigste party wat gevra het dat die bank gered moet word. Ons weet nou hoekom. Floyd moet nou maar die gelag betaal,” sê Madlala.

“Die EFF het baie te sê gehad oor (oudpres. Jacob) Zuma en (die gewese minister van finansies Nhlanhla) Nene en hoe hulle skuldig is omdat hulle bande met die verkeerde mense gehad het, maar die wiel het nou vir hulle gedraai.”

Die ANC het hom Donderdag daarop begin voorberei om skadebeheer te begin doen nadat senior partyleiers se name in verband met die bedrog genoem word.

Soviet Lekganyane, die ANC se provinsiale sekretaris in Limpopo, sê die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) hou Donderdagaand ’n noodvergadering “om te besluit wat volgende gedoen moet word”.

Godrich Gardee, die EFF se sekretaris-generaal, het op die vraag of Shivambu soos Nene op sy swaard moet val, gesê hy wil nie by die kwessie ingetrek word nie. “Dit sal onregverdig wees vir my om kommentaar te lewer. Die EFF het ’n woordvoerder (dr. Mbuyiseni Ndlozi), vra hom.”

Mandisa Mashego, die EFF se Gautengse leier, sê hoewel sy ’n “persoonlike mening” hieroor het, wil sy liewer nie ingesleep word by ’n bespreking oor Shivambu se broer nie. “Ek staan by die EFF se verklaring dat almal wat by korrupsie betrokke is, vervolg moet word.”

Nie Shivambu of Ndlozi het op navrae gereageer nie.

’n Brief wat Hlengiwe Hlophe-Maxon, die EFF se adjunk-sekretaris-generaal, en Leigh-Ann Mathys, tesourier-generaal, glo aan Julius Malema, EFF-leier gestuur het, het ook Donderdag die ronde gedoen. Hierin word Malema gekonfronteer oor die geld wat VBS aan die EFF betaal het.

Hlophe-Maxon sê egter die brief is vals.

In ’n verklaring Woensdag het die EFF gesê diegene wat by die plundering van die bank geïmpliseer word, moet vervolg word, maar geswyg oor Shivambu se situasie.

Malema het Donderdag op Twitter op die verdediging gegaan. “Geen verslag impliseer hom nie,” het hy gereageer op indringende vrae oor die party se hantering van die VBS-sage.

Intussen sê Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, hulle ondersoek reeds die VBS-skandaal. “Aanklaers is reeds aangestel. Dit is ’n strafregtelike saak en ons sal die regte proses volg,” sê hy.

Meer oor:  Vbs Mutual Bank  |  Floyd Shivambu  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.