Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
VBS: EFF rooi in die gesig

Die angel in die VBS-skandaal se stert het die EFF seer gesteek.

Die Economic Freedom Fighters het aanvanklik geswyg oor die feit dat Brian Shivambu, broer van Floyd Shivambu – die party se adjunkpresident – in die verslag oor die bank se ineenstorting weens bedrog genoem word.

Floyd Shivambu, adjunkleier van die EFF.

Donderdag het die party se leiers al stotterend op die aantygings begin reageer.

Brian, Floyd Shivambu se jonger broer wat die EFF se werwingspartytjies en saamtrekke op kampusse reël, het glo meer as R16 miljoen se VBS-geld ontvang.

Volgens Daily Maverick het R10 miljoen daarvan in Floyd Shivambu se sak beland en R1,3 miljoen in die bankrekening van die EFF.

Die bank is op 11 Maart vanjaar deur die Reserwebank in kuratorskap geplaas en meer as 22 000 deposante, onder andere stokvels, is in die steek gelaat.

15 munisipaliteite het ook geld by VBS belê en 14 van hulle gaan dit waarskynlik nie terugkry nie.

Baie amptenare is met omkoopgeld oorreed om munisipale geld by VBS te belê.

VBS Mutual Bank was voorheen bekend as die Venda Bouvereniging en het oudpres. Jacob Zuma geld geleen om R7,2 miljoen terug te betaal nadat hy gedwing is om self vir sekere verbeterings aan Nkandla te betaal.

Nadat die Reserwebank ingegryp het, is adv. Terry Motau SC opdrag gegee om die bank se geldtekort wat tot sy ineenstorting gelei het, te ondersoek.

In sy verslag, getiteld “The Great Bank Heist”, sê Motau daar is geen twyfel nie dat grootskaalse plundery van nagenoeg R2 miljard daarvoor verantwoordelik was.

50 mense word as bevoordeeldes genoem. Die DA het Donderdag strafregtelike klagte teen hulle ingedien.

Motau het bevind VBS is “tot in sy kern verrot” en kan nie gered word nie.

Ek is jammer, maar ek gaan nie gereduseer word tot ’n woordvoerder vir ons adjunkpresident se broer nie.

Brian Shivambu het Donderdagmiddag in ’n verklaring ontken dat hy ooit enige sake met VBS gedoen het en dreig nou met regstappe weens naamskending.

Hy sê sy maatskappy, Sgameka Projects, en hyself as direkteur het wel op aandrang van een van sy kliënte, Vele Investments, rekeninge by VBS geopen om betalings vir dienste wat aan Vele gelewer is, te vergemaklik.

Vele se bedrywighede maak ’n groot deel van Motau se verslag uit. Hy sê onder meer VBS se “kapers” het die bankstelsel gemanipuleer deur “enorme fiktiewe inbetalings in Vele se guns te skep” wat ook tot voordeel van Vele se “magdom vennote en verwante partye” was.

Brian Shivambu

Julius Malema, EFF-leier wat vroeër vanjaar die Reserwebank aangeval het omdat hy ’n “swart beheerde bank” onder kuratorskap plaas, het Donderdagoggend op ’n vraag oor die broers se betrokkenheid geantwoord “geen verslag impliseer” Floyd Shivambu nie.

“Ek is jammer, maar ek gaan nie gereduseer word tot ’n woordvoerder vir ons adjunkpresident se broer nie.”

Adv. Dali Mpofu, nasionale voorsitter van die EFF, het smalend aan eNCA gesê: “Ek het Donderdag R20 van my suster gekry en die EFF het dit nie bespreek nie. Hoekom moet ons bespreek wat Floyd se familie doen?

“Moet ons dit nou op ons agenda plaas, dat hy R10 of R10 miljoen van sy broer gekry het? Werklik!”

Protas Madlala, politieke ontleder, sê die skandaal lê die EFF se inkonsekwentheid oor korrupsie bloot.

“Die EFF was nog heeltyd die enigste party wat gevra het dat die bank gered moet word. Ons weet nou hoekom. Floyd moet nou maar die gelag betaal,” sê Madlala.

Moet ons dit nou op ons agenda plaas, dat hy R10 of R10 miljoen van sy broer gekry het? Werklik!

“Die EFF het baie te sê gehad oor Zuma en (die gewese minister van finansies Nhlanhla) Nene en hoe hulle skuldig is omdat hulle bande met die verkeerde mense gehad het, maar die wiel het nou vir hulle gedraai.”

Die ANC het Donderdag in ’n verklaring gesê “koppe moet rol” oor die plundery.

Talle provinsiale ANC-ampsbekleders word in die verslag genoem, onder andere Danny Msiza, die party se tesourier in Limpopo, en Florence Radzilani, ondervoorsitter van die ANC in dié provinsie. Sy is ook burgemeester van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, wat R311 miljoen van die munisipaliteit se begroting by VBS belê het.

Die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) het Donderdagaand ’n noodvergadering oor die verslag gehou.

Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa), het gesê dit is tyd dat beslissend opgetree word teen mense wat vir eie gewin bedrog pleeg ten koste van armes.

Motau het strafregtelike en siviele verrigtinge aanbeveel.

Hoewel die verslag nie as bewys vir vervolging gebruik kan word nie, kan vervolgingsowerhede dit wel as ’n handleiding gebruik.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê hulle is al “reeds ’n lang tyd” besig met ’n ondersoek na die VBS-skandaal.

Wat is VBS Mutual Bank nou eintlik?

VBS is in 1982 gestig en is oorspronklik as die Venda Bouvereniging bedryf. 

In 1992 het VBS as ’n onderlinge bank begin sake doen; die bank het sy banklisensie in Oktober 2000 ontvang.

Onderlinge banke is baie kleiner as handelsbanke, soos FNB, Absa en Capitec, maar word wel ook deur die Reserwebank gereguleer.

Die grootste verskil tussen ’n onderlinge en ’n handelsbank is dat die deposante van eersgenoemde ook aandeelhouers word. 

VBS bied hoofsaaklik huislenings en spaarrekeninge.

VBS is een van drie onderlinge banke in Suid-Afrika. Die ander twee is Ithala en Finbond.

Jacob Zuma is mos ’n kliënt?

VBS het in 2016 ’n verband van R7,3 miljoen aan oudpres. Jacob Zuma gegee om belastingbetalers se geld vir die opgraderingswerk aan sy Nkandla-woning terug te betaal. VBS was die enigste bank wat bereid was om dit te doen. 

Die bank is vroeër vanjaar onder kuratorskap geplaas, maar Zuma sal steeds moet opdok.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficiency Group, sê die kurator kan Zuma gebonde hou aan die VBS-kontrak. 

“Die boek van debiteure vir huisverbande sal waarskynlik saam in ’n mandjie gegooi en aan ’n ander bank verkoop word. Hy sal dus nie meer vir VBS skuld nie, maar ’n ander bank,” sê hy. 

Die verslag ‘The Great Bank Heist’

Die verslag is die uitvloeisel van die forensiese ondersoek wat adv. Terry Motau in opdrag van die Reserwebank uitgevoer het.

Daarvolgens het die bank ’n doelbewuste veldtog begin om groot deposito’s van munisipaliteite te kry en later ook probeer om deposito’s van staatsondernemings, soos die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), te kry deur “kommissie”, oftewel omkoopgeld, te betaal. 

Van die bedrog sluit in die skep van vals deposito’s op VBS se rekenaarstelsels sodat dit lyk asof die bank ’n positiewe balans het. 

Daarna kon dié “deposito’s” oorgedra word na grootkoppe by die bank se persoonlike rekeninge en as kontant onttrek word. 

Nagenoeg R2 miljard is uiteindelik gebuit. 

Vele Investments en Tshifhiwa Matodzi, voormalige voorsitter, het verreweg die meeste geld ontvang. 

Wie het nog geld by VBS geleen?

Aktegegewens wys ’n groot deel van VBS se verbandlenings is aan kliënte in die regering en die ANC toegestaan. 

Verskeie lenings is toegestaan aan mense wat bande met Andile Ramavhunga, Tshifhiwa Matodzi en Vele Investments gehad het. 

Daniel Msiza, ANC-tesourier van Limpopo, het byvoorbeeld R9,5 miljoen geleen om ’n konferensiesentrum in Polokwane vir sy vrou se maatskappy, Mojovax, te koop. Selfs Ndivhuwo Khangale, VBS se eertydse woordvoerder, het sowat R4,5 miljoen geleen. 

Ouditeure van KPMG is ook afgedank omdat hulle VBS-lenings gehad het. 

Die munisipale werkersvakbond Samwu het luidens die akteregister in Oktober verlede jaar ’n lening van R11,8 miljoen by VBS gekry, berig Rapport. 

Dié vakbond ontken hy het ooit so ’n lening aangegaan.

Meer oor:  Eff  |  Malema  |  Julius  |  Floyd ­Shivambu  |  Vbs Mutual Bank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.