Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Veel duurder lokomotiewe: ‘Dis hoe dit werk’ – Molefe

Dít is hoe onderhandelings werk, ’n mens betaal nie die prys van jou eerste berekening nie – selfs al is die verskil R15,9 miljard.

Só het Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, Woensdag aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping verduidelik oor hoe dit gekom het dat die aanvanklike berekening van R38,6 miljard vir 1 064 lokomotiewe tot R54,5 miljard opgespring het.

Brian Molefe Woensdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Molefe het getuig mense verstaan nie: Net omdat die eerste berekening vir die totale koste R38,6 miljard was, beteken dit nie dit is die bedrag wat Transnet uiteindelik sou betaal nie.

Tydens onderhandelings verander sake, verskaffers kom terug na jou en maak hul prys waarteen hulle die lokomotiewe sal verskaf. Dit is met die uitkoms van dié onderhandelingsproses dat Molefe in Mei 2014 na die direksie is en ’n aanbeveling gemaak het dat dit geregverdig sou wees om R54,5 miljard te betaal.

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die kommissie, ondervra Brian Molefe Woensdag. Foto: Skermgreep

Adv. Anton Myburgh SC, getuienisleier van die kommissie, sê die omstredenheid lê daarin dat die oorspronklike berekening van R38,6 miljard die geskatte totale koste, ingesluit faktore soos die wisselkoers van die rand en potensiële stygende koste, was. Dit is ook so in ’n memorandum aan die Transnet-direksie deurgegee.

Toe die direksie ingelig is dat die koste hoër gaan wees, is aangevoer dat die eerste berekening nié die randwisselkoers en stygende koste ingesluit het nie, maar dit het wel.

Molefe het hierop getuig dat by terugskouing moes die aanbeveling wat hy aan die Transnet-direksie gemaak het nie die R54,5 miljard omskryf het as die geskatte totale koste nie, maar as die prys waarby ná die onderhandelings uitgekom is.

Myburgh het dit aan Molefe gestel dat sy vrae gaan oor die verwysing daarna dat die bedrag van R38,6 miljard die randwisselkoers en stygende koste ingesluit het. Het dit volgens Molefe dié faktore ingesluit? het hy gevra.

Molefe het erken dit het wel die randwisselkoers en kostestygings ingesluit.

Dit maak ’n groot verskil in die berekening. Ek sou wou weet of dit ingesluit of uitgesluit is, want indien daardie koste nog moes bygevoeg word, sou die besluit (deur die Transnet-direksie) op grond daarvan geneem gewees het.
Regter Raymond Zondo

“Dit is (later) aan die Transnet-direksie aangebied asof dié faktore uitgesluit was. Dit is waarom die hele omstredenheid gaan,” het Myburgh gesê.

Molefe het geantwoord dit het nie eintlik saak gemaak of die bedrag die valutawisselings en kostestygings in- of uitgesluit het nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gesê dit is taamlik verrassend vir hom dat Molefe sê dit maak nie saak of dit die faktore in- of uitgesluit het nie.

“Dit maak ’n groot verskil in die berekening. Ek sou wou weet of dit ingesluit of uitgesluit is, want indien daardie koste nog moes bygevoeg word, sou die besluit (deur die Transnet-direksie) op grond daarvan geneem gewees het,” het Zondo gesê.

Hy het gesê hy sou verwag het dat die Transnet-direksie dit sou wou weet.

Molefe het geantwoord wat eintlik bepaal moet word, is of die eerste bedrag van R38,6 miljard die perfekte bedrag was wat die werklikheid weerspieël. Dit het nie en dit hoef ook nie, want die bedrag waarmee verskaffers terugkom, is die werklikheid.

Myburgh het dit aan Molefe gestel dat dit gaan daaroor dat hy Transnet se direksie mislei het, en dat hy dit nou in sy getuienis bevestig het.

In antwoord hierop het Molefe gesê dít wat Myburgh nou bespreek, is nie ’n belangrike kwessie nie.

• Transnet het Dinsdag saam met die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ’n aansoek by die hof ingedien om die omstrede lokomotiefkontrak van 2014 tersyde te stel. Transnet het ook Dinsdag aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge gesê hy vra dat die kontrakte tersyde gestel word en dat ’n regverdige en billike remedie toegestaan word op grond daarvan dat die kontrakte onreëlmatig was en deur korrupsie besmet is.

Meer oor:  Transnet  |  Brian Molefe  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.