Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dít kwel boere die meeste

Veiligheid, politieke onsekerheid en droogte is die drie kwessies wat die land se kommersiële boere tans die meeste slapelose nagte besorg, sê Dan Kriek, president van Agri SA.

Hy het in Centurion in ’n gesprek met die media gesê kommersiële boere wil ’n verskil maak en help om van Suid-Afrika ’n sukses te maak.

Hulle wil ook help om van grondhervorming ’n sukses te maak.

“Ons boere is taai, baie taai. Ons het gehalte-boere wat meestal onder baie moeilike omstandighede boer en produseer. Hulle dra baie daartoe by dat Suid-Afrika voedselsekerheid het.

“Die kwessie van grondhervorming gaan nog lank met ons wees en ons wil help om oplossings hiervoor te soek.”

Agri SA werk die laaste jaar ten nouste met die regering saam oor grondhervorming, wat een van die groot kwessies in die algemene verkiesing op 8 Mei sal wees.

Dan Kriek, president van Agri SA. Foto: Sarel van der Walt

Agri SA en ander landbou-organisasies wat kommersiële boere verteenwoordig, stamp gereeld kop met die regering oor sy plan om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Kriek het gesê Agri SA se vyf sentrums van uitnemendheid (grond, ekonomie en handel, arbeid en ontwikkeling, natuurlike hulpbronne en landelike veiligheid) het van die land se voorste kundiges in diens.

Die voorsitters van dié eenhede is almal boere.

“Alles wat ons doen, doen ons tot voordeel van die land se boere.”

Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, het gesê 95% van dié organisasie se lede is familieboere.

“As húlle val, val die hele waardeketting van die landbou. Hulle word nie genoeg waardeer nie.

“Die land se boere is ook baie meer progressief as wat mense dink.

“Die land staan op die rand van ’n afgrond. Wat in die volgende jaar gebeur, sal bepalend wees.”

Pierre Vercueil, ’n visepresident van Agri SA, het gesê die groot verskil in die sienswyse tussen boere en politici is dat boere vir die lang termyn beplan en politici dink net aan die kort termyn.

Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende hoof, het gesê Suid-Afrika het genoeg wit en swart boere wat die vermoë het om ’n sukses van hul boerdery te maak.

“Die verhoudinge tussen boere van die verskillende bevolkingsgroepe is baie goed.”

Meer oor:  Agri Sa  |  Dan Kriek  |  Droogte  |  Boerdery  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.