Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Veiligheid van boere, plaaswerkers ‘nie vir ANC belangrik’

Die veiligheid van boere en plaaswerkers is nie vir die ANC-regering belangrik nie.

So sê Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, ná die koelbloedige moord op L.W. Maluleka (61) Saterdagaand op ’n hoewe buite Bela-Bela (Warmbad).

Annelie Botha by haar pa, Harm Bonnema (71), wat verlede week op sy plaas buite Marble Hall geskiet is. Foto: Verskaf

Maluleka en sy 55-jarige vrou is deur ’n onbekende aantal gewapende mans in hul huis op die hoewe oorval.

Maluleka is onder sy ken geskiet. Sy vrou, wie se naam nie bekend is nie, is in haar bors geskiet, sê kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder.

Sy is na ’n hospitaal in Bela-Bela gehaas waar sy steeds behandel word.

Die aanvallers het die huis geplunder en in ’n bakkie weggery.

Smalle sê die polisie moet spesialiseenhede terugbring wat behoorlik toegerus is om misdaad in landelike gebiede hok te slaan.

Die aanval op die Malulekas is een van drie plaasaanvalle in minder as ’n week in Limpopo.

Gert Kruger (81) van Marble Hall is Saterdagaand op sy plaas aangeval. Foto: Verskaf

Harm Bonnema (71) is verlede Maandagaand vier keer geskiet op sy plaas buite Marble Hall.

Hy was jare ’n boer, maar werk tans by die Loskop-besproeiingskema. Hy is onder meer in sy een arm, been en in sy een long geskiet.

Annelie Botha, sy dogter, sê haar pa is steeds in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg. ’n Neef van hom, Hennie Bonnema (62), is in 2016 op sy plaas in Levubu vermoor.

In nog ’n voorval die naweek is Marietjie Kruger (45) en haar ouers, Gert (81) en Rita (71), Saterdagaand op hul plaas buite Marble Hall deur vier gewapende mans aangeval.

Gert Kruger (81) kort nadat hy Saterdagaand op sy plaas buite Marble Hall aangeval is. Foto: Verskaf

Gert is met ’n koevoet oor die kop geslaan en sy hande is vasgebind. Die rowers het ’n pistool teen sy kop gedruk en wou die kluis se sleutel hê.

Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, het die Krugers Sondag op hul plaas besoek. “Plaasaanvalle neem nou weer toe. Ons sal dit nie duld nie en doen alles in ons vermoë om dit te help bekamp en die nodige ondersteuning te bied,” sê sy.

Ngoepe sê die polisie ondersoek die moontlikheid dat dieselfde aanvallers dalk by die aanvalle op Bonnema en die Krugers betrokke was.

Niemand is nog vir enigeen van die aanvalle of die moord op Maluleka in hegtenis geneem nie.

Donald Selamolela, woordvoerder van die ANC in Limpopo, het nie op navrae reageer oor die DA se beskuldiging dat die ANC nie vir boere en plaaswerkers omgee nie.

* In Mpumalanga is David Hempson (72) Sondagoggend vroeg op ’n plaas in Waterval-Boven aangeval. Die aanvallers wou geld en wapens hê. Hempson het geld en ’n vuurwapen aan die mans gegee. Hy is nie beseer nie.

Meer oor:  Harm Bonnema  |  Jacques Smalle  |  Bela-Bela  |  Politiek  |  Boere  |  Hoewe-Aanval  |  Anc  |  Plaaswerkers  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.