Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Verdeel eenvoudig al die grond, sê Motlanthe

Die beste oplossing vir die land se uitdagings met grondhervorming is om eenvoudig al die grond te herverdeel.

Só het oudpres. Kgalema Motlanthe, hoof van ’n taakspan wat die uitwerking van wetgewing op Suid-Afrikaners se daaglikse lewe ondersoek, in reaksie op talle Wes-Kapenaars se menings oor grondhervorming in die provinsie gesê.

Oudpres. Kgalema MotlantheFoto: Emile Hendricks

Die taakspan, wat deur Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, aangestel is om al die wette sedert 1994 te evalueer, het Maandag en Dinsdag openbare vergaderings in Goodwood, Kaapstad, gehou.

“Die herstelproses (van grondhervorming) is gemik op mense wat geldige grondeise het. Dit is ook ’n baie moeisame proses. Die beste oplossing is die herverdeling van grond. Ons land se geskiedenis is een van onteiening,” het Motlanthe gesê.

Hy glo die regering moet alle grond in ag neem en ’n holistiese benadering toepas.

“Daar is grond wat in trustfondse belê is en dan is daar ook grond wat aan sekere groepe toegesê is. Ons moet die kwessie holisties benader. Ons moet die grond herverdeel,” sê hy.

Motlanthe sê grondkwessies is nie uniek aan die Wes-Kaap nie en hy erken dat Khoisan-leiers en ander groepe uiters ontevrede is met die huidige wetgewing.

“Grondhervorming het te doen met geografiese kwessies en taal,” sê hy.

Motlanthe het ook benadruk dat die Grondwet nie die Khoi-, die San- of die Korana-groepe se taal erken nie.

“Dit sal in hierdie konteks hersien moet word,” sê hy.

Aninka Claassen, ’n lid van die taakspan, sê: “Daar is ook baie van die groepe wat nie saamstem met die nuwe Wetsontwerp op Tradisionele en Khoisan-leiers nie. Die wetsontwerp word tans in die parlement oorweeg.”

Dr. Yvonne Muthien, ’n lid van die taakspan, sê daar is steeds ongelyke toegang tot maatskaplike dienste.

“Werkloosheid en ander maatskaplike kwessies verdeel Suid-Afrika steeds. Die Grondwet sit die verwagtinge en aspirasies van die land uiteen. Die implementering van wette is egter nog ’n groot struikelblok,” sê sy.

Peter Marais, leier van die Bruin Bewussynsbeweging, het op Maandag se vergadering heftig ’n uiteensetting gegee van hoe wetgewing en die gebrek aan sekere wetgewing volgens hom bruin mense raak. Hy het arbeidswetgewing, wetgewing oor inheemse kennis, die Khoisan-wetsontwerp, asook wette oor mariene hulpbronne en die status van Afrikaans onder luide toejuiging vanuit die gehoor gekap.

’n Verteenwoordiger van die Khoi-gemeenskap in Kaapstad sê: “Die Khoi-groepe het geen plek in Suid-Afrika nie. Ons word onderdruk deur die oorheersende diskoers. Ons kan nie toelaat dat ons so onderdruk word nie, maar ons het nie veel van ’n stem in ons eie land nie.”

Meer oor:  Kgalema Motlanthe  |  Goodwood  |  Regering  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.