Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Verdrag uit Vorster se dae kan Bushiri’s terugkry in SA

’n Ooreenkoms wat Suid-Afrika in die 1970’s – toe adv. John Vorster nog eerste minister was – met Malawi gesluit het, kan ’n deurslaggewende rol in die uitlewering van die selfverklaarde profeet en sakeman Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary, aan Suid-Afrika speel.

Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary.

Die egpaar het verlede jaar uit Suid-Afrika na Malawi (hul geboorteland) gevlug nadat hulle in Pretoria van bedrog en geldwassery van sowat R102 miljoen aangekla is.

Bushiri word ook van verkragting beskuldig.

’n Landdros in Lilongwe het Woensdag die saak tot 4 Junie uitgestel omdat die egpaar se regspan hulle tot die hooggeregshof wil wend sodat die saak op hersiening geneem kan word.

Landdros Patrick Chirwa het vroeër die Bushiri’s se aansoek dat die saak geskrap word, verwerp.

Hy het ook geweier dat die saak op versoek van die egpaar se regspan verwys word na die hoofregter van Malawi op grond daarvan dat dit grondwetlike kwessie is, berig die Malawiese koerant Nyasa Times.

Chirwa meen hoewel die protokol van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) nie in Malawi gebruik kan word nie, bestaan daar ’n bilaterale ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Malawi wat in 1974 gesluit is.

Dit was in die jare toe Vorster deur sy beleid van détente beter verhoudinge met Afrika probeer bewerkstellig het.

Hy en pres. Hastings Banda, wat destyds nog die septer in Malawi geswaai het, het ’n goeie verhouding gehad.

John Vorster was eerste minister van Suid-Afrika en leier van die Nasionale Party toe Jaap Marais en sy volgelinge in 1969 weggebreek het. Foto: Getty Images

Adv. JJ du Toit, ’n afgetrede adjunkdirekteur van openbare vervolgings en wat baie ervaring van uitlewerings het, het gesê Chirwa het reg opgetree.

“Suid-Afrika het dit in sy aansoek om die uitlewering van die Bushiri’s duidelik gemaak dat hy op beide verdrae (die SAOG se protokol en die bilaterale uitruilooreenkoms tussen die twee lande) steun,” het Du Toit, wat van 2011 tot en met sy aftrede in November 2019 die hoof van uitlewering en wedersydse regshulp in die kantoor van die direkteur van openbare vervolgings in Johannesburg was, gesê.

Hy het verduidelik dat elk van die 16 lidlande van die SAOG stappe moet doen om streekverdrae deel van hul reg te maak.

“Ek dink dit is ’n verleentheid vir Malawi omdat hy die verdrag (van die SAOG) geratifiseer het, maar oënskynlik nie verdere stappe gedoen het om dit deel van sy reg te maak nie.

“Dit is nie iets waarvoor Suid-Afrika verkwalik kan word nie,” meen Du Toit.

Hy het gesê as geen verdrag van toepassing is nie, is die Malawiese president, Lazarus Chakwera, steeds by magte om ’n uitlewering “ter wille van goeie buurmanskap” goed te keur.

Die Bushiri’s se agtjarige dogter is verlede maand in ’n hospitaal in Kenia oorlede.

Die landdros het vroeër gelas dat getuies in Suid-Afrika na Malawi moet kom om te getuig.

Hieroor het Du Toit gesê dit is nog nie die duidelik of die staat (Malawi) die landdros se beslissing oor dié getuies op hersiening sal neem nie.

“Dit is buitengewoon dat getuies in persoon in uitleweringsake getuig,” het hy gesê.

Meer oor:  Malawi  |  Shepherd Bushiri  |  Uitlewering  |  Bedrog  |  Geldwassery  |  Hof  |  Saog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.