Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Verdwene Pierneef uiteindelik opgespoor

Die “skenking” van ’n Pierneefskildery ter waarde van miljoene rand deur Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC aan ’n eertydse lyfwag van hom, het vrae laat ontstaan oor verskeie kultuurskatte in die kantoor van die Vrystaatse premier.

Die herrie oor die skenking van die kunsskat is Maandag beskryf as “ ’n gefladder in die duiwehok wat tot ruste gekom het” toe die skildery aan die provinsie terugbesorg is.

Ace Magashule

“Dit was ’n menslike fout,” het Ricardo Mettler (41) van Bloemfontein, eertydse lyfwag van Magashule toe dié nog premier was, gesê oor dié skildery van tussen R6 miljoen en R8 miljoen wat aan hom geskenk is.

Hy het die skildery by Strauss & Co. in Johannesburg vir waardering ingehandig nadat Magashule dit vir hom as geskenk gegee het, sê hy.

Mettler het by sy huis in Bloemfontein gesê Strauss & Co. sal nou die skildery aan die premierskantoor terugstuur.

Dit kom nadat Daily Maverick Maandag berig het dat Magashule, nou ANC-sekretaris-generaal, hom in ’n debakel oor ’n “gesteelde” Pierneef-skildery bevind.

Volgens dié elektroniese koerant het Magashule die Pierneef-skildery vir Mettler, sy persoonlike lyfwag, as ’n geskenk gegee nadat die skildery tussen sy persoonlike besittings beland het toe hy sy premierskantoor in Februarie vanjaar ontruim het.

Ricardo Mettler (41), Ace Magashule se lyfwag.Foto: Facebook

Alastair Meredith, ’n spesialis-ondersoeker van Strauss & Co. in Johannesburg, het aan Netwerk24 bevestig dat hulle deur hul prokureurs ’n klag van moontlike diefstal by die Valke, spesialisondersoekers van die polisie, ingedien het.

Meredith sê hulle het geen steen onaangeraak gelaat nie toe die besonder groot Pierneef-skildery by hulle aankom. “Ons het agterdogtig geraak en wou weet wie die werklike eienaar was. Ons was met die Universiteit van Pretoria (UP) in verbinding, asook die kultuur-historiese museum in Pretoria. Ons het met soveel as moontlik Pierneef-spesialiste gepraat en Pierneef-bateregisters geraadpleeg.”

Hy sê die groot Pierneef van 76 cm x 90 cm beeld Golden Gate en die Oos-Vrystaatse landskap uit. Dit is ook in hul advertensie gebruik in die hoop dat iemand sou reageer.

“Iemand het toe gebel en gesê dit kom uit die Vrystaatse premierskantoor.”

Hulle het daarna met hul prokureurs geskakel wat weer met die prokureurs van die Vrystaatse provinsiale regering geskakel het.“Ons prokureurs het ook ’n klag by die Valke ingedien.”

Meredith sê hulle is net ongelooflik dankbaar hulle kon help om die skildery, wat deel is van ’n versameling van die staat, te red. Dr. Basie Olivier, voormalige private sekretaris van die destydse Vrystaatse administrateurspaar Louis en Louisa Botha, sê hy het van 1979 tot 1987 in Vrystaathuis en die Vrystaatse premierskantoor gewerk en alles goed geken. “Daar was van die mooiste Persiese matte, skilderye en breekware in die huis en kantoor.

"Een van die Persiese matte was sover ek weet een van die grootstes in Suid-Afrika. Daar was ’n vuurskerm wat deur die skêrmoordenares, Marlene Lehnberg, geborduur is terwyl sy in die Kroonstad-tronk was.

“Van die skilderye was van Pierneef en ek het nou die dag gehoor dat een van hulle in ’n stadium op die vullishoop gekry is. Iemand het dit gered en dit hang nou in daardie persoon se kantoor in die premier se departement. Selfs in die premier se kantoor het daar skilderye van Pierneef gehang. ’n Mens wonder wat daarvan oor is.”

Die Pierneefskildery waaroor die herrie ontstaan het. Foto: News24

Hy sê die finansiële hoof van die Vrystaatse departement van openbare werke is ook verantwoordelik vir Vrystaathuis en die inventaris is in die premier se kantoor. Netwerk24 het deur Mlungisi Maquebela, woordvoerder van dié departement, navrae gerig, maar is na die premierskantoor verwys. Tiisetso Makhele, woordvoerder van die premierskantoor, het skriftelike navrae erken en sou ’n mediaverklaring uitreik.

Geen terugvoering is teen die spertyd ontvang nie.

Makhele het Maandag nie op tientalle oproepe gereageer nie. Olivier sê hy onthou die spesifieke Pierneef-skildery van Golden Gate en die Oos-Vrystaat, waarna nou verwys word. "As Louis Botha destyds by die werk opgekyk het, het hy daarin vasgekyk.”

* Netwerk24 het Zizi Kodwa en Pule Mabe verskeie kere gebel om die ANC se kommentaar en dié van Magashule te kry, maar hulle het nie op oproepe gereageer nie.

* Kapt. Loyd Ramovha van die Valke in Johannesburg het gesê die Valke sal net reageer as ’n saaknommer verskaf word.

Bykomende bron: Daily Maverick

Meer oor:  Ace Magashule  |  Geskenk  |  Skildery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.