Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vergadering tussen veterane, president loop glo skeef

Die verhouding tussen pres. Cyril Ramaphosa en die Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging (MKMVA) is blykbaar verder aan’t versuur.

Dít nadat ’n vergadering tussen Ramaphosa, ANC-topleiers en Umkhonto we Sizwe (MK)-veterane Maandag glo misluk het. Die vergadering was ter voorbereiding van ’n konferensie waarop die MKMVA en die nasionale MK-raad in een struktuur moet verenig.

Carl Niehaus Foto: Daily Sun

Die politieke ontleder Theo Venter het Sondag gesê dat die vereniging van alle MK-veterane deel van Ramaphosa en sy ondersteuners in die ANC se plan is om hul greep op die party te verstewig. Dít omdat die MKMVA onder Kebby Maphatsoe en Carl Niehaus ’n “erge probleem” vir die ANC geword het weens hul stoere ondersteuning van oudpres. Jacob Zuma en Ace Magashule, tydelik geskorste ANC-sekretaris-generaal.

Niehaus, MKMVA-woordvoerder, het Maandag in ’n verklaring gesê hulle is teleurgesteld in hoe Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, Maandag se vergadering hanteer het.

“Ná die opening deur pres. Cyril Ramaphosa dat die MKMVA en MK-raad ontbind sal word (in die aanloop tot eenwording), wou MKMVA-leiers weet waarom daar so radikaal afgewyk word van die aanvanklike eenwordingsproses.

“Ons president, Maphatsoe, en adj.pres. Taylor Nisimbini het ’n verduideliking geëis, ook in ’n brief wat Maphatsoe op 6 Junie aan Jessie Duarte, ANC-adjunk-sekretaris-generaal, geskryf het.”

Volgens Niehaus het Mantashe die Zoom-vergadering skielik gestop voordat ander MKMVA-leiers hul punte kon opper.

Niehaus meen die MKMVA is “fundamenteel deur hierdie vreemde en ondemokratiese verloop van sake geminag”.

“Ons sal egter nie geminag word nie en sal nie voor ’n diktatuur buig nie.

“Die besluit van die ANC se nasionale werkkomitee en topsesleiers om die MKMVA te ontbind het geen regs- of politieke gronde nie.”

Ons sal egter nie geminag word nie en sal nie voor ’n diktatuur buig nie.
Carl Niehaus

Niehaus het bygevoeg dat Maandag se vergadering ’n “fundamenteel faksionele karakter ten gunste van die MK-raad gehad het”.

Volgens Niehaus was die MKMVA nog altyd deel van die eenwordingsproses en is dit eerder die raad wat “eensydig en skielik van hierdie proses onttrek het”.

Volgens Niehaus sal die MKMVA nie ontbind nie en voortgaan met sy werksaamhede.

Dit is nie al probleem waardeur die ANC in die gesig gestaar word nie.

ANC-personeel wil Dinsdag by Luthuli-huis in Johannesburg en by provinsiale ANC-kantore landwyd betoog omdat hulle steeds nie hul salarisse vir Mei ontvang het nie.

Paul Mashatile, ANC-tesourier-generaal, het Maandag aan NewzRoom Afrika erken dat die ANC erge finansiële probleme ervaar.

Dít omdat tradisionele skenkers weens die Wet op die Finansiering van Politieke Partye, wat op 1 April vanjaar van krag geword het, huiwerig is om skenkings te maak omdat dit nou verklaar moet word.

Mashatile het erken dat die ANC se geldsake só benard is dat die party beplan om sy personeel oor die komende maande te halveer. Hy het egter belowe dat ANC-personeel teen die einde van hierdie week hul Mei-salarisse sal ontvang.



Zandile Gumede-hofsaak

Die korrupsiesaak teen Zandile Gumede, omstrede voormalige ANC-burgemeester van die eThekwini-metro (Durban), en 20 ander is Maandag in die hooggeregshof in Durban vir voorverhoor-doeleindes tot 30 November uitgestel.

Vroeër is berig hoe die ANC in KwaZulu-Natal gesê het dat Gumede een van 12 ANC-ampsdraers in die provinsie is wat soos Magashule opsy moes staan weens hangende klagte van korrupsie en ander ernstige misdade.

Gumede, ’n groot bondgenoot van Zuma, en die ander staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery wat verband hou met die toekenning van tenders van meer as R400 miljoen in die tydperk toe sy burgemeester van eThekwini was.

Sy en haar medebeskuldigdes word deur 2 786 aanklagte in die gesig gestaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.