Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Verhouding tussen DA, De Lille ‘kan nie herstel’
JP Smith, adjunkkoukusleier en burgemeesterskomiteelid van die Kaapse metro, sê die meeste lede van die koukus het reeds gestem dat hulle vertroue in Patricia de Lille verloor het. Foto: Lindile Mbontsi

Die DA-koukus in die Kaapse metro sê hul verhouding met Patricia de Lille, die heraangestelde burgemeester, is aan flarde.

De Lille is weer in haar pos nadat die hooggeregshof in Kaapstad haar Dinsdag tydelik in haar amp as burgemeester en as DA-raadslid heraangestel het, hangende die uitspraak in haar hersieningsaansoek oor die DA se proses om haar uit die party te skop.

JP Smith, adjunk-koukusleier en burgemeesterskomiteelid, sê die meerderheid van die koukus het reeds gestem dat hulle vertroue in De Lille verloor het.

“Daar is geen kans dat die verhouding herstel kan word nie. Ons is almal volwassenes, ons hoef nie van mekaar te hou nie, maar in hierdie geval kan die koukus nie met haar saamwerk nie.

“Politiek is die kuns om met mense van wie jy nie hou nie, saam te werk. Ons kan almal slegte gevoelens hanteer, maar kan nie die feite ignoreer dat ons vertroue in die burgemeester verloor het.”

Patricia de Lille Foto: Jaco Marais

Smith sê die DA sou nooit kon droom dat hy hom in ’n situasie sou bevind dat een van sy burgemeesters magsdronk is en weier om ’n pos te verlaat nie.

“Dit kan met die beste party gebeur, maar ons het nooit gedink ons sal in hierdie situasie wees nie. Ons het ook nooit gedink ons sal ’n persoon moet dwing om te gaan nie, dus het ons nie voorheen ’n herroepingsklousule in ons grondwet gehad nie.”

Smith sê vir baie DA-lede, hy inkluis, is dit baie moeilik om teen die burgemeester op te staan.

“Sy is ’n vurige teenstander. Dit verg baie om teen haar op te staan en baie mense in die koukus het gesukkel om die moed bymekaar te skraap om dit te doen.”

Hy sê die De Lille-sage het leemtes in die DA se interne stelsels uitgewys. Die party het ’n pynlike les geleer oor wat gebeur wanneer die stelsel van plaaslike regering kwesbaar is vir magsmisbruik.

“Ons was in ’n situasie waar ons onsself die Demokratiese Alliansie noem, maar ons eie regeringstelsel onder De Lille was skaars demokraties. Dit was eintlik die outokratiese alliansie omdat die burgemeester buitengewone sentrale mag gehad het.

“Ons vermoë om doeltreffend toesig te hou is ernstig verswak. Die burgemeester kon ’n groot klomp besluite op haar eie neem.”

Hy sê die koukus het ’n baie waardevolle les geleer en sal seker maak dat dit nooit weer gebeur nie.

“Wie ook al die volgende burgemeester is, sal funksioneer in ’n omgewing waar ’n groot deel van hul magte na kollektiewe besluitneming, gepaardgaande met ingeboude toesig, afgewentel sal word.

“Die nuwe burgemeester sal nie self besluite kan neem en die insette van die koukus en burgemeesterskomitee verwerp nie. Die nuwe strukture sal verseker dat die burgemeester besluite neem met die konsensus van die burgemeesterskomitee.”

Ian Nielson, adjunkburgemeester, sê De Lille het heelwat magte, maar dat die meeste hiervan saam met die burgemeesterskomitee uitgeoefen moet word, waar die komitee sal besluit of hulle tevrede is met die voorstelle.

“Ons het reeds in Januarie daardie maatreëls ingestel. Enigiets wat sy wil doen, moet na die raad gaan vir goedkeuring, en daar sal die DA-koukus besluit of dit aanvaarbaar is of nie.”

Nielson sê hulle kyk reeds watter verdere maatreëls hulle ten opsigte van haar statutêre magte kan instel. Die DA-koukus werk aan voorgestelde wysigings aan die burgemeester se magte ten einde die magte van portefeuljekomitees en subrade te versterk.

“Ek speel ’n fasiliterende rol om te verseker dat opgetree word en dat alle besluite en prioriteite van die DA-koukus bevorder word,” het hy gesê.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Politiek  |  Verhouding  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.