Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Verkiesing tydens pandemie groot uitdaging, sê OVK

Vanjaar se plaaslike verkiesing sal weens die Covid-19-pandemie een van die uitdagendste verkiesings vir die Verkiesingskommissie (OVK), politieke partye, kandidate en alle ander belanghebbendes wees.

Sy Mamabolo, OVK-hoofverkiesingsbeampte, het Donderdag op ’n nuuskonferensie gesê die pandemie-omstandighede skep unieke probleme vir almal – hoe om verkiesingsveldtogte te hou, landsburgers te mobiliseer en om hulle in persoon te laat registreer en te laat stem, soos deur Suid-Afrika se regsraamwerk vereis word.

Die nuuskonferensie het gevolg nadat pres. Cyril Ramaphosa Woensdagaand aangekondig het dat die plaaslike verkiesing op 27 Oktober gehou word.

Mamabolo het ook bevestig dat die OVK Donderdag met leiers en verteenwoordigers van die 14 grootste politieke partye vergader het om verskeie kwessies rakende die verkiesing te bespreek.

Dié vergadering is ook deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en Njabulo Nzuza, adjunkminister van binnelandse sake, bygewoon.

Volgens Mamabolo het tot die helfte van die partye hul kommer uitgespreek oor die beperkinge op politieke saamtrekke en verkiesingsveldtogte ingevolge regulasies van die staat van inperking.

“Sommige partye het voorgestel dat die verkiesing in die lig van die pandemie uitgestel word.”

Die EFF maak in die openbaar voorspraak hiervoor.

“Ander meen die verkiesing moet onder spesiale Covid-19-protokolle as deel van die nuwe normaal voortgaan.”

Die ANC en DA het Donderdag onderskeidelik aangedui dat hulle voorstaanders hiervan is.

Volgens Mamabolo het die OVK dit egter duidelik gemaak dat die verkiesing net uitgestel kan word ná ’n statutêre of grondwetlike wysiging.

Die OVK kan ná die aankondiging van die verkiesingsdatum nou fyner beplanning afhandel en sal binnekort ’n omvattende nasionale kiesersregistrasieveldtog begin om veral kiesers wat die eerste keer sal kan stem aan te moedig om te registreer.

Mamabolo het bygevoeg dat die OVK weens finansiële redes ook net een registrasienaweek sal kan hou. Die datum daarvan sal later aangekondig word.

Die benoemingslyste vir wyks- en proporsionele verteenwoordigerskandidate vir die meer as 10 000 setels waarvoor daar in 205 munisipaliteite, agt metro’s en 44 distriksrade meegeding sal word, moet ook afgehandel word.

Intussen het partye soos die ANC, Good en ActionSA ook Donderdag die aangekondigde verkiesingsdatum verwelkom.

Fikile Mbalula, ANC-verkiesingshoof, het in ’n verklaring gesê dat dit sekerheid meebring. Hy het dit egter duidelik gemaak dat die ANC nie die uitstel van die verkiesing sal ondersteun sonder ’n aanbeveling van die OVK met wetenskaplike bewyse dat dit mense se lewens weens die pandemie in gevaar sal stel nie.

John Steenhuisen, DA-leier, het gesê dit is noodsaaklik dat die plaaslike verkiesing gehou word om die magsbalans terug na landsburgers te swaai wat die afgelope jaar gedwing was om baie van hul duur verworwe demokratiese regte aan die regering te oorhandig.

Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, het gesê die plaaslike verkiesing kan nie gou genoeg aanbreek nie omdat “faksionalisme, korrupsie, onbevoegdheid en leiers wat oor kwalifikasies jok” tot swak dienslewering in dorpe en stede gelei het.

Herman Mashaba, president van die nuwe party ActionSA, het gesê sommige partye wil die verkiesing “ongrondwetlik” laat uitstel omdat hulle weet dat Suid-Afrikaners “genoeg van die gevestigde politieke partye gehad het”.

Meer oor:  Sy Mamabolo  |  Pandemie  |  Plaaslike Verkiesings  |  Ovk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.