Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Verkiesing: Watter steun kan Cyril verwag?


Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Mike Hutchings

Talle kiesers wat tradisioneel nie vir die ANC stem nie, het die laaste ruk laat blyk dat hulle met die komende verkiesing op 8 Mei in die nasionale verkiesing vir die ANC sal stem om pres. Cyril Ramaphosa se hand te sterk. Op provinsiale vlak sal hulle dan eerder vir ander partye stem. Sarel van der Walt het met kenners gepraat om te hoor of dit in die lig van die jongste woelinge rondom Ramaphosa en die ANC sal gebeur en of dit ’n bepalende invloed op die verkiesing sal hê.

Roland Henwood, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sê hy glo nie ’n beduidende getal kiesers sal so stem nie.

“Dit was nie die laaste 25 jaar die patroon in ons verkiesings nie en ek dink ook nie dit sal dié keer verander nie. Ja, daar sal mense wees wat so sal stem, maar dit sal nie in groot getalle gebeur nie.”

Henwood sê hy kry ook die indruk dat mense wat ses maande gelede gesê het hulle sal so stem om Ramaphosa se hand te sterk, dit weens sekere uitsprake van die president en die groot interne probleme in die ANC, nie meer doen nie.

“Daar is egter al hoe meer mense wat skepties is of hy (Ramaphosa) die antwoord vir die land se probleme is. Daar is selfs binne die ANC groot onsekerheid of Ramaphosa die wa deur die drif sal kan trek,” sê hy.

Baie mense het volgens Henwood gehoop Ramaphosa sou van die omstrede besluite wat in 2017 op die ANC se nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg geneem is (soos onteiening sonder vergoeding en die nasionalisering van die Reserwebank), met die verloop van tyd versag. Dit het nie gebeur nie.

Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom, sê daar is veral in die sakewêreld – en ook onder bedryfsleiers in die algemeen – die gevoel dat dit goed sal wees om Ramaphosa te ondersteun om korrupsie ná die verkiesing met hand en tand te beveg.

Verkiesing 2019
Verkiesing 2019

“Provinsiale stemme word egter nie werklik hierdeur geraak nie,” sê Venter.

“Dit wat die afgelope tyd gebeur het, het egter baie mense se mening oor steun aan Ramaphosa verander. Dit is duidelik dat hy ná die verkiesing aan die verlamming onderhewig sal wees wat faksieverskille op ANC-besluitneming sal uitoefen.”

Hy sê Ramaphosa sal ná die verkiesing ’n kabinet saamstel wat die matriks van die ANC sal verteenwoordig.

“Dit beteken hy sal steeds oënskynlik korrupte ministers in sy kabinet behou – bloot omdat die Jacob Zuma/Ace Magashule-faksie in die ANC nog baie invloedryk is.”

Venter sê ’n gebrek aan optrede teen Magashule, sowel as die Eskom-kwessie, het die fokus van Ramaphosa verskuif.

“Wat die kiesers moet onthou, is dat Ramaphosa in die eerste plek die leier van die ANC is. As hy ’n keuse moet maak, sal hy sy party eerste stel.”

Melanie Verwoerd, voormalige ANC-parlementslid en oudambassadeur in Ierland, sê die Eskom-krisis en die ANC se omstrede kandidatelys vir die verkiesing sal baie mense wat dit oorweeg het om op nasionale vlak ANC te stem om Ramaphosa te help laat herbesin.

“Tot onlangs toe het ek by veral sakelui, maar ook onder gewone kiesers, gehoor hulle wil vir die ANC stem omdat ’n groot ANC-meerderheid Ramaphosa baie sal help om sy planne deur te voer.

“Die krisis met Eskom kan baie mense van mening laat verander. As dié krisis nie spoedig opgelos word nie, sal dit die ANC op 8 Mei baie stemme kos,” sê sy.

Verwoerd, wat deesdae as politieke ontleder werk, glo ook die ANC maak ’n groot fout as hy dink wit kiesers sal hom help om die provinsiale verkiesing in Gauteng te wen.

Ralph Mathekga, ook ’n politieke ontleder, sê dit is moeilik om te sien dat mense verskillend op nasionale en provinsiale vlak sal stem.

Ralph Mathekga, ook ’n politieke ontleder, sê dit is moeilik om te sien dat mense verskillend op nasionale en provinsiale vlak sal stem.

“Ek begin dink baie mense glo nie meer Ramaphosa se stories nie. As die kragonderbrekings aanhou, sal dit vir baie mense moeilik wees om Ramaphosa afsonderlik van die ANC te sien,” sê Mathekga.

Dr. Bheki Mngomezulu, politieke ontleder van die Universiteit van KwaZulu-Natal, sê Ramaphosa bevind hom tans tussen die duiwel en die diep blou see.

Hoewel baie mense ontevrede is met wat by Eskom gebeur, is daar talle ANC-ondersteuners wat simpatie met die regering het met dié krisis.

“Vir baie van hulle is die realiteit dat die ANC in 1994 Eskom oorgeneem het toe hy net krag aan ’n sekere deel van die bevolking gelewer het. Eskom het sedertdien landwyd die kragnetwerk uitgebrei wat baie geld gekos het en baie ANC-ondersteuners sien dit as die rede waarom Eskom nou finansieel in die knyp is,” sê .

Mngomezulu dink die faksies binne die ANC kan die party duur te staan kom by die stembus.

“Die kandidatelys is ook ’n tameletjie vir Ramaphosa sowel as die ANC. Die ANC is bang hy sal van ondemokratiese optrede beskuldig word as hy kandidate verwyder wat op demokratiese wyse deur die ANC-takke verkies is. Aan die ander kant is daar ongelukkigheid onder baie ANC-lede omdat daar niks gebeur met dié mense wat van ongerymdhede beskuldig word nie.”

Mngomezulu dink die faksies binne die ANC kan die party duur te staan kom by die stembus. Weens die faksies voorsien hy daar kan ANC-ondersteuners wees wat nie vir die ANC sal stem nie.

Prof. Erwin Schwella, ’n Stellenbosse politieke wetenskaplike wat nou aan die Universiteit van Tilburg in Nederland en die Hugenote-kollege in Wellington in die Wes-Kaap verbonde is, sê dit is vir Ramaphosa belangrik om sy eie ondersteuningsbasis met die oog op die verkiesing te behou. Dié steunbasis is vir hom belangriker as ’n groep mense wat om pragmatiese redes vir hom sou stem.

Hy sê Ramaphosa het hom al as ’n staatsman bewys, maar dit is eenmaal so dat staatsmanne geneig is om in verkiesingstyd meer soos politici op te tree – veral in ’n stelsel soos dié in Suid-Afrika waar die kiesers nie die president verkies nie. Die ANC verkies self elke vyf jaar op sy nasionale kongres sy leier vir die volgende vyf jaar.

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.