Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Verligting vir DA in dag van hoogdrama in Tshwane

Die DA veg hand en tand om sy kwynende magsgreep in die Tshwane-metroraad te behou te midde van stappe deur die Gautengse wetgewer om die hoofstad se bestuur onder administrasie te plaas.

In ’n dramatiese wending Vrydag het regter Neil Tuchen in die hooggeregshof in Pretoria aan die DA ’n tussentydse bevel toegestaan om Donderdag se goedgekeurde mosies van wantroue teen Stevens Mokgalapa, burgemeester, en Rachel Mathebe, speaker, ter syde te stel.

“Hangende die afhandeling van dié aansoeke, sal alle resolusies wat op die spesiale Tshwane-raadsvergadering op 5 Desember en die opvolgvergadering daarna goedgekeur is, opgeskort word, insluitende die aanwysing van ’n waarnemende speaker, die aanvaarding van ’n mosie van wantroue in die speaker en haar gevolglike afsetting uit haar amp, die aanvaarding van ’n mosie van wantroue in die burgemeester en sy afsetting uit sy amp,” lui die hofbevel.

Steven Mokgalapa, burgemeester van Tshwane. Foto: Sarel van der Walt

Dit beteken dat sowel Mokgalapa as Mathebe terug is in hul ampte te midde daarvan dat die stad nou onder administrasie geplaas is, glo weens diensleweringsprobleme en finansiële en politieke onstabiliteit.

Dit kom ook nadat die DA se koalisieregering in Johannesburg Woensdag in duie gestort het toe minstens drie van die party se amptelike koalisievennote hul steun geswaai en die ANC-burgemeesterskandidaat, Geoff Makhubo, gesteun het.

’n Dag later het die ANC en die EFF kragte saamgesnoer om met wantrouemosies vir Mokgalapa en Mathebe uit die kussings te lig, wat deur Vrydag se hofuitspraak tydelik ongedaan gemaak is.

Om sake verder te kompliseer het Lebogang Maile, LUR vir menslike nedersettings en samewerkende regering, Vrydag aangekondig dat die provinsiale regering geen ander keuse het nie as om in te gryp en die hoofstad onder administrasie te plaas.

“Gegrond op die wesenlike feite . . . het die Gautengse uitvoerende komitee geen ander keuse as om . . . die Grondwet . . . in te span en gepaste stappe te doen om die kapasiteit van die stad Tshwane te versterk om die grondwetlike oogmerke van plaaslike regering doeltreffend uit te voer nie,” het Maile gesê.

Die DA het egter onderneem om dié stap te beveg.

“Dié stap deur die LUR is sowel prosedureel as grondwetlik verkeerd. Daar is geen kennisgewing bedien met redes waarom Tshwane onder administrasie geplaas moet word nie. Die stad is nie die kans gegun om te reageer nie aangesien so ’n reaksie voor die metroraad moes dien,” het Solly Msimanga, die DA se koukusleier in die Gautengse wetgewer, gesê.

“Die DA ondersoek sy regsopsies en ander meganismes in die verband hiermee om te verseker dat Maile persoonlik verantwoordbaar gehou word vir sy verregaande magsmisbruik.”

Die Tshwane-metro het Vrydag in ’n verklaring gesê hy verwelkom die hofbeslissing.

“Dit is duidelik dat die ANC en die EFF vasbeslote is om te verseker dat die DA-geleide administrasie geskend word deur chaos wat deur hulle veroorsaak is.”

Dit is duidelik dat die ANC en die EFF vasbeslote is om te verseker dat die DA-geleide administrasie geskend word deur chaos wat deur hulle veroorsaak is.

Dr. Kgosi Maepa, ANC-streekleier, het die tussentydse hofbevel as ’n “tydelike opwinding” vir die DA beskryf.

“Waar is die wenner, waaroor is die vieringe, want die saak gaan op 17 Desember aangehoor word,” het hy gesê.

Mandisa Mashego, Gautengse leier van die EFF, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Ondertussen is die ANC en die EFF gewikkel in gesprekke om te besluit watter een van die twee partye die stad se burgemeesterstoel sal inneem indien Mokgalapa wel uiteindelik verwyder word.

Julius Malema, leier van die EFF, het Donderdag gesê hy is vol vertroue dat die ANC hom by die EFF sal skaar in die geval ’n burgemeestersverkiesing.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het ook bevestig dat gesprekke aan die gang is.

Dr. Piet Croucamp, ’n politieke ontleder, meen ’n vars verkiesing moet in die metro gehou word om politieke stabiliteit te verseker.

“Die beste ding wat die provinsiale wetgewer kan doen, is om te vra vir ’n nuwe verkiesing sodat ’n party ’n duidelike meerderheid kan kry. Die metro sal waarskynlik onstabiel bly tot die 2021- munisipale verkiesing, so die beste ding om te doen is om ’n nuwe verkiesing uit te roep,” sê hy.

Die beste ding wat die provinsiale wetgewer kan doen, is om te vra vir ’n nuwe verkiesing sodat ’n party ’n duidelike meerderheid kan kry.

Wat beteken dit om ’n munisipaliteit onder administrasie te plaas?

Art. 139 van die Grondwet laat provinsiale ingryping in plaaslike regering toe wanneer die munisipaliteit in gebreke bly om sy verpligtinge ingevolge die Grondwet na te kom.

Dit beteken daar sal geen uitvoerende poste in die munisipaliteit wees nie en dat ’n administrateur aangewys sal word om die dag-tot-dag-bestuur van die munisipaliteit te behartig.

Meer oor:  Tshwane-Metro  |  Da  |  Stevens Mokgalapa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.