Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Vermorsing’ om ampshuise vir R175 m. op te knap

Om R175 miljoen in een boekjaar net vir die opknapping en instandhouding van ministers en LP’s se ampshuise in Kaapstad en Pretoria toe te ken, is “onnodig” en ’n “vermorsing van belastingbetalersgeld”, meen die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa).

Wayne DuvenageFoto: CITY PRESS

Wayne Duvenage, Outa-voorsitter, het dít Sondag gesê nadat die Sunday Times berig het dat pres. Cyril Ramaphosa se administrasie in die 2019-’20-boekjaar byna R750 miljoen in totaal gaan bestee aan opknappings- en instandhoudingswerk van ampshuise, sowel as aan ander regeringsgeboue soos die parlement en die Uniegebou.

Die koerant se berig is gegrond op ’n parlementêre antwoord van Thulas Nxesi, minister van openbare werke, wat Vrydag deur die parlement uitgereik is.

Dit was in antwoord op ’n parlementêre vraag van Dennis Ryder, ’n DA-LP, wat by Nxesi wou weet hoeveel geld daar in die huidige boekjaar toegeken is vir herstelwerk, verbeterings en instandhouding van ministeriële huise, LP’s se huise in parlementêre dorpies, die parlement en ander bates in die departement se prestige-portefeulje.

Nxesi het in sy parlementêre antwoord gesê sowat R175,7 miljoen is toegeken vir die opknapping en instandhouding van die ampshuise, R273,2 miljoen vir die parlement en ’n verdere R284,5 miljoen vir alle ander eiendomme in die prestige-portefeulje.

Vroeër is ook berig hoe openbare werke ook sowat R103 miljoen oor twee jaar bestee het om ’n woonstelkompleks met 29 woonstelle in Rosebank, Kaapstad, op te knap wat hoogs betaalde ministers, adjunkministers en direkteurs-generaal vir onderskeidelik R1 200, R988 en R75 per maand kan huur.

ampswoning, stoets, bloulig
Cyril Ramaphosa se motorstoet kom by die president se ampswoning in Pretoria aan. Foto: Deaan Vivier

LP’s in die parlement was verlede jaar ook stomgeslaan toe hulle hoor dat die departement oor twee jaar sowat R43 miljoen aan een maatskappy betaal het net om 67 ministeriële huise in Kaapstad in stand te hou.

Dít nadat dit ook aan die lig gekom het dat die departement byna R500 000 bestee het om braaiplekke by drie ministers se ampswonings te bou en ook miljoene rande bestee het om luukse huise vir ministers te koop, waarvan baie leeg staan.

Thulas Nxesi
Thulas Nxesi Foto: Daily Sun

Van die beplande besteding vir die huidige boekjaar wat Nxesi in sy parlementêre antwoord van Vrydag uitgestippel het, is onder meer R116 miljoen vir ’n geïntegreerde fasiliteitbestuurskontrak vir die ampshuise in Kaapstad en sowat R1 miljoen vir die opknapping van die kombuis en badkamer in ’n ministeriële huis.

By die parlement word ook tientalle opknappingsprojekte beplan, terwyl daar ook spesifiek R2,9 miljoen opsygesit is vir konsultante om die verskaffing van bykomende bystand/noodkragtoevoer te ondersoek.

’n Verdere R5,7 miljoen is toegeken om die matte op die grondvloer van die Uniegebou te vervang.

Dan word daar R65,2 miljoen begroot vir die opknapping van bestaande paaie aan die westekant van die Bryntirion- ministeriële landgoed in Pretoria en die Eastwoodstraat-toegangspaaie.

’n Verdere R29,6 miljoen is toegeken vir die bou van twee hekke en ’n honde-eenheid op dié landgoed, sowel as ’n verdere R29,7 miljoen vir die bou van ’n “bevelsentrum”.

Duvenage het gesê wat die beplande spandering nog verder onnodig maak, is omdat Suid-Afrika tans nie die geld het om dit te kan finansier nie.

“Daarom moet die regering se besteding in hierdie swak ekonomiese tye streng beheer word. Hierdie tipe besteding herinner sterk aan die soortgelyke onreëlmatige en vermorste uitgawes wat ons as ’n land die afgelope paar jare beleef het. Dit is onaanvaarbaar en dit moet herbekyk word,” het Duvenhage gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.