Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Verskeie Vrystaatse munisipaliteite kry hulp

Reddingsboeie moes op die nippertjie na verskeie Vrystaatse munisipaliteite uitgegooi word wat kniediep in die geldelike moeilikheid is en wat nié meer salarisse vandeesmaand kon betaal nie.

Dit wyl hulle gesamentlik vir Eskom meer as R8 miljard en vir water meer as R10 miljard skuld.

Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier Dinsdag op die ANC-beraad in Bloemfontein. Foto: Marietjie Gericke

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het op die ANC-beraad in Bloemfontein bevestig dat sy van drie of vier Vrystaatse munisipaliteite weet, waarvan Maluti-A-Phofung (Harrismith, Kestell en Qwaqwa), een is. Hy kon wel later Dinsdag salarisse betaal nadat die Vrystaatse provinsiale regering ingegryp het.

’n Ander Vrystaatse munisipaliteit wat ook onder art. 139 administrasie is, Mafube (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling) moet deurentyd deur die regering vir salarisse gesubsidieer word.

In Maluti-A-Phofung én Mafube het die balju al verskeie kere toegeslaan.

Nog ’n munisipaliteit wat vandeesmaand gesukkel het om salarisse te betaal, was volgens Ntombela, Moqhaka (Kroonstad).

Sy het gesê dit is nie waar dat Matjhabeng (Welkom, Goudvelde) ook nie salarisse kon betaal nie. “Hulle kan nog dié maand betaal.”

Sy het gesê sy sal binne vyf minute met die lys kom van die munisipaliteite wat nie salarisse kan betaal nie, maar het die res van die dag vir Volksblad gesystap.

“Munisipaliteite moet weet hulle sal self inkomstebronne in die toekoms moet versterk.”

Sy het gesê sy het slapelose nagte oor die Vrystaat.

“Hier bly 2,9 miljoen mense, waarvan 1,1 miljoen jeugdiges is waarvan 38% nie werk het nie.”

Ntombela het gesê sy het Woensdagaand ’n geselligheid by haar “withuis” waarheen sy 20 na 30 sakemense van die private sektor uitgenooi het om haar te help planne maak.

“Ons moet die mynbou aan die gang kry en die geplunder van die zama-zamas stopsit. Myne moet werk vir jongmense gee.”

Sy het gesê daar is ook op die beraad besluit dat alle klinieke, hospitale, skole en ander staatsgeboue voortaan deur plaaslike kontrakteurs gebou sal word.

“Daar is ook kommersiële wit plaasboere wat bereid is om van ons jong mense in diens te neem. Die Vrystaatse landbou is geweldig belangrik.”

Sy het ook gesê inwoners moet besef dat hulle nie in die Vrystaat elektrisiteit gratis kan kry nie omdat Vrystaatse munisipaliteite vir Eskom meer as R8 miljard skuld. Maluti-A-Phofung alleen skuld vir Eskom R3,2 miljard.

Sy het gesê Mokete Duma, die departementshoof van Cogta (departement van samewerkende regering en tradisionele sake) is besig om te kyk of munisipale bestuurders, direkteurs en ander hooggeplaastes nie te hoë salarisse vir hul posvlakke kry nie.

“Onvoltooide huise en skole moet klaar gebou word en townships skoongemaak word.”

Sy het gesê pres. Cyril Ramaphosa het dit duidelik gestel “dat almal wat in die Vrystaat hulp nodig het, hulp moet kry.”

Bhekumzi Stofile, provinsiale sekretaris van die SAKP, het gesê die SAKP vergader die naweek om planne te beraam om die ANC in 15 wyke in ’n munisipale tussenverkiesing in Maluti-A-Phofung te opponeer waar die ANC die raadslede afgedank het.

“Dit gaan vir ons oor menseregte. In Jagersfontein en Qwaqwa is daar nie water nie.”

Sam Mashinini, voorsitter van die Vrystaatse ANC, het gesê as koppe bymekaar gesit word op die ANC-beraad, sal saam planne beraam kan word om geld vir salarisse by munisipaliteite te kry.

*Leona Kleynhans, DA-lid van die Vrystaatse wetgewer, het by navraag gesê Maluti-A-Phofung-munisipaliteit “is ’n katastrofe.”

“16 raadslede is in die munisipaliteit deur die ANC afgedank en die hof kon hulle nie red nie. 15 is wyksraadslede en een ’n proporsionele raadslid.

“Verder het die balju al die munisipaliteit se meubels, rekenaars en voertuie opgelaai om vir Eskom te kan betaal. Na onderhandelings is van die goed teruggebring.”

Kleynhans sê die munisipale betaalkoers by Maluti-A-Phofung was in Desember net 11,4% en sy vermoed dit is nou minder as 2%.

“Ons het vir die nasionale ministers van Cogta en vir finansies oor Maluti-A-Phofung geskryf.”

Meer oor:  Vrystaat  |  Salarisse  |  Geldknyp  |  Reddingsboeie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.