Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vervul jou patriotiese plig; kry die inenting – Cyril

Deur jouself in te ent, beskerm mense nie net hulself nie, maar vervul hulle ook hul patriotiese plig teenoor die land en sy medeburgers.

Dit was Maandag die boodskap van pres. Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Gallo Images

Meer as 7,5 miljoen dosisse entstof is reeds toegedien met sowat 3 miljoen mense wat ten volle ingeënt is. Daar is landwyd sowat 3 000 inentingsentrums met ’n gemiddeld van 220 000 inentings wat per dag toegedien word.

Ramaphosa, wat verlede week besoek afgelê het by ’n inentingsentrum in Tembisa en Midrand, het die gesondheidswerkers in die voorste linie bedank.

“Terwyl ons volstoom werk om soveel mense as moontlik aan die einde van jaar in te ent, salueer ons die amptenare, gesondheidsorgwerkers en personeel van die inentingsentrums wat onverpoos werk om die nasionale poging te ondersteun.”

Ramaphosa sê dit is bemoedigend dat soveel Suid-Afrikaners ingeënt wil word. Hy het dit weer benadruk dat entstowwe veilig is.

“Volgens die jongste Nids-Cram-navorsing is daar meer mense wat ingeënt wil word, terwyl een uit elke tien mense beweer die entstowwe is onveilig. Ek wil vir almal sê dit is nie nodig om bang te wees nie. Die entstof is veilig en dit help ons. Dit is ons beste beskerming teen hierdie siekte en die nasionale inentingsprogram is ons grootste waarborg vir vinnige herstel op ’n ekonomiese en gesondheidsvlak.”

Hy moedig Suid-Afrikaners ook aan om na die Wêreldgesondheidsorganisasie en die land se gesondheidsdepartement se raad oor entstowwe te luister.

“Ons moet die misleidende inligting en fopnuus ignoreer wat versprei word om verwarring te veroorsaak.”

Volgens Ramaphosa sal die pas van inentings in die komende weke aansienlik toeneem danksy meer entstofdosisse wat die land se inentingsprogram gaan aanhelp.

Byna 1,5 miljoen J&J-enkeldosisentstowwe is die afgelope paar dae aan die gesondheidsdepartement oorhandig. Die naweek het die eerste besending van ’n VSA-skenking van 5,66 miljoen Pfizer-dosisse in die land aangekom. Dit vorm deel van Amerika se skenking wat aan Afrikalande en ander lande beloof is.

Ons moet die misleidende inligting en fopnuus ignoreer wat versprei word om verwarring te veroorsaak.

Ramaphosa sê die land maak ook geskiedenis.

“Die eerste Covid-19-entstowwe wat in Afrika, vir Afrika, vervaardig is, is verlede week deur Aspen Pharmacare uit sy vervaardigingsaanleg in Gqeberha (Port Elizabeth) beskikbaar gestel. Hierdie entstowwe sal aan die res van die vasteland beskikbaar gestel word. Danksy die pogings van almal wat hierby betrokke is, het ons voorraad om ons bevolking in te ent.”

Ramaphosa benadruk die grootste helde is verreweg Suid-Afrikaners, wat hom ontsaglik beïndruk met hul veerkragtigheid en onwrikbaarheid.

“Oor die afgelope 18 maande het ons ’n dodelike pandemie en ernstige ekonomiese en sosiale teëspoed beleef, asook die onlangse ernstige onrus wat aangevuur is deur diegene wat wil sien dat ons land misluk. Om lewens te red, moet ons voortaan saamwerk in belang van die gesondheid en die welvaart van ons land. Op hierdie manier kan ons die herstel van die land verseker.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.