Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Verwoerd sou trots gewees het op ANC, sê ekonoom

Dr. H.F. Verwoerd sou trots gewees het op die ANC se huidige obsessie met rasseklassifikasie in Suid-Afrika.

Só het dr. Roelof Botha, ekonoom en dosent aan die Universiteit van Pretoria se Gordon Institute of Business Science (Gibs), Vrydag op ’n paneelbespreking by die jaarlikse konferensie van die FW de Klerk-stigting in Kaapstad gesê.

Dr. Roelof Botha

Dit was in antwoord op ’n vraag oor of die regering sy huidige beleid oor regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) moet hersien.

Volgens Botha moet daar eerder terugbeweeg word na die visie van ’n inklusiewe Suid-Afrika wat destyds deel van oudpress. Nelson Mandela en FW de Klerk se grondwetlike onderhandelings was.

“Ek meen Verwoerd sou trots gewees het op die huidige obsessie met rasseklassifikasie wat die ANC tans in die land het. Dit maak nie regtig saak of Rosko Specman of Werner Kok die drie gedruk het nie, solank die Blitsbokke gewen het.

“Ons moet almal in daardie rigting begin beweeg. Ons is almal Suid-Afrikaners. Ons leef hier en wil dit ’n beter plek maak. Stop om navrae te doen oor wie de hel jy is en waarvandaan jy kom en hoeveel gemengde bloed jy het. Ek kan tegnies kwalifiseer vir ’n RA-pos.”

Botha het bygevoeg die groot probleem waarmee die land tans sit, is die oorweldigende meerderheid werkloses wat tot ’n groot mate nie in ’n moderne ekonomie in diens geneem kan word nie, omdat hulle funksioneel ongeletterd is en nie kan lees, skryf of tel nie.

Die enigste ding wat uiteindelik gedoen kan word, is om soos in Brasilië ’n basiese inkomstetoelae in te stel. “Ek is ’n groot voorstaander daarvan en glo die huidige kindertoelae kan in dit omskep word.”

Dit is die enige maniere hoe die ekonomie volgens hom op lang termyn aangehelp kan word omdat mense dan geld sal hê om te bestee, wat die ekonomie kan laat groei om meer werksgeleenthede te skep.

Prof. Haroon Bhorat, direkteur van die Universiteit van Kaapstad se Ontwikkelingsbeleid-navorsingseenheid, het op die paneelbespreking gesê SEB kan ’n goeie beleid wees “as dit reg geïmplementeer word”.

Hy het ’n voorbeeld genoem van hoe staatskontrakte vir die was van beddegoed van  hospitale in KwaZulu-Natal aan ’n groot maatskappy toegeken word pleks van aan gewone, arm mense in daardie omgewings.

“Wat dus gebeur, is dat ons deur die staat se verkrygingsprosesse staatsgeld aan rykes oordra. Dit is waar dit skeefloop, omdat diegene met politieke bande, wat reeds ryk is en goed opgevoed is, deur SEB-beleid staatskontrakte kry.”

Om dit reg te stel, moet wetgewing ingestel word wat dit volgens Bhorat duidelik uitstippel dat rstaatskontrakte sover moontlik nie aan groot maatskappye toegeken moet word nie, sodat klein, swart ondernemings eerder daardeur bemagtig kan word.

Meer oor:  Kaapstad  |  Ras  |  Regstellende Aksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.