Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Verwyder OB, sê Casac en DA ná verdoemende verslag

Verwyder adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), so gou moontlik uit haar amp.

Dít was Maandag die versoek van die Grondwetwaghondorganisasie Casac én die DA in reaksie op ’n verdoemende verslag van ’n onafhanklike paneel wat bevind het dat daar prima facie-bewyse bestaan dat Mkhwebane haar aan wangedrag én “volgehoue” onbevoegdheid skuldig gemaak het.

Dié verslag baan nou die weg vir ’n amptelike parlementêre proses om Mkhwebane te verwyder.

Dié paneel – bestaande uit oudregter van die konstitusionele hof Bess Nkabinde, adv. Dumisa Ntsebeza SC en Johan de Waal SC – se verslag is Maandag deur Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), openbaar gemaak.

Die paneel het in hul bevindinge oor wangedrag deur Mkhwebane onder meer bevind dat “elke individuele geval op sigself tot prima facie-bewyse aanleiding kan gee van opsetlike of growwe nalatige versuim om aan die standaard van die verwagting van ’n bekleër van ’n openbare amp te voldoen, maar dat die drempel beslis oorgesteek word wanneer die gevalle saam met nog ’n geval of gevalle beoordeel word”.

Van die voorvalle wat hulle noem, is onder meer die OB se Reserwebank/Absa/CIEX-ondersoek waarin sy  “misluk het om te onthul dat sy ’n vergadering met oudpres. Jacob Zuma en die staatsveiligheidsagentskap gehad het”.

Haar Vrede/Estina-suiwelprojekondersoek kom ook onder die loep omdat sy onder meer “die finale verslag gewysig en die geïmpliseerde (Vrystaatse) premier (toe nog Ace Magashule, tans ANC-sekretaris-generaal) die diskresie gegee het om te bepaal wie die oortreders was”. Sy het by hierdie aangeleentheid ook ’n “onware verduideliking” aan ’n hersieningshof gegee oor waarom sy die verwysing van die aangeleentheid na die spesiale ondersoekeenheid en die ouditeur-generaal uit die finale verslag verwyder het.

Mkhwebane word verder erg gekritiseer oor haar ondersoek na pres. Cyril Ramaphosa se sogenaamde CR17-veldtog om in 2017 die ANC-president te word.

Haar “klaarblyklike verkeerde bevindinge oor geldwassery in die CR17-aangeleentheid én haar onverklaarbare twyfel in die bona fides van die president (Ramaphosa) kom na ons mening ook neer op prima facie-bewyse van onbevoegdheid”.

Intussen het Natasha Mazzone, DA-hoofsweep wat Modise verlede jaar namens haar party amptelik versoek het om die parlementêre verwyderingsproses teen Mkhwebane in te stel, die bevindinge Maandag verwelkom. Sy het bygevoeg dat verskeie verdoemende hofbevele Mkhwebane se geskiktheid, onafhanklikheid en geloofwaardigheid verder in twyfel getrek het.

Die DA glo dit is uiters belangrik dat Mkhwebane as OB verwyder word om te “verseker dat die OB-kantoor weer die belange van kwesbares bo dié van diegene met politieke bande beskerm”.

Lawson Naidoo, uitvoerende sekretaris van Casac, het Maandag die parlement versoek om die verwyderingsproses so spoedig moontlik teen Mkhwebane te begin.

Oupa Segalwe, OB-woordvoerder, het nie ten tyde van publikasie Maandag op versoeke vir kommentaar gereageer nie.

Mkhwebane is tot 31 Maart vanjaar op “Sabbatsverlof om te rus”.

Dit dui op ’n onvermoë om uit foute te leer deur ’n meer versigtige benadering aan te neem.

Die klagte teen haar wat die paneel ondersoek het, spruit hoofsaaklik uit haar ondersoeke en hofuitsprake oor onder meer die Reserwebank/Absa/CIEX-sage, die Vrede/Estina-suiwelplaas, die CR17-veldtog, oudpres. Jacob Zuma se belastingsake en die sogenaamde geheime eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Die paneel het dit duidelik gemaak dat kommer van ’n “baie hoë graad van onbevoegdheid” in verskeie hofuitsprake teen Mkhwebane uitgespreek is.

Onder die voorbeelde van onbevoegdheid is die “mees skreiende” waar sy haar magte oorskry het deur die parlement opdrag te gee om die Grondwet te wysig. Nog bewyse daarvan is haar herhaaldelike regsfoute, die verkeerde ontleding van feite en die gebrek aan vaardigheid of haar onvermoë om haar werk doeltreffend te doen.

“Dit dui op ’n onvermoë om uit foute te leer deur ’n meer versigtige benadering aan te neem.”

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het Maandag gesê die verslag sal binnekort vir goedkeuring aan die NV voorgelê word. Indien dit goedgekeur word, sal dit na ’n spesiale parlementêre komitee verwys word wat Mkhwebane dan amptelik sal ondersoek.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Ob  |  Casac  |  Openbare Beskermer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.