Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Verwyder Zille uit amp, eis Cosatu
Helen Zille Foto: Denzil Maregele

Helen Zille moet weens haar omstrede twiets waarmee sy kolonialisme glo verdedig het, uit haar amp as premier van die Wes-Kaap verwyder word.

Dít gaan op 1 Mei een van Cosatu se hoofeise wees wanneer dié vakbondfederasie die Wes-Kaapse been van sy landwye Werkersdag-optog in Kaapstad hou.

Cosatu gaan in dieselfde optog ook weer eis dat pres. Jacob Zuma weens sy swak leierskap van die ANC en die land uit sy amp verwyder word.

Daar sal in die optog ook geëis word dat daar opgetree word teen uitvoerende hoofde van maatskappye wat by samespanning betrokke is, “omdat hulle van die armes steel deur middel van prysvasstellings op brood en hoender”.

Dié oproep vir Zille se verwydering sal volgens Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse sekretaris van Cosatu, ook fokus op die “vlugteling”-uitlatings wat Zille vroeër – in verwysing na mense wat uit die Oos-Kaap na die Wes-Kaap migreer – gemaak het.

Ehrenreich sê dat Zille ook alles moontlik doen om Kaapstad en die Wes-Kaap ’n “wit voorkeurgebied” te hou.

Verder beskuldig hy Zille van “subtiele rassisme” omdat sy glo “net wit mense as konsultante in haar administrasie aanstel, meer geld op wit skole bestee sodat wit leerlinge beter vooruitsigte as swart leerling kan hê, terwyl sy verseker dat die wit gebiede beter dienslewering as die swart gebiede kry”.

“Ons wil in (die Werkersdag-)optog die hipokriete blootlê wat beweer dat hulle vir die toekoms van die land optogte, soos onlangs met die sogenaamde Zuma-moet-val-optogte, sal hou as dit by Zuma se oortredings kom, maar nie teen oortredings deur Zille en uitvoerende hoofde van korrupte maatskappye nie.

Hulle is net daarop uit om die demokratiese projek te vernietig wat gesteelde apartheidsgeld na die massas van Suid-Afrika wil herversprei
Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse sekretaris van Cosatu
Tony Ehrenreich, leier van Cosatu in die Wes-Kaap

“Hulle is net daarop uit om die demokratiese projek te vernietig wat gesteelde apartheidsgeld na die massas van Suid-Afrika wil herversprei.”

Ehrenreich sê dat Cosatu gedurende die optog die kwessies van werkers en die armes op die agenda wil plaas sodat daar dringend aandag daaraan gegee kan word.

“Van die mense wat deesdae aan optogte deelneem, het dit nooit teen rassisme of wit korrupsie gedoen of oproer gemaak vir groter gelykheid en regverdigheid in die land nie.

“Hulle gee voor dat hulle namens alle Suid-Afrikaners praat, terwyl hulle dit net doen vir die instandhouding van hul wit bevoorregting en die swart broers wat hulle deur ekonomiese bemagtiging gekoop het.

“Hulle bots nou met die ander diewe wat saam met (Zuma) van die staat steel.”

Volgens Ehrenreich sal Cosatu ’n optog hou oor dié dinge wat pyn en onregverdigheid veroorsaak.

“Ons kies en keur nie watter ongeregtighede ons pas nie.”

Cosatu nooi almal uit om aan die optog deel te neem.

* Die DA het intussen besluit om Zille formeel weens die twiets oor kolonialisme aan te kla. Daar word net op geskikte datums in die aangeleentheid gewag.

Meer oor:  Kolonialisme  |  Verwyder  |  Cosatu  |  Zille  |  Eis  |  Uit  |  Twiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.