Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
VF-leier kap Cyril oor Driehoek-tragedie

Dit is jammer dat pres. Cyril Ramaphosa nie Donderdagaand tyd in sy staatsrede kon vind om te simpatiseer met die ouers en gemeenskap van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark waar vier leerlinge verlede Vrydag gesterf het nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

In ’n verklaring laat Donderdagaand sê hy die president het simpatie betuig met die families van leerlinge wat tragies in oop skooltoilette verdrink het, asook met die student wat Woensdag in Durban doodgeskiet is.

“Hy kon egter nie enige tyd vind om te simpatiseer met die ouers en gemeenskap van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark nie.”

Groenewald sê die president het in sy twee uur lange toespraak ’n goeie samevatting van die land se probleme gegee sonder om ’n enkele oplossing aan te bied.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. Foto: Argief

Hy het die staatsrede as teleurstellend beskryf.

“Die ANC het oor ’n kwarteeu by herhaling gewys dat hy doodeenvoudig nie die vermoë het om die land se probleme en uitdagings die hoof te bied nie.”

Wat onteiening sonder vergoeding betref, was dit weer op die agenda, maar Ramaphosa het nie enige aanduiding gegee oor hoe dit uitgevoer sal word nie, sê die VP Plus-leier.

Die burgerregte-organisasie AfriForum sê die staatsrede het geen gerusstelling aan buitelandse of plaaslike beleggers gebied nie, maar eerder rede vir groter onsekerheid en kommer.

Deur hardkoppig te volhard met planne vir die implementering van onteiening sonder vergoeding, het die president die waarskuwings van die vernaamste beleggers in Suid-Afrika – die VSA, Brittanje, Duitsland, Nederland en Switserland – geïgnoreer.

'Geen gerusstelling of duidelikheid'

Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, sê in ’n verklaring Ramaphosa ignoreer duidelik die voorbeelde van lande soos Venezuela en Zimbabwe wat die rampspoedige gevolge met soortgelyke programme ervaar.

Sy meen Ramaphosa dobbel met almal se toekoms in die land.

Volgens Bailey het die president in die staatsrede voorgegee dat entrepreneurskap bevorder en ongelykheid omgekeer kan word deur ’n herverdeling van eiendom, maar deur die wêreld heen is telkemale bewys dat die beskerming van privaat eiendomsreg die sleutel tot ekonomiese ontwikkeling bied.

Alana Bailey

“Verder is so min owerheidsregulering as moontlik, asook beleidsekerheid, nodig om die ekonomie te laat groei. Die staatsrede het geen gerusstelling of duidelikheid op dié terreine gebied nie.”

AfriForum sê hy besef dat staatsredes in die maande voor ’n nasionale verkiesing gewoonlik geneig is om kiesers en afvallige partygenote te probeer paai, maar “in die ekonomiese krisistoestand waarin die land tans verkeer, veral wat die skaal van werkloosheid, korrupsie en misdaad betref, is dit teleurstellend dat die president nie sterk leierskap kon toon om van populistiese beloftes van kitsoplossings soos die onteiening van grond sonder vergoeding af te sien nie, maar steeds op hierdie selfvernietigende pad voortstu”.

“Al die mooi beloftes wat president Ramaphosa dus in die staatsrede oor opheffingsprogramme gemaak het, is tot mislukking verdoem, tensy eiendomsregte beskerm word,” sê Bailey. 

Meer oor:  Parlement  |  Kaapstad  |  Staatsrede 2019  |  Ramaphosa  |  Cyril  |  Vryheidsfront Plus  |  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.