Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Virus: Cyril rede vir vertroue in regering – opname

Pres. Cyril Ramaphosa se sterk leierskap sedert die uitbreking van Covid-19 in die land is waarskynlik die rede waarom Suid-Afrikaners nou soveel vertroue in die regering het.

Dit is luidens ’n opname van die navorsingsmaatskappy Ipsos, wat Maandag uitgereik is.

Die opname is tussen 25 en 30 Maart uitgevoer onder Suid-Afrikaners wat by die huis of op hul selfoon toegang het tot die internet. Diegene wat nét internettoegang deur hul werk of in openbare geriewe het, is uitgesluit van die opname.

Dit is deel van navorsing wat gelyktydig in 32 lande gedoen word onder mense van 16 tot 74 jaar oud.

Ses uit elke tien Suid-Afrikaners wat aan die opname deelgeneem het, het aangedui dat hulle vertroue het in die regering se hantering van die pandemie.

’n Voetganger kyk na ’n regstreekse uitsending op TV waarin Shinzo Abe, Japan se premier, ’n noodtoestand in dele van dié land aankondig om die koronavirus te bekamp. Foto: AP

Suid-Afrikaners het ook groot vertroue in die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en in dokters en ander gesondheidsorgwerkers se vermoë om die pandemie te hanteer.

Vertroue in die gereedheid en vermoë om die pandemie doeltreffend te hanteer is op sy laagste teenoor Suid-Afrikaanse ondernemings (52%), die land se plaaslike regerings (50%) en die land se grensbeheer (46%).

Vertroue in plaaslike ondernemings kan volgens die samestellers van die verslag waarskynlik in die toekoms toeneem namate maatskappye meer stappe doen om gemeenskappe te ondersteun.

Wanneer dit internasionaal kom by vertroue in hul regerings om die krisis te hanteer, meet Chinese deelnemers die hoogste (98%), gevolg deur Viëtnam (94%) en Indië (84%). Suid-Afrika staan op 61%.

In die VSA, waar pres. Donald Trump onder hewige kritiek deurloop omdat hy nie betyds maatreëls ingestel het om die virus te bekamp nie, staan die vertroue in die regering op 56%. Die laagste vertrouensvlakke is gemeet in Mexiko (44%), en Japan en Duitsland (albei 49%).

In Japan het die regering Dinsdag ’n noodtoestand afgekondig om die pandemie te beveg.

Respondente is ook gevra om aan te dui op watter skaal hulle meen die pandemie ’n bedreiging inhou vir die wêreld, vir die inwoners van hul land, vir hul plaaslike gemeenskap, gesinne en hulself.

Hier het Suid-Afrikaners in omtrent al die afdelings besonder hoog gemeet, met 94% wat meen Covid-19 bedreig die wêreld, 90% sien dit as ’n bedreiging vir die land, 67% voel hul gemeenskap word bedreig, 53% sien dit as ’n bedreiging vir hul gesin, en 48% voel persoonlik bedreig.

Die twee lande wat in dié opsig die grootste ooreenkoms met Suid-Afrika toon, is Italië (die Europese episentrum van die virus waar meer as 16 000 mense reeds dood is) en Viëtnam.

Respondente is ook gevra om aan te dui hoeveel vertroue hulle het in nuus oor die pandemie wat deur TV-kanale, regerings en plaaslike gesondheidsowerhede verskaf word.

Suid-Afrikaners se vertroue in die akkuraatheid van inligting wat deur die plaaslike gesondheidsowerhede verskaf word, is op 89% gemeet, vertroue in inligting wat direk van die regering kom is 77%, en vertroue in TV-nuus 85%.

Luidens die verslag kan vertroue in TV-nuus toegeskryf word aan die visuele invloed en die onmiddellikheid daarvan. Vertroue in die inligting wat deur die regering verskaf word, word toegeskryf aan Ramaphosa se sterk leierskap, sigbaarheid en deurlopende kommunikasie sedert die ontstaan van die krisis.

Gevra hoe hulle dink die wêreld tydens en ná die pandemie gaan lyk, het 86% van Suid-Afrikaners gemeen groot sportgeleenthede gaan afgestel word; 77% meen mense gaan minder bereid wees om te reis, selfs al word reisbeperkings opgehef; 65% verwag burgerlike onrus in hoërisiko-lande en 46% meen China gaan minder invloed in die wêreld hê.

Meer oor:  Koronavirus  |  Vertroue  |  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Ipsos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.