Covid-19 het Vrydag die sitting van die Zondo-kommissie belemmer toe die laaste getuie in die kommissie se ondersoek na die Estina-projek in die Vrystaat nie kon getuig nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Skermgreep
Seipati Dlamini, eertydse finansiële hoof van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, moes getuig, maar haar regsverteenwoordiger het ’n doktersbrief ingehandig dat sy tot 23 Augustus haarself moet isoleer.
Dlamini, wat in Kroonstad woon, was klaarblyklik op 8 en 9 Augustus by ’n begrafnis. Dit blyk dat sy regstreeks in kontak was met iemand wat intussen positief vir die koronavirus getoets is.
Dlamini is in vroeëre getuienis daarvan beskuldig dat sy betalings vir die Estina-projek afgedwing het, selfs al was daar nie ’n behoorlike tenderproses vir die projek nie.
Dlamini het ook vroeër vanjaar in die landdroshof in Bloemfontein verskyn in verband met ’n ander saak van beweerde bedrog, korrupsie en geldwassery van meer as R244 miljoen by die Vrystaatse departement van landbou.
Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het in antwoord op Dlamini se aansoek gesê daar moet oorweeg word dat mense met ’n videoskakel getuig. Indien Dlamini nie siek voel nie, kan haar regspan haar met ’n skakel soos Zoom konsulteer.
Zondo het gesê regslui het op vlak 5 en vlak 4 van die staat van inperking hul kliënte gekonsulteer deur tegnologie soos Zoom te gebruik. ’n Klomp werk in die kommissie is ook op die manier gedoen.
Hy het gesê Dlamini sal bereid moet wees om in die aand of op ’n Saterdag te getuig. Haar getuienis is die laaste in die kommissie se ondersoek na die Estina-projek en hy wil dit afhandel.

Peggy Mohapi van die Rekgonne Business Community Projects (links), wat as implementeringsagent vir die Vrystaatse provinsiale regering werk, en Seipati Dlamini, voorheen finansiële hoofamptenaar van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, wat beskuldigde nr. 2 was in die eerste ronde inhegtenisnemings weens die omstrede Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat is hier op ’n regeringsontbyt.