Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Virus: Ambassade in China kan SA burgers 'nie help'
wuhan, china
Mense koop Woensdag in Wuhan in China kos. Foto: Reuters

Die Suid-Afrikaanse ambassade in China is “wanfunksioneel” en nie in staat om die Suid-Afrikaanse burgers daar doeltreffend te kan help wat weens die koronavirus daar gestrand is nie, beweer die DA.

Die party het Woensdag gesê dat hy om dié rede aan Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), sal skryf om haar te versoek om leierskap te toon en dringend in te gryp by die “huidige stand van die wanfunksionele ambassade in China”.

Lunga Ngqengelele, Dirco-woordvoerder, sê egter dat die Suid-Afrikaanse ambassades in China die afgelope paar dae weens die Chinese Nuwejaarsvieringe daar gesluit was, maar dat dit van Donderdag af weer oop sal wees om konsulêre dienste aan die Suid-Afrikaanse burgers daar te lewer.

Volgens hom is die grootste probleem tans dat die stad Wuhan, die middelpunt van die uitbreking van die virus, van die buitewêreld afgesny is. Hy sê ’n toegewyde personeellid by die ambassade is egter aangewys om die Suid-Afrikaners daar met enige navrae oor die virus te help.

Darren Bergman, DA-woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, het Woensdag verder in ’n verklaring gesê dat die DA deur DA Abroad, die party se internasionale liggaam, ingelig is dat meer as 100 Suid-Afrikaners tans in Wuhan gestrand is, terwyl die ambassade daar vir die Nuwejaarsvieringe gesluit is.

“Daar is soms nie op oproepe na die 24-uur-Dirco-noodnommer gereageer nie, en waar amptenare wel gereageer het, was die inligting te vaag om rigting aan landsburgers in die streek te kan gee.”

Darren Bergman

Volgens Bergman veroorsaak die gebrek aan ’n Suid-Afrikaanse ambassadeur in China of leierskap vanuit Suid-Afrika ook dat enige hoop verdwyn dat Suid-Afrikaners vir hul veiligheid uit Wuhan verwyder sal word.

Bergman sê die DA is bekommerd dat Suid-Afrikaners daar ook nie na presiese kwarantyn-liggings verwys word nie, en dat inligting nie oor beskikbare vervoer gebied word nie.

“Dirco moet verseker dat sy ambassades in staat is om te kommunikeer en om vrese te besweer deur duidelike en behulpsame kommunikasie en bystand te verseker, soos wat ander lande doen.”

Volgens Bergman is die DA bereid om Dirco hiermee by te staan.

Ngqengelele het bygevoeg dat ’n amptelike Dirco-kennisgewing vroeër die week uitgestuur is waarin Suid-Afrikaners in China ingelig is dat die Suid-Afrikaanse ambassades in Beijing en Sjanghai tot 29 Januarie gesluit sal wees.

Die kennisgewing lui verder dat Suid-Afrikaanse burgers daar egter vir ene “mnr. Makwele” kan bel met enige koronavirus-verwante navrae. Sy nommer word dan ook verskaf.

“Vanaf 30 Januarie kan die ambassade in Beijing of die Sjanghai-kantoor gebel word.

“Suid-Afrikaners wat na China en ander bestemmings in Asië reis, moet internasionale nuusplatforms dophou vir moontlike reisbeperkings wat daar ingestel is, en die relevante buitelandse ambassades in Suid-Afrika kontak vir die jongste inligting oor die stand van sake in die betrokke land,” lui die kennisgewing verder.

Ngqengelele het bygevoeg dat Dirco ook bekommerd is oor die situasie in China wat versleg, maar dat daar met die relevante rolspelers saamgewerk word.

Intussen het dr. Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, Woensdag die gerusstelling van dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, verwelkom dat Suid-Afrika slaggereed is om enige geval van die virus op Suid-Afrikaanse bodem op te spoor en te beheer.

Meer oor:  Naledi Pandor  |  China  |  Wuhan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.