Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Visums: Gigaba demp gou toeriste se geesdrif

As jy gedink het dit is veilig om nou sonder ’n onverkorte geboortesertifikaat vir minderjarige passasiers te reis, dink weer.

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake. Sy aankondiging dui aan dit is status quo vir visumvereistes vir minderjariges. Foto: Adrian de Kock

Die lugdiens Emirates, wat verreweg die meeste internasionale besoekers na Suid-Afrika bring, het aan Rapport bevestig hulle sal steeds vir dié dokumentasie vra “om te voldoen aan die reëls en regulasies” van die land.

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging verlede Vrydag dat visumvereistes vir vlugte na Suid-Afrika verslap gaan word, is entoesiasties verwelkom – totdat Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, die afgelope week besonderhede aangekondig het.

Gigaba het Dinsdag gesê die omstrede regulasie wat vereis dat reisigers ’n onverkorte geboortesertifikaat vir minderjariges by hulle moet hê, sal afgeskaf word vir sekere lande, maar immigrasie-amptenare kan “in uitsonderlike gevalle” daarop aandring, soos gevalle van “hoë risiko”.

Die Raad van Lugdiensverteenwoordigers van Suid-Afrika (Barsa) het ook gewaarsku dat lugdienste gewis sal moet aanhou om hul kliënte te adviseer om dié dokumentasie saam met hulle te dra – anders loop passasiers die gevaar om nie op vlugte na Suid-Afrika toegelaat te word nie.

“Die probleem bly steeds dat die departement vir amptenare die prerogatief of diskresie gee om na goeddunke vir die dokumentasie te vra,” sê June Crawford, Barsa se uitvoerende hoof.

“Ons is nie oortuig dat opleiding enigiets sal doen om die gedrag van sekere van hierdie amptenare te verander nie, en wat Barsa betref, het min. Gigaba se aankondiging niks verander nie.”

Barsa het in 2014, toe die vereistes deur Gigaba aangekondig is, gewaarsku die toerismebedryf kan jaarliks R6,8 miljard verloor.

Redi Tlhabi . . . haar twiet het Gigaba warm onder die kraag.

’n Jaar ná die regulasies in werking getree het, het 6,8% minder toeriste Suid-Afrika besoek.

Die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA) se statistieke het in 2016 aangedui dat 13 246 mense tussen Junie 2015 en Julie 2016 weens die visumvereistes toegang tot Suid-Afrika geweier is – teen ’n verlies van R7,51 miljard se inkomste. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het die aantal besoekers egter met 5,4% in 2016 gegroei en in 2017 met 2%.

Van die visumverslappings is:

* Die moontlike afskaffing van visumvereistes vir Egipte, Marokko, Saoedi-Arabië, Katar, Palestina, Libanon en Belarus.

* Langtermynvisums aan dié wat Suid-Afrika gereeld besoek.

* Die hersiening van die kriteria vir kritieke vaardighede om dit te laat strook met die ekonomiese behoeftes van die land.

* ’n Nuwe biometriese bewegingsbeheersentrum op die Kaapstad- en Lanseria-lughawe om verkeersvloei te verbeter.

* ’n E-visum wat in April 2019 in Nieu-Seeland geloods word.

* E-hekke wat teen 2019 by verskeie Suid-Afrikaanse lughawens in gebruik geneem word.

David Frost, uitvoerende hoof van die Suider-Afrikaanse Toerismediensvereniging (Satsa), sê Gigaba se vae aankondiging ondermyn Ramaphosa se poging om toeriste makliker toegang tot die land te gee. Hy vra ook hoekom daar nie ’n visumkwytskelding vir lande van die Midde-Ooste en Nieu-Seeland is nie. Die besoekerstal uit Nieu-Seeland na Suid-Afrika het met 30% geval sedert die visumvereistes in werking getree het. “Ook sleutelmarkte soos Indië en China bly ingeperk.”

Die departement sê Suid-Afrika en China het ’n ooreenkoms aangegaan wat in Oktober in werking tree wat bepaal Chinese toeriste hoef nie meer in persoon vir ’n visum aansoek te doen nie. Indiese besoekers kan voordeel trek uit langtermynvisums vir burgers van Brics-lande.

Gigaba is kwaai gekap deur die voormalige radio-omroeper Redi Tlhabi, asook die DA, wat sy kop eis. Tlhabi het Gigaba op Twitter daarvan beskuldig dat hy die visumvereistes vir minderjarige kinders gewysig het na aanleiding van ’n vete met sy eksvrou oor reisreëlings vir hul kind.

Gigaba het op ’n amptelike regeringsbriefhoof bekend gemaak hy dagvaar Tlhabi nou weens laster. Gigaba het aangedui hy sal self die regskoste dra, hoewel hy in sy hoedanigheid as minister deur Tlhabi aangevat is.

Meer oor:  Redi Tlhabi  |  Malusi ­Gigaba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.