Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Visumstatus van dié 11 lande heringestel

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het die visumvrye status van 11 lande heringestel hoewel toeriste uit vyf van dié lande, wat as hoë risiko beskou word, Suid-Afrika steeds nie mag besoek nie.

Luidens ’n verklaring deur die departement van binnelandse sake het Motsoaledi ’n vergadering met senior immigrasieamptenare en bestuurders by toegangspunte belê om uitdagings oor die toepassing van die reisregulasies te bespreek.

Vroeër is berig dat ’n vliegtuig van die lugdiens Lufthansa Vrydag van die O.R. Tambo-lughawe moes terugkeer na Duitsland omdat die passasiers glo nie aan die visumvereistes voldoen het nie.

Die visumvrye status van lande soos Duitsland is opgeskort toe die inperking begin het, maar Motsoaledi het besluit om dié status vir die volgende lande weer in te stel:

• Suid-Korea

• Spanje

• Italië

• Duitsland

• Hongkong

• Singapoer

• Amerika

• Brittanje

• Frankryk

• Portugal

• Iran

Die inwoners van lande met hierdie status benodig nie visums om Suid-Afrika te besoek nie.

Luidens die verklaring het Motsoaledi die betrokke amptenare op die vergadering opdrag gegee om die besluit dringend aan die lugvaartbedryf, ambassades en ander belangegroepe oor te dra.

Frankryk, Portugal, Iran, die VSA en Brittanje is egter op die regering se sogenaamde rooilys van hoërisikolande, wat beteken dat toeriste nie met vakansie na Suid-Afrika mag reis nie, maar slegs beleggers en sekere sakelui.

Intussen het die Burgerlugvaartowerheid (BLO) duidelikheid verskaf oor hoe bemanningslede aan die regulasies moet voldoen in ’n kennisgewing wat aan lugdienste gestuur is.

Bemanningslede moet soos toeriste 72 uur voor ’n vlug vertrek ’n koronavirustoets ondergaan en bewys daarvan lewer met hul aankoms as hulle vrylik in Suid-Afrika wil rondbeweeg. As hulle nie ’n toets ondergaan nie, moet hulle in ’n hotel isoleer totdat hulle weer vertrek.

Vroeëre verwarring oor die regulasies rondom bemanningslede het die lugdiens Emirates Saterdag genoop om vlugte van en na Suid-Afrika te kanselleer. Die vlugte is egter hervat nadat die BLO duidelikheid oor die regulasies verskaf het.

Meer oor:  Aaron Motosoaledi  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Amerika  |  Duitsland  |  Brittanje  |  Reisverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.