Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cabo Delago: ‘Vloot kan duideliker prent help skep’

Die Suid-Afrikaanse vloot kan sy betrokkenheid in Mosambiekse waters gebruik om inligting in te samel wat kan help bepaal of daar ’n verband is tussen dit wat op die see gebeur en die bloedige aanvalle in die noordelike Cabo Delgado-provinsie.

Só sê emeritus professor Francois Vrey van die Universiteit Stellenbosch. Hy spesialiseer in maritieme veiligheid.

Pres. Cyril Ramaphosa het die parlement Donderdag ingelig die ontplooiing van 200 Suid-Afrikaanse soldate om seerowery langs die kus van Mosambiek hok te slaan, is met ’n jaar verleng.

Die vloot se ontplooiing langs die Mosambiekse kus is deel van Operasie Copper, wat onder die vaandel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) geïnisieer is om sedert 2011 seerowery langs die besige Mosambiekse kus stop te sit.

Groot hoeveelhede vrag word langs dié kusstrook van en na Suid-Afrika vervoer. Verskeie skepe van die vloot is al sedert 2011 as deel dié operasie betrokke by patrollies in die noordelike waters van Mosambiek.

Die SAS Tafelberg in 2010. Foto: Argief

Weens die geweldpleging deur Islamitiese ekstremiste in Cabo Delgado – wat ryk is aan gas – is daar deesdae al hoe meer internasionale belangstelling in wat in Mosambiek ontvou.

Baie van die opkomende gas-installasies, waarby talle groot internasionale maatskappye betrokke is, is in die see naby die kus, terwyl die gasprodukte by infrastruktuur op die kus gelaai word.

Sedert 2017 het meer as 2 600 mense in meer as 800 aanvalle in dié provinsie gesterf.

Die Amerikaanse weermag het vandeesweek aangekondig sy spesiale magte sal soldate van die Mosambiekse weermag die volgende twee maande oplei om onder andere die Islamitiese militante van Ansar al-Sunna die stryd aan te sê.

Vrey sê die vlootskepe wat die Mosambiekse kus patrolleer, kan die inligting wat op die see ingesamel word ook gebruik om ’n maritieme inligtingsprentjie te skep. Die groot vraag is egter wat hy met dié inligting gaan doen, aangesien die gebeure in Cabo Delgado nog nie deel van sy mandaat is nie.

As daar ’n ooreenkoms is, sal dit klandestien wees, of andersyds met groot fanfare aangekondig word as deel van samewerking tussen SAOG-lande of as deel van ’n bilaterale ooreenkoms (tussen Suid-Afrika en Mosambiek).

Sover bekend is daar nog geen amptelike ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Mosambiek om Suid-Afrikaanse soldate op die grond in Mosambiek te ontplooi of by die stryd teen die militante betrokke te raak nie.

“As daar ’n ooreenkoms is, sal dit klandestien wees, of andersyds met groot fanfare aangekondig word as deel van samewerking tussen SAOG-lande of as deel van ’n bilaterale ooreenkoms (tussen Suid-Afrika en Mosambiek),” sê Vrey.

Die SAOG is nog baie traag oor wat hy gaan doen om Mosambiek met die probleme in Cabo Delgado by te staan.

Hoewel Operasie Copper hoofsaaklik op die bestryding van seerowery toegespits is, kan die vloot kragtens die ooreenkoms van samewerking ook inligtingsprente bou oor ander bedreigings, soos smokkel- en mensehandel, die vervoer van dwelms, ensovoorts, wat glo verbind kan word met dit wat in Cabo Delagado aan die gang is.

“Enige militêre optredes is steeds nie deel van die reaksieketting nie.”

Omdat ’n ontplooiing soos Operasie Copper nie onbepaald kan voortduur nie, moet dit kragtens wetgewing verkieslik elke jaar amptelik goedgekeur word, sê Vrey.

Sowat R38 miljoen is vir die volgende jaar se ontplooiing begroot, het Ramaphosa aan die parlement gesê.

Vrey sê die beweerde 200 soldate wat ter see langs die Mosambiekse kus ontplooi is, bestaan nie net uit lede van die vloot nie. Mediese personeel en lugbemanning kan ook deel uitmaak daarvan.

Dit is nie altyd die geval nie, maar dit kan wees dat daar ook soldate van die spesiale magte teenwoordig kan wees.

Indien vlootskepe soos die SAS Drakensberg en fregatte gebruik word waarop helikopters kan land, sal helikopters ook kan deel uitmaak van die ontplooiing.

Meer oor:  Mosambiek  |  Aanvalle  |  Vloot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.