Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘VN en AU saam maak groot vordering in Afrika’ – Cyril

Die Verenigde Nasies (VN) en die Afrika-Unie (AU) het die laaste paar jaar deur samewerking groot vordering gemaak in die soeke na vrede op die Afrika-vasteland.

Só het pres. Cyril Ramaphosa Vrydag op ’n aanlyn vergadering van die veiligheidsraad van die VN en die AU gesê.

Suid-Afrika is tans voorsitter van beide die VN-veiligheidsraad en die AU.

“Oor die laaste dekade het die VN en die AU se verhouding versterk met ooreenkomste oor vrede en sekuriteit, ontwikkeling en die uitbou van kapasiteit,” het Ramaphosa gesê.

António Guterres, sekretaris-generaal van die VN, het ook aan die vergadering deelgeneem.

Pres. Cyril Ramaphosa (links op die tweede ry van onder) Vrydag op ’n aanlyn vergadering van die veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) en die Afrika-Unie (AU). Tweede van links in die onderste ry is António Guterres, sekretaris-generaal van die VN. Foto: Presidensie

“Ons het beduidende vordering gemaak deur belangwekkende vredesooreenkomste in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Suid-Soedan, Soedan en onlangs ook in Libië,” het Ramaphosa gesê.

“Die samewerking tussen die VN en AU moet buigsaam en strategies wees om die al hoe groter wordende gevaar van terrorisme, misdaad oor landsgrense heen, die onwettige uitbuit van Afrika se natuurlike hulpbronne en die onwettige uitvloei van kapitaal te stuit.”

Die AU erken die verband tussen vryheid en ontwikkeling, het hy gesê.

Dit is belangrik dat die AU die leiding neem om konflik op die vasteland te beëindig, maar dit moet met die steun en finansiële hulp van die VN-veiligheidsraad geskied.

Dit bly die AU se doelwit om gewelddadige konflik op die vasteland te beëindig.

Ramaphosa het ’n beroep op die VN-lidlande en ander internasionale rolspelers gedoen om aan te hou om die AU se missie in Somalië te steun om stabiliteit en vrede in dié land te bewerkstellig.

Hy het egter nie spesifiek verwys na die bedreiging wat Islamitiese militantes vir die noordelike Cabo Delgado-provinsie in Mosambiek inhou, die konflik in die Demokratiese Republiek van die Kongo of Ethiopië nie.

“Deur samewerking is dit belangrik dat ons die oorsaak van konflik in Afrika takel, insluitende ontwikkelings- en regeringskwessies.

“Ons moet na alle faktore kyk wat ’n voorspoedige Afrika bedreig,” het die Suid-Afrikaanse staatshoof gesê.

Suid-Afrika se termyn as voorsitter en lid van die VN-veiligheidsraad eindig op 31 Desember en sy voorsitterskap van die AU vroeg in die nuwe jaar.

Meer oor:  Afrika-Unie  |  Cyril Ramaphosa  |  Verenigde Nasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.