Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
VN-resolusie oor apartheid ná 55 jaar deur kabinet goedgekeur

Altesaam 55 jaar nadat die Verenigde Nasies (VN) apartheid as ’n misdaad teen die mensdom verklaar het, het die kabinet vandeesweek besluit om dié wêreldliggaam se konvensie oor die verwydering van alle vorme van rassediskriminasie (Icerd) te aanvaar.

’n Kennisgewingbord in die dae van apartheid. Foto: Argief

Dit volg net ’n jaar nadat Julius Malema, die EFF-leier, met verlede jaar se parlementsopening geëis het dat oudpres. FW de Klerk die parlement moet verlaat omdat hy vroeër ontken het apartheid was ’n misdaad teen die mensdom.

Khumbuzo Ntshaveni, waarnemende minister in die presidensie, het Vrydag in Pretoria op ’n mediakonferensie gesê die kabinet het die besluit geneem om die konvensie te aanvaar op grond van ’n vorige besluit wat in 1994 al geneem is maar eers in 1998 goedgekeur is.

Die regering het hom destyds verbind tot die verwydering van alle vorme van rassediskriminasie.

Emeritusprofessor Pieter Labuschagne, ’n regs- en politieke kenner van Unisa, sê daar moenie iets sinister gesien word in die kabinet se besluit om die konvensie goed te keur nie.

Hy sê dit is die gebruik dat die internasionale reg (volkereg) deur ’n betrokke land aanvaar word, om dit deel van die plaaslike reg te maak.

Die destyds Nasionale Party-regering het die VN se resolusie wat in 1966 geneem is, nie in die Suid-Afrikaanse wetboeke opgeneem nie omdat hy nie met die resolusie saamgestem het nie.

Die hoofkwartier van die Verenigde Nasies in New York. Foto: Sarel van der Walt

“Dit dek alle vorme van rassediskriminasie en is in hoofsaak daarop gerig om die Suid-Afrikaanse reg in ooreenstemming met die internasionale reg te bring en om met sulke misdade te handel,” verduidelik Labuschagne.

Die sluit in alle rasgebaseerde misdade soos byvoorbeeld vreemdelingehaat (xenofobie).

Ingevolge die Grondwet geld internasionale verdrae eers in Suid-Afrika nadat dit deur die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur is.

Ntshaveni het nie gesê of die kabinet enigsins oudpres. Jacob Zuma se weiering om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn, op die vergadering bespreek het nie.

Sy sê die kabinet het ’n verslag van die nasionale beplanningskommissie ontvang oor sy hersiening van die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Die kommissie sal binnekort bekend maak watter veranderinge hy aan die plan wil aanbring om die regering se ontwikkelingsdoelwitte vir 2030 te bereik.

Ntshaveni, wat as minister in die presidensie waarneem sedert die dood van Jackson Mthembu, die vorige minister, het ook gesê die kabinet was vol lof vir die werk wat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes, navorsers en medici tydens die Covid-19-pandemie gedoen het.

Dié groep mense kan met die bestes ter wêreld vergelyk word, meen die kabinet.

Ntshaveni sê die kabinet het met verwysings na Statistieke Suid-Afrika se verslag vandeesweek dat die land se amptelike werkloosheidskoers vir die vierde kwartaal van 2020 opgeskiet het tot 32,5% van 30,8% in die derde kwartaal, sy groot kommer hieroor uitgespreek. Ook dat die meeste mense wat werkloos is, jong mense is.

Dit is duidelik dat swart en bruin mense sowel as vroue die mees kwesbare mense in die ekonomie is.

Daarom sal hy alles moontlik doen om maatreëls in te stel sodat die jeug, vroue en swart mense ’n groter rol in die land se ekonomie begin speel.

Ntshaveni sê ook die kabinet het op sy vergadering wat Woensdag plaasgevind het die groter aantal inhegtenisnemings van mense wat aangekeer is vir voorvalle van ekonomiese sabotasie, verwelkom.

Die volgende aanstellings is deur die kabinet goedgekeur:

• ’n Nuwe raad van direkteure vir die Amatola-waterraad in die Oos-Kaap;

• Die aanstelling van Thembi Msibi as voorsitter van die Padongelukkefonds en dr. Nomonde Mabuya as ondervoorsitter;

• Nomkhita Mona is as uitvoerende hoof van die Poskantoor aangewys;

• Moegamat Ishaam Abader is die nuwe uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Weerdiens;

• Zolani Kgosietsile Matthews is as groephoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) aangestel;

• Melanie Rambally as finansiële hoof van Sentech; en

• Adv. Boyce Mkhize as hoofombudsman van die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.