Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Volkslied mét Afrikaans sê wie ons as nasie is – Cyril
Julius Malema en sy adjunk, Floyd Shivambu, Donderdagmiddag in die parlement. Foto: Jaco Marais

“Die Stem” as deel van Suid-Afrika se nasionale volkslied verteenwoordig “wat ons as ’n nasie is”, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Hy het Donderdag só op emosionele oproepe van veral die EFF in die parlement gereageer dat die Afrikaanse deel van die volkslied verwyder moet word.

Dit is omdat dit volgens Julius Malema, EFF-leier, ’n “apartheidslied is wat gesing is terwyl hulle daardie apartheidsvlag gesalueer het wat die hof Woensdag as haatspraak bevind het”.

Hy het hiermee verwys na adjunk-regter-president Phineas Mojapelo van die hooggeregshof in Johannesburg, wat as die gelykheidshof gesit het, se uitspraak wat die doellose vertoon van die ou landsvlag tot haatspraak verklaar het.

Ramaphosa het op ’n aanvanklike vraag van ’n EFF-LP oor “Die Stem” gesê daar is destyds as deel van die “kompromisse en akkommodasies” besluit om dit deel van die volkslied te maak “as ’n simbool wat ons in staat sou stel om die nasie te bou wat ons is”.

Ons moenie dit wat ons verenig, verwerp nie.
Cyril Ramaphosa

“Ek het eenkeer aan ’n ander president gesê dat ek van geen ander land in die wêreld weet wie se volkslied terselfdertyd in vier tale, Sesotho, Nguni, Engels en Afrikaans, gesing word nie. Dít verteenwoordig wat ons as ’n nasie is. Ons moenie dit wat ons verenig, verwerp nie.

Ramaphosa het bygevoeg dat “diegene wat hunker na die verlede en die Vierkleur(-vlag)” die land verdeel en dié hunkering opsy moet skuif.

Malema het toe gesê die EFF verwerp nie Afrikaans as deel van die volkslied nie, maar “Die Stem”.

Volgens hom het die EFF geen probleem om in Afrikaans te sing nie. “Die Stem” gaan uit,” het Malema toe in Afrikaans gesê.

Ramaphosa het geantwoord dat die 25 jaar lange reis wat die land sedert 1994 onderneem het, nie oornag voltooi sal word nie.

“Ons het verskillende verledes en kom van verskillende streke van die land, maar die mooiheid van ons as Suid-Afrikaners is die feit dat ons divers is. En dít is wat ons laat uitstaan van enige ander nasie in die hele wêreld.”

Hy meen dit moet gehandhaaf word, terwyl die land terselfdertyd transformeer.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-LP, het ook aan Ramaphosa gesê dit is egter ook ’n werklikheid dat minderheidsgroepe in die land vervreemd voel.

Hy wou weet of Ramaphosa bereid is om met minderhede te onderhandel wat ’n bydrae wil lewer, maar uitgesluit voel.

Ramaphosa het gesê hy is bereid om “langs die vuur” in gesprek te tree met sulke minderhede oor hul bekommernisse.

Hy sê hy is egter huiwerig om die woord “minderhede” te gebruik omdat daar groepe is wat vervreemd voel.

“Suid-Afrika behoort aan ons almal en ons moet almal voel dat ons aan hierdie land behoort, ongeag die onderskeie verskille wat ons langs ras-, streeks-, kleur- of ander lyne mag het. Ons is almal een nasie en laat ons soos een nasie begin optree.”

Meer oor:  Die Stem  |  Vlag  |  Apartheid  |  Volkslied
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.