Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vonke kan op NUK-vergadering spat oor ‘teeparty’ in Nkandla

Daar kan die komende naweek drama verwag word op die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) oor die omstrede “teepartytjie” by Nkandla.

So meen sommige politieke ontleders nadat daar bespiegel is dat daar op die teeparty planne gesmee is om pres. Cyril Ramaphosa se teenkorrupsie-veldtog te ondermyn.

Ander meen die teedrinkery was bloot ’n publisiteitsfoefie om mediablootstelling te kry.

Julius Malema, EFF-leier, en ander amptenare van die ANC en die EFF, het Vrydag per helikopter en met luukse voertuie by Nkandla in KwaZulu-Natal opgedaag om by oudpres. Jacob Zuma se woning “tee te drink”.

Oudpres. Jacob Zuma en Julius Malema, EFF-leier, drink Vrydag tee in Zuma se woning in Nkandla. Foto: Twitter

Intussen het die DA in ’n verklaring hieroor uitgevaar en ’n volledige parlementêre ondersoek aangevra om te bepaal wie hiervoor betaal het.

Malema is vergesel van Mzwandile Masina, burgemeester van die Ekurhuleni-metro, Vuyani Pambo, LP en EFF-woordvoerder, Tony Yengeni, ANC-lid, en adv. Dali Mpofu, lid van die EFF se sentrale bevelstruktuur.

Pambo, wat nie Sondag vir kommentaar bereik kon word nie, wou vroeër nie veel uitbrei nie, en het bloot aan joernaliste gesê die tee was “soet en warm”.

Sommige ontleders meen dit is geen toeval dat die vergadering in Nkandla gehou is voordat die NUK-vergadering plaasvind nie.

Op die NUK-vergadering sal die kwessie na verwagting bespreek word oor of Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, en ’n ondersteuner van Zuma, sy pos moet verlaat omrede hy op korrupsieverwante aanklagte teregstaan.

City Press het Sondag berig dat die teepartytjie daaroor gegaan het om ’n strategie te bespreek wat die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping en Ramaphosa se teenkorrupsie-veldtog in die wiele kan ry.

Daar kan vuurwerk verwag word op die NUK-vergadering, en die ANC-lede wat teenwoordig was, sal waarskynlik oor die kole gehaal word.

Luidens die berig wou Malema vir Zuma oortuig om voor die kommissie te verskyn omdat dit die geveg teen Ramaphosa kan versterk.

Daar is glo geredeneer dat Zuma sy posisie sal verswak indien hy weier om sy getuienis te lewer omdat dit tot negatiewe mediadekking sal lei.

Hoewel die konstitusionele hof onlangs bevind het dat Zuma verplig is om voor die kommissie te verskyn, stem die oudpresident nie hiermee saam nie.

Theo Venter, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se sakeskool, sê deur die teepartytjie wou die “losse koalisie” van die faksie van radikale ekonomiese transformasie in die ANC, met die ondersteuning van die EFF, in die aanloop tot die NUK-vergadering “hul hand wys”.

Intussen het Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes en ook ’n Zuma-ondersteuner, op Twitter die teepartytjie ondersteun.

“Daar kan vuurwerk verwag word op die NUK-vergadering, en die ANC-lede wat teenwoordig was, sal waarskynlik oor die kole gehaal word,” sê Venter.

Dr. Ntsikelelo Breakfast, politieke ontleder verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit, sê die teedrinkery beteken nie noodwendig dat Zuma en Malema ná al die jare van stryery die vredespyp rook nie.

“Dit gaan eerder daaroor dat hulle gemeenskaplike vyande het en daarom snoer hulle op kort termyn kragte saam.”

Malema, aan die anderkant, voel waarskynlik ongemaklik daarmee dat die kommissie na bewering in sy banksake rondkrap.

Prof. Ralph Mathekga, ’n onafhanklike politieke ontleder, vermoed die teeparty het daaroor gegaan dat die teenwoordiges ’n koalisie wou smee om moontlike optrede deur wetstoepassingseenhede teen te werk.

Hy wys daarop dat Zuma lank reeds uitgesproke is teen die Zondo-kommissie, wat volgens hom bevooroordeeld is.

“Malema, aan die anderkant, voel waarskynlik ongemaklik daarmee dat die kommissie na bewering in sy banksake rondkrap,” sê Mathekga.

Emeritus-professor Pieter Labuschagne, regs- en politieke kenner verbonde aan Unisa, meen egter die teepartytjie was bloot ’n publisiteitsfoefie.

“Daar moet ook nie te veel van die NUK-vergadering verwag word nie. In die verlede het verwagtinge op niks uitgeloop nie,” sê hy.

Intussen het Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, Sondag in ’n verklaring gesê daar is verskeie onbeantwoorde vrae oor wie vir die reis na Nkandla opgedok het, en hoe.

“Ons het ’n plig om te verseker dat die teepartytjie op geen manier die ekonomie van Suid-Afrika ’n enkele sent gekos het nie,” sê Mazzone.

Sy het aan Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), geskryf en ’n ondersoek aangevra om onder meer te bepaal of Malema of ander huidige of voormalige LP’s enige eise ingedien het om vir die reis te betaal.

Kassie:

Malema en Mboweni begrawe strydbyl op Twitter

Julius Malema, EFF-leier, en Tito Mboweni, minister van finansies, het die strydbyl op Twitter oor die “teeparty” in Nkandla begrawe en eerder besluit om “Suid-Afrika saam te laat groei”.

Dit kom nadat Mboweni vroeër vir Malema op Twitter aangevat het nadat hy en ander amptenare Vrydag by oudpres. Jacob Zuma se woning gaan tee drink het.

Malema en Zuma is vroeër as politieke vyande geag.

Mboweni het Vrydag getwiet dat daar vreemde politieke alliansies in die “demokratiese” Suid-Afrika ontstaan.

“Vandag my vyand, môre my vriend. Geen beginselvaste politieke posisies! So word ’n graaf ’n groot lepel!” lui Mboweni se twiet.

Malema het in reaksie hierop in ’n twiet van sy eie teruggekap deur Mboweni geluk te wens met 1 miljoen volgelinge op Twitter.

“Was dit maar 1 miljoen werke,” lui sy twiet.

Mboweni was egter nie klaar nie. Hy het in ’n daaropvolgende twiet verwys na die EFF se destydse versoek aan Zuma om die geld terug betaal vir die verbeterings aan sy Nkandla-woning.

“Vandag moet jy die geld terugbetaal. Oukei. Môre tee en geroosterde lam. Koel. Geen maskers, geen gesonde afstand nie. Demokratiese Suid-Afrika. Sou nie in Kigali gebeur het nie.”

Mboweni het egter Saterdagaand getwiet dat Malema hom gebel het en dat die gesprek goed verloop het.

“Geen probleme meer nie. Laat sak die spiese. Kom ons laat Suid-Afrika saam groei.”

In reaksie hierop het Malema in ’n twiet gesê: “Inderdaad”.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.