Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vonke spat in Vrystaatse debat oor grond

Die vonke het Vrydag gespat oor grondhervorming in die Vrystaatse wetgewer in die repliek op Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, se provinsiale rede.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-LPW en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer. Foto: Marietjie Gericke

Dr. Roy Jankielsohn, DA-LPW en leier van die amptelike opposisie, sê die kwessie van grond is deur die premier geopper en moet opgelos word.

“Die ANC en die EFF moenie probeer om kommersiële wit boere vir die stadige pas van grondhervorming kwalik te neem nie. As hulle verantwoordelik hiervoor gehou word, gee vir hulle ’n begroting om ’n grondhervormingsbeleid op te stel en deur te voer. Sit dan net terug en kyk wat gebeur.”

Hy sê die Vrystaat het een van die beste inisiatiewe vir die private sektor oor grondhervorming deur Nick Serfontein van die Sernick-groep.

Toe Mojalefa Buti, ANC-LPW, later sê “die wit DA-lede is rassiste,” het Jankielsohn gesê hy maak hom aan haatspraak skuldig.

“Jy is besig om massamoord te bevorder.”

Zanele Sifuba, speaker, het hierop gesê Buti het na die verlede verwys, maar die DA het nie saamgestem nie omdat hy nie gesê het die DA-lede “was rassiste” nie.

Sifuba het onderneem om na die Hansard-opname te gaan luister.

Buti was egter nog nie klaar nie. Hy het later gesê Jankielsohn het tydens sy dienspligjare “mense in Namibië en Soweto doodgeskiet”, dat hy sy plaas in Bethlehem “gesteel het en daar van mense slawe maak”.

“Die verlede spook by hom.”

Volgens Buti is dit rassisties van Jankielsohn om te sê die vyf koeie wat Ntombela beoog om per huishouding in Cornelia uit te deel om armoede te verlig,sal deur die begunstigdes opgeëet word omdat hulle so honger en verarm is.

Buti weet ook nie “waarom die VF Plus wil terugslaan” nie. Die VF Plus verteenwoordig net wit boere en nie ook swart boere nie. Hulle het hul plaaswerkers “van die plase verjaag”, sê hy.

Mojalefa Buti, ANC-LPW in die Vrystaat.

Hy het darem ’n pluimpie gehad vir Koos du Plessis, ’n boer van Vredefort, “wat 250 jeugdiges in die waardeketting en tegnologie op die plaas gaan ophef”.

Mandisa Makesini, Vrystaatse provinsiale leier van die EFF, het ook sommige lede van die wetgewer rooi laat sien toe sy gesê het: “Boere behandel hul plaaswerkers soos honde en mense op plase word verkrag.”

“Die boere kry subsidies van die staat en daar moet gekyk word wat hulle daarmee doen.”

Sy sê die EFF is ten gunste van die onteiening van plaasgrond sonder vergoeding.

Jankielsohn sê die DA ondersteun die premier se voorstel dat staats- en munisipale grond eerste gebruik moet word in die grondhervormingsproses – ook dat mense titelaktes op die grond moet kry.

“Met baie plase in staatsbesit wat onproduktief is en verlate lê, kan ons nie bekostig dat ons kommersiële voedselproduksie – wat ’n groeiende verstedelikte bevolking moet voed – verder deur vernietigende populistiese beleid en wetgewing bedreig word nie.

“Ons moet ook kennis neem van die bevindings van die verslag van die paneel onder voorsitterskap van oudpres. Kgalema Motlanthe, waarin gesê word grondhervorming misluk hoofsaaklik weens korrupsie, die kanalisering van geld na die elite en ’n gebrek aan ondersteuning aan plase wat deur die staat gekoop is.”

Mandisa Makesini, Vrystaatse provinsiale leier van die EFF.

Daar hoef nie verder as die Vrede-suiwelprojek gekyk te word vir ’n voorbeeld nie, sê Jankielsohn.

“Ons moet ook kennis neem dat die meeste suksesvolle begunstigdes van grondherstel eerder geld as grond wil hê.”

Hy het daarna verwys dat Ntombela genoem het die landbousektor het die potensiaal vir verdere ekonomiese groei en werkskepping.

“Ons moet dié sektor beskerm. Dit word voortdurend polities aangeval, kry min ondersteuning van die regering, is die hoof- ekonomiese slagoffer van beleid, daar word onsekerheid in die sektor geskep oor eiendomsreg, dit verloor miljarde rande aan misdaad en dit moet in die voorste linie teen klimaatsverandering veg.”

Ten spyte hiervan, sê Jankielsohn, gaan boere voort om noodsaaklike landbouprodukte te lewer onder omstandighede wat die vyandigste ter wêreld is.

“Dit is die veerkragtigste en innoverendste sektor in die land. Ons kommersiële, opkomende en bestaansboere moet as nasionale bates hanteer word.”

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Roy Jankielsohn  |  Vrystaat  |  Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.