Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vonke spat toe EFF, AfriForum oor onteiening vassit
Ernst Roets Foto: Elizabeth Sejake

Die humeure het so hoog geloop oor onteiening van grond sonder vergoeding dat lede van die EFF en AfriForum mekaar in die parlement onderskeidelik as “rassiste” en “korrupsie-fynproewers” uitgekryt het.

Dié drama in die kleine het hom Woensdag afgespeel toe AfriForum ’n mondelingse voorlegging oor die voorgestelde wysigingswetsontwerp op die Grondwet, wat onteiening moontlik sal maak, gelewer het.

Ander organisasies wat ook Woensdag hul mondelingse voorleggings gelewer het, is die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe-konferensie, die Bankvereniging van Suid-Afrika, Casac, Black First Land First, Freedom of Religion South Africa, die Legal Resource Centre, Land and Accountability Research Centre, Ndifuna Ukwazi en die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie van AfriForum, het namens dié burgerregte-organisasie gesê dat onteiening sonder vergoeding nie vryheid, geregtigheid en gelykheid sal bevorder nie, terwyl dit ook nie tot verhoogde werkskepping sal lei soos die voorstanders daarvan verkondig nie.

Die spanning in die ad hoc-komitee wat die grondwetlike wysigingsproses moet bestuur, het duidelik verhoog toe Roets in reaksie op ’n vraag gesê het dat AfriForum wel vertroue in Suid-Afrikaners het om die grondkwessie op te los, “maar nie vertroue het in diegene wat die mense in die parlement verteenwoordig nie”.

Dit is omdat LP’s volgens hom uit voeling is met die werklikhede op grondvlak en die mense nie behoorlik in die parlement verteenwoordig nie.

Dibolelo Mahlatsi, ’n ANC-LP, wou weet waarom Roets dan aan die parlementêre proses deelneem as hy nie in die LP’s glo nie.

Floyd Shivambu, EFF-onderleier, het gesê dat die parlementêre proses so deursigtig en demokraties is dat “ons selfs rassiste toelaat om in die parlement te kom sê dat die parlementêre proses nie wettig is nie”.

Hy het bygevoeg dat die parlement “as deel van hierdie proses selfs alle soorte karakters met verskillende oortuigings, insluitend rassistiese kinders, toegelaat het om hierdie spesifieke proses te kom ondermyn”.

Volgens Shivambu is dit “onsin en gemors” dat “ons nie wettig is nie”.

’n “Teleurgestelde” Cyril Xaba, ANC-LP, wou weet hoe Roets steeds kan verwag dat LP’s hom en AfriForum se standpunte ernstig moet opneem.

Floyd Shivambu Foto: Daily Sun

Mathole Motshekga, komiteevoorsitter, het gesê dat LP’s nie hul tyd moet mors op “ongegronde stellings of menings nie”.

“Dit is omdat LP’s deur die meerderheid Suid-Afrikaners, swart en wit, verkies is.”

Roets het ontken dat hy gesê het dat die parlement nie wettig is nie, maar herhaal dat LP’s uit voeling is met die werklikheid op grondvlak.

“Ons kan almal voorgee dat ons baie belangrik is en dat mense in Suid-Afrika groot respek vir die parlement het en lief is vir hul politici en ander wat in die parlement werk, maar dit doen nie afbreuk aan die ironie van die saak dat ’n korrupsie-connoisseur soos Floyd Shivambu ons probeer leer oor hoe om ’n land behoorlik te regeer nie.”

Dr. Mbuyiseni Ndlozi, nog ’n EFF-LP, het kapsie hieroor gemaak en gesê “ons sal nie hier misbruik word deur hierdie rassistiese seun nie”.

Motshekga het versoek dat Roets sy uitlating terugtrek.

Roets het egter gesê dat dit onregverdig is dat “LP’s gruwelike beskuldigings teenoor my, AfriForum en ons lede kan maak, maar dat ek versoek word om my uitlating terug te trek as ek daarop reageer”.

Sy sessie met die LP’s is kort daarna kortgeknip.

Mondelingse voorleggings duur Donderdag voort.

Ons kan almal voorgee dat ons baie belangrik is en dat mense in Suid-Afrika groot respek vir die parlement het en lief is vir hul politici en ander wat in die parlement werk, maar dit doen nie afbreuk aan die ironie van die saak dat ’n korrupsie-connoisseur soos Floyd Shivambu ons probeer leer oor hoe om ’n land behoorlik te regeer nie.

Meer oor:  Ernst Roets  |  Eff  |  Onteiening  |  Grondwet  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.