Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Voormalige klerk getuig onder streng bewaking voor Zondo

Te midde van die strengste sekerheidsmaatreëls nóg waarmee ’n getuie voor die Zondo-kommissie se lewe beskerm word, het ’n voormalige klerk van die polisie se hoogs geheime misdaadintelligensie-eenheid Vrydag begin getuig oor nepotisme en bedrog by dié eenheid.

Kol. Dhanajaya Naidoo, wat vanaf ’n geheime plek met ’n oudio-skakel met die sitting verbind was, het met die aanvang van sy getuienis gevra dat ’n inbraak by ’n naby familielid van hom se huis deur die Valke ondersoek moet word. Dié inbraak het vandeesweek plaasgevind en kan volgens Naidoo dalk ’n boodskap van intimidasie wees om hom te probeer keer dat hy nie getuig nie.

Richard Mdluli, oudhoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, wie se naam genoem word in die getuienis voor die Zondo-kommissie.Foto: Danielle Karallis

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gevra dat die Valke versoek moet word om dié voorval as ’n saak van dringendheid te ondersoek.

Naidoo is deur die kommissie gevra om te getuig na aanleiding van die inligting wat hy aan kol. Kobus Roelofse, ondersoeker van die Valke, verskaf het.

Naidoo het bevestig dat hy besef hy sal homself inkrimineer in sy getuienis en genoem dat hy self R100 000 van die eenheid se geheime fonds gesteel het.

Adv. Susan Wentzel SC, wat Naidoo se getuienis lei, het gesê ’n hele aantal van die mense wat Naidoo in sy beëdigde verklaring noem, is lede of informante van die eenheid. Naidoo se mening is dat die meeste van die mense wat in die eenheid aangestel is, die gevolg van nepotisme was.

Omdat dit nie honderd persent duidelik is wie ware agente is en wie nie, beskryf Naidoo hulle slegs volgens sekere nommers, byvoorbeeld FM08, FM09, ensovoorts.

Naidoo het getuig hy was ’n klerk by die misdaadintelligensie-eenheid en hy en ander lede was betrokke by die stroping van die eenheid se geheime fonds in die tyd toe Richard Mdluli hoof van die eenheid was.

Naidoo se eerste ontmoeting met Roelofse en nog ’n Valke-ondersoeker, kol. Piet Viljoen, was op 18 Oktober 2011.

Daarna het dinge vinnig gebeur. Naidoo het op ’n berg vol inligting gesit en hy het die volgende dag besluit om die Valke-ondersoekers in sy vertroue te neem en alles wat hy weet van die misbruik van die geheime fonds, meestal deur senior lede en ook deur homself, aan die Valke te openbaar. Op 19 Oktober het hy die hele dag lank met die Valke-ondersoekers gepraat.

Solomon Lazarus, voormalige finansiële hoof van die eenheid se geheime fonds, wou weet wat hy alles aan die Valke vertel het.

Hy het aan Lazarus erken dat hy aan die Valke genoem het dat Mdluli en genl. (Raymond) Lalla private eiendom huur met geld van die eenheid se geheime fonds. Lazaraus was baie ontsteld dat hy uitgepraat het.

Op 20 Oktober het hy vroeg huis toe gegaan en vroegaand het hy en sy vrou en jongste kind om die blok gaan stap. Met hul terugkeer by die huis het hy gesien hoe ’n lid van die misdaadintelligensie-eenheid van binne sy erf terug oor die hek spring.

Daar was ’n motor geparkeer voor die hek en Naidoo het gesien Lazarus was in die voorste sitplek. Lazarus het aan hom gesê hy is ’n man wat moeilik is om in die hande te kry en hy moet inklim.

Lazarus het herhaaldelik gevra of daar enigiets is wat hy aan hom wil noem: “Wil jy niks aan my vertel nie?” Naidoo het “nee” geantwoord.

Hierna is hulle na Lazarus se huis waar die twee ander lede van die eenheid begin praat het hoe hulle bewyse moet begin vernietig.

Teen die tyd dat hy op 25 Oktober ’n beëdigde verklaring afgelê het oor alles wat hy weet, was Naidoo reeds in die getuiebeskermingsprogram geplaas vir sy eie veiligheid, het hy getuig.

Sy getuienis is tot Maandag om 10:00 uitgestel wanneer hy verder sal getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.