Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Voormalige regshoof van Eskom volgende op Zondo-lys

Ná ’n week van oor-en-weer-beskuldigings by die Zondo-kommissie oor wie glo wat in die Eskom-direksie verkeerd gedoen het, sal ’n sleutelgetuie Dinsdag háár weergawe gee van die tydperk toe dit as die “Gupta-direksie” bekend gestaan het.

Suzanne Daniels, vantevore Eskom se regshoof voordat sy geskors en daarna afgedank is, is Dinsdag die getuie voor die Zondo-kommissie vir ondersoek na staatskaping, het eerw. Mbuyiselo Stemela, woordvoerder, Maandag bevestig.

Voorheen is berig Daniels is in Januarie 2012 by Eskom aangestel. Sy is in Oktober 2015 tot maatskappysekretaris bevorder, in Augustus 2017 as regshoof aangestel en op 20 Julie 2018 ná ’n tugproses afgedank.

Die klagte teen Daniels het ingesluit dat sy onder meer vertroulike inligting van Eskom aan ’n derde party verskaf het.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

In die getuienis Vrydag van dr. Ben Ngubane, Eskom-voorsitter van einde Maart 2015 tot Junie 2017, is hy gevra oor e-posse wat ontvang is vanaf ’n e-posadres bekend as businessmanportal1@zoho.com. Ngubane het aangevoer dat Daniels aan hom gesê het die skrywer van die e-posse is Richard Seleke, destydse direkteur-generaal van die departement van openbare ondernemings. E-posse vanaf dié adres is ook na Ngubane se persoonlike gmail-adres gestuur.

Daar word beweer dat dit egter nie Seleke se e-posadres is nie, maar wel dié van Salim Essa, sakevennoot van die Guptas.

Dit is aan Ngubane gestel dat daar in Daniels se dissiplinêre verhoor bevind is die e-posadres behoort heel moontlik aan Essa. Ngubane het volgehou dat hy spesifiek aan Daniels gevra het wie die kommentaar in die e-posse lewer en dat sy geantwoord het die DG van die departement van openbare ondernemings.

Daniels het op haar beurt in haar dissiplinêre verhoor aangevoer dit was Ngubane wat aan haar gesê het dit is die DG se e-posadres.

Daniels sou verlede week as getuie geroep word, maar dit is uitgestel nadat ander getuienis langer geneem het as wat verwag is.

Meer oor:  Eskom  |  Guptas  |  Salim Essa  |  Zondo  |  Suzanne Daniels  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.