Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Voormalige Valke-hoof gaan nou korrupsie in Jhb pak
Genl.maj. Shadrack Sibiya

Shadrack Sibiya, voormalige Valkehoof in Gauteng, gaan korrupsie in die Johannesburgse stadsraad beveg.

Sibiya is as die hoof van die metroraad se nuwe teenkorrupsie-eenheid aangestel.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Sibiya se aanstelling Woensdag bekend gemaak en sê Sibiya het die nodige integriteit, ondervinding en dapperheid vir die rol en om inwoners se vertroue in die raad te herstel.

“Toe ek burgemeester word, het ek korrupsie as openbare vyand nommer een verklaar,” sê Mashaba.

Hy sê hy word toegegooi met aantygings, forensiese verslae en inligting oor twyfelagtige tenders wat toegesmeer is.

“ ’n Aantal ondersoeke is reeds in ’n gevorderde stadium en die bevindings sal binnekort bekend gemaak word.”

Hy sê daar is ’n groot vrees dat sy administrasie die ANC se korrupsie, wanbestuur en nepotisme gaan ontbloot.

“Dit is hoekom daar opsetlike pogings deur die ANC is om die DA-regering in die raad ineen te laat stort.”

Toe ek burgemeester word, het ek korrupsie as openbare vyand nommer een verklaar.

Sibiya het vantevore as die spesiale hoofondersoekbeampte van die Skerpioene gedien, en as hoof van dié eenheid in die Vrystaat.

Hy het ’n brigadier geword toe hy aan die hoof was van die Valke se handelsmisdaadeenheid, en toe die eenheid se hoof in Gauteng geword.

Mashaba het sy vertroue in Sibiya uitgespreek en ’n beroep op hom gedoen om tenders wat aan familielede van amptenare toegeken is, te identifiseer.

Lt.genl. Berning ­Ntlemeza, hoof van die Valke, het Sibiya in September 2015 afgedank weens sy beweerde rol in die Zimbabwe-uitleweringsdebakel.

Sibiya is in ’n dissiplinêre ondersoek skuldig bevind aan wangedrag.

Hy hou egter vol dat die aantygings teen hom aanhangig gemaak is uit wraak nadat hy die voormalige misdaadintelligensiehoof, Richard Mdluli, ondersoek het op aanklagte van moord. – News24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.