
Van links na regs: Innocent Khuba, Matthew Sesoko en Robert McBride vroeër vanjaar in die hof. Dié drie Opod-hoës staan tereg op twee aanklagte van dwarsboming van die gereg en bedrog. Foto: Lisa Hnatowicz
Kommer heers oor die partydigheid van adv. Mxolisi Zondo, voorsitter in die tugsaak teen een van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) se geskorste hoës, omdat hy ook die voorsitter was in tugsake teen genls.maj. Shadrack Sibiya en Johan Booysen van die Valke.
Die sake teen Sibiya, afgedankte Gautengse Valke-hoof, en Matthew Sesoko, Opod se geskorste nasionale ondersoekhoof, hou verband met die onwettige uitlewering van Zimbabwiërs.
Zondo het Sibiya verlede jaar in sy interne tugverhoor skuldig bevind aan al die klagte teen hom en hy is afgedank.
Booysen, geskorste KwaZulu-Natalse Valke-hoof, het vroeër vanjaar in hofstukke aangevoer Zondo is onwettig aangestel as voorsitter van sy tugverhoor. Booysen het die arbeidshof in Durban genader om sy skorsing om te keer.
Daar is wyd bespiegel dat talle hoës in die polisie, Opod, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Valke lukraak vervolg word omdat hulle sensitiewe sake ondersoek het wat met pres. Jacob Zuma se familie en vriende verband hou.
Sesoko staan saam met Robert McBride, geskorste Opod-hoof, en Innocent Khuba, Opod se voormalige hoof in Limpopo, in die landdroshof in Pretoria tereg op twee aanklagte van dwarsboming van die gereg en bedrog.
Die drie word daarvan beskuldig dat hulle ’n Opod-ondersoekverslag na die Zimbabwiese uitleweringsdebakel gedokter het om Sibiya en lt.genl. Anwa Dramat, voormalige Valke-hoof, van blaam te onthef.

Genl.maj. Johan Booysen, geskorste hoof van die Valke in KwaZulu-Natal. Foto:
Hulle het Woensdag vlugtig in die hof verskyn en hul verhoor sal op 1 November begin.
Sesoko se tugsaak het verlede jaar begin en duur Vrydag voort. Volgens Thabang Mathibe, Sesoko se prokureur, gaan hy dan kapsie maak teen Zondo se aanstelling as voorsitter.
“Die feite van albei sake (teen Sibiya en Sesoko) is dieselfde,” sê Mathibe. “Daarom gaan ons Vrydag versoek dat Zondo hom aan die saak onttrek omdat hy moontlik bevooroordeeld kan wees.”
Anton van der Bijl, prokureur van Solidariteit se arbeidsregsentrum, sê dat Zondo ook die voorsitter in Sibiya se tugverhoor was, dui nie noodwendig op partydigheid nie. “Maar indien daar ’n vermoede bestaan dat die voorsitter in ’n tugverhoor partydig gaan wees, kan beswaar aangeteken word.”
Robbie Raburabu, Opod se woordvoerder, het navrae na Zondo verwys. Zondo sê hy wil nie kommentaar lewer op ’n saak waarby hy betrokke is nie.
“Dit is vreemd dat Sesoko se prokureurs nog nie die kwessie voor my geopper het nie,” sê hy. “Die tugverhoor is al amper verby en dis openbare kennis dat ek ook die voorsitter in Sibiya se tugverhoor was.”