Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vrae oor kontrakte vir Ace, Sisi se familie

’n Dogter en die jongste broer van Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier en sekretaris-generaal van die ANC, asook twee seuns van sy opvolger as premier, het voordeel getrek uit kontrakte ter waarde van R300 miljoen wat toegeken is vir die sny van gras en die instandhouding van paaie in die provinsie.

Die huidige premier, Sisi Ntombela, het egter ontken dat daar enigiets ongerymd is wat betref die toekenning van kontrakte aan haar twee seuns.

Ace MagashuleFoto: BusinessLive

Die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer stem met haar saam. Hillary Mophethe, woordvoerder van die departement, sê die regte voorkeuraankopeprosesse is gevolg toe besluit is watter kontrakteurs deel van die program moes wees.

Die ouditeur-generaal (OG) kon ook nie fout vind met die kontrakte of botsende belange uitwys nie, sê die premier en die departement in ’n gesamentlike verklaring. Ntombela was ook geensins betrokke toe die kontrakte toegeken is nie.

Die Daily Maverick het vandeesweek berig dat Magashule se dogter Thoko Malembe, sy jongste broer, Ezekiel, en Ntombela se twee seuns, Duduza en Sibusiso, by dié projek baat gevind het waarvan die oogmerk was om jong opkomende sakelui te bemagtig.

Leona KleynhansFoto: Vaalweekblad

’n Ander begunstigde was die dogter van Joey Mochela, die burgemeester van die Ngwathe-munisipaliteit (Parys), Magashule se tuisdorp. Katleho Mochela het ook een van die kontrakte gekry om Vrystaatse paaie in stand te hou en gras langs die paaie te sny.

Vrae word ook gevra oor die vreemde wyse waarop voertuie en toerusting vir dié projekte aangeskaf is, maar toe maande in onbruik gestaan het.

Jaco la Cock, DA-raadslid in Parys, sê sowat 50 enkelkajuitbakkies is in 2016 – net voor die munisipale verkiesing – na Parys gebring om “uitgedeel te word”.

“Ons het almal (eers) gedink dit is ’n verkiesingsfoefie van Magashule. Mabiza Magashule, Ace se neef, sou in beheer van die projek wees.

“Die bakkies het maande in pakhuise gestaan voordat dit saam met padbou- en grassny-toerusting aan begunstigdes gegee is.”

Hy sê hy sien deesdae steeds daardie bakkies in Parys rondry. Sommige het intussen getinte ruite en siervellings (mags) bygekry.

Arnold Schoonwinkel, ook ’n raadslid, sê die klomp bakkies – hy reken dit is 69 – saam met straatbesems, skopgrawe, grassnyers en kompakteerders het vyf maande in ’n pakhuis in Parys se nywerheidsgebied gestaan.

“Ek het verskeie briewe hieroor aan die munisipaliteit en wetgewer geskryf.”

Die Daily Maverick het berig van die 20 kontrakteurs wat aangestel is, het tien regstreekse bande met die ANC, en dat die begunstigdes onder andere insluit:

* ME Construction wat aan Ezekiel behoort.

* Botlokwa Holdings wat aan Malembe behoort. Dié maatskappy het ook voordeel getrek uit ’n HOP-projek van R150 miljoen naby Bethlehem, waaroor voorheen berig is.

* MDBS Trading wat aan Sibusiso en Duduza behoort.

* Juda in Zion Trading wat aan Katleho behoort; en

* 4Ever Friends Trading, ’n maatskappy wat gestig is deur die afgestorwe streeksekretaris van die Fezile Dabi-distriksmunisipaliteit, Moshe Tladi, op wie se begrafnis die voormalige premier verlede jaar ’n spreker was.

Leona Kleynhans, DA-wetgewerlid, het Woensdag in ’n nuusverklaring gesê dié party gaan beslis vrae oor die kwessie vra.

“Dié kontrakte was bedoel om opkomende sakelui te bemagtig, maar nou lyk dit asof dié luukse kontrakte na ANC-kornuite met politieke verbintenisse en ANC-politici gegaan het.”

Volgens Tammy Wessels, Vrystaatse wetgewerlid, het die VF Plus Woensdag ’n klag by die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, aanhangig gemaak en versoek dat sy ondersoek moet instel na die saak.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Ace Maga­Shule  |  Vrystaat  |  Politiek  |  Familie  |  Ouditeur-Generaal (Og)  |  Kontrakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.