Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vrae oor omstrede premierskantoor, tenders in VS
Dr. Roy Jankielsohn Foto: Argiewe

Sisi Ntombela se omstrede departement van die Vrystaatse premierskantoor stel ’n uiters swak voorbeeld wat betref die toeken en monitor van tenders.

Daarby het dié departement ’n uitermate hoë begroting as dit vergelyk word met ander departemente in die provinsiale regering wat self onder groot finansiële druk is.

So het dr. Roy Jankielsohn van die DA Donderdag op ’n virtuele platform van die wetgewer gesê toe debat gevoer is oor die premierskantoor se aangepaste begroting vir die 2020/21-geldjaar.

“Mense moet ook onthou Jan van Riebeeck of Verwoerd het nie vir Estina, Blackhead Consulting of enige ander vrot maatskappy wat by verrotte saketransaksies met die Vrystaatse regering betrokke is, aangestel nie,” het hy gesê.

Jankielsohn het Ntombela daarvan beskuldig dat sy nie maatreëls vir kostebesparing in plek het nie. Eerder as om die Vierde Raadsaal van die regering vir haar provinsiale rede te gebruik, het sy ’n plek gaan huur wat die belastingbetalers R5 miljoen uit die sak gejaag het.

Jankielsohn het ook gesê skerp vrae word veral gevra oor hoe Quail Media-Cubicle Trading sonder ’n belasting-uitklaringsertifikaat en geldige BEE-sertifikaat aangestel is.

“Hoewel Quail Media-Cubicle Trading nie gekwalifiseer het as ’n regeringsdiensverskaffer nie, het die kantoor van die premier R33 miljoen betaal aan dié maatskappy wat gesellighede en funksies reël. Dit was vir die tyd tussen Julie 2018 en Maart 2019,” het Jankielsohn gesê.

Die totale betalings van die provinsiale regering aan dié maatskappy kan dalk nader aan R100 miljoen wees as ander departemente ingesluit word.

“’n Enkele tender tussen die Vrystaatse departement van onderwys en Quail Media het bykans R11 miljoen beloop, terwyl die kontrakprys uitermate opgeblaas was.”

Jankielsohn het daarop gewys dat die premiers-kantoor ook ’n swak geskiedenis het met die besteding van kosbare hulpbronne wat bedoel is vir die opvoeding van kinders, aan twyfelagtige ondernemings soos Emvelo Estates.

“Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) behoort ’n omvattende oudit by Emevlo Estates te doen.”

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier. Foto: Argiewe

Die Vrystaatse departement van onderwys het daarby die maatskappye Unlimited Travel en Morreretsie Travel aangestel om teen groot bykomende koste lokale vir byeenkomste van die departement te bespreek.

“Dié maatskappye se name hoort op ’n swartlys omdat hulle nie voorafbetaalde Covid-19-geld aan diensverskaffers betaal het nie. Dit het die diensverskaffers op die rand van bankrotskap gelaat. Dit is blatante bedrog.

“Morreretsie Travel se naam kon ook nie op die intellektuele eiendomsregister van maatskappye (Cipro) opgespoor word nie.”

Jankielsohn het gesê pleks dat die premier die tenders gemonitor en die onderwysdepartement oor die kole gehaal het daaroor, het sy hul voorbeeld gevolg.

“Ons is betroubaar ingelig oor ’n sindikaat wat uit die kantoor van die premier bedryf word en wat betrokke is by verskeie verdagte tenders waarby opblaaste pryse betrokke is sodat winsgewende terugbetalings gedoen kan word.”

Hy het gesê hulle sal later meer daaroor bekend maak en die name van die betrokke maatskappye sal genoem word.

“Toe ons die premier vra oor kontant wat sy glo as terugbetaling gekry het, het sy erken dat sy mense in Frankfort gesien het. Sy het gesê sy het nie kontant gekry nie, maar ’n kas Chinese tee.”

“Ons wil steeds weet waarom ’n bekende tenderpreneur van Gauteng na die premier se private huis in Frankfort sou ry om ’n kas Chinese tee as geskenk te gaan afgee.

“Ons wil steeds weet waarom ’n bekende tenderpreneur van Gauteng na die premier se private huis in Frankfort sou ry om ’n kas Chinese tee as geskenk te gaan afgee.”

Jankielsohn het gesê selfs kospakkies wat by Vrystaathuis, die premier se ampswoning in Bloemfontein, gestoor word, laat ’n mens met vrae omdat dit vir politieke gewin in die Covid-19-inperkingstyd misbruik word.

Hy het gesê van die 2 482 kospakkies wat deur die premier versprei is, is 1 298 aan ANC-politici gegee. Dit sluit in die kantoor van die provinsiale sekretaris, dié van Cosatu, individuele ANC-lede van die provinsiale wetgewer en individuele ANC-raadslede. Daarby is nog 1 044 gegee aan ander mense met noue verbintenisse met die ANC. Ter na gedagtenis is 140 kospakkies aan die drie opposisiepartye gegee.

Die kospakkies behoort nie by die premier se kantoor gestoor te word nie. “Daar is baie ander regerings-stoorplekke.”

Hy het gesê daar is geen deurlopende kriteria wat gebruik word vir die aflewering van die kospakkies nie. “Dit is duidelik dat derduisende kospakkies gebruik is, en steeds deur die ANC misbruik word, vir politieke gewin.”

Hy het gesê die premier se ampswoning wat deur die polisie beveilig word, is nou die afleweringspunt vir Covid-19-partypolitieke begunstiging.

• Toe Ntombela Saterdagmiddag gebel is, het sy gesê sy is in ’n vergadering en sal later met Netwerk24 praat, maar het nog nie teruggebel nie.

Kassie

Volgens Cipro is Quail Media-Cubicle Trading se een direkteur Obakeng Kagisho Jonnathan Motshumi (32) en die ander Kagisho Leroy Lekhu (44). Die maatskappy word uit Bloemanda, by Bloemfontein, bedryf.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Roy Jankielsohn  |  Vrystaat  |  Premierskantoor  |  Tenders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.