Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vrede-geld betaal vir Sun City-troue, hoor Zondo

Die Gupta-troue by Sun City is gefinansier met geld wat uit die Vrede-suiwelplaas gekom het, het ’n sakeman van Vrede Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg getuig.

Willie Basson het getuig hoe hy drie Gupta-mans gehelp het om onder meer ’n suiwelverwerkingsaanleg op dié plaas te bou.

“Julle weet seker van die Guptas wat die troue in Sun City gehou het? Daardie geld kom van die melkplaas af,” het Basson gesê.

Willie Basson, 'n sakeman van Vrede, het Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dat die Vrede-suiwelprojek die Gupta-troue in Sun City gefinansier het.

Toe hy gevra is of hy enige bewyse daarvoor het, het hy gesê hy “kan onmiddellik die naam van die persoon gee” wat dit aan hom gesê het, maar hy was onseker of hy dit op die televisie mag sê.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissievoorsitter, het hom aangeraai om eerder ’n verklaring voor die kommissie se regspan af te lê met meer inligting oor dié bewering.

Basson het verder getuig dat drie mans met die van Gupta, hom gevra het om te help met die bou van die verwerkingsaanleg op die Vrede-plaas, waar onder meer joghurt en poeiermelk vervaardig sou word.

Dié drie Guptas is volgens Basson nie die Guptas waaroor daar in die media berig word en wat in Saxonwold in Johannesburg woon nie.

“Hulle het van Indië gekom, maar hulle kon nie regtig die werk doen nie. Hulle het nie eens ’n skroewedraaier gehad nie.”

Basson het verder getuig hoe hy Chandrama Prasad, projekkoördineerder op die Vrede-suiwelplaas, gehelp het toe beeste begin vrek.

Volgens Basson het Prasad die beeste glad nie gevoer nie en verwag dat die diere kort gras moes vreet. Basson sê dié gras was nie lank genoeg vir die beeste om te vreet nie.

“Daar het dooie beeste orals rondgelê, hulle tel dit nie eens op nie. Daar het dooie kalwers in die water gelê. Dit was soos ’n orgie.”

Basson sê hy het sowat 100 beeste begrawe sedert die eerste dag dat hy daar aangekom het.

Hy sê Prasad het ’n laaigraaf gehad waarmee hulle die beeste op ’n hoop gegooi het, waarna Basson dit sou begrawe.

Basson het later aan Prasad gevra waarom hulle nie vir die beeste voer koop nie. Prasad het gesê hulle het nie geld daarvoor nie. Basson het toe voer ter waarde van sowat R1 miljoen gekoop en na die plaas geneem.

“Hulle het my binne 30 dae terugbetaal.”

Die Vrede-suiwelplaas in die Vrystaat. Foto: Deon Raath / Rapport

Dumisani Cele, ’n ouddirekteur in die nasionale tesourie, het ook Vrydag getuig.

Cele het ondersoek gedoen na die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling se verkrygingsproses betreffende die Vrede-suiwelplaas.

Hy het getuig daar is geen goeie redes verskaf vir afwykings van die normale verkrygingsproses nie.

Cele sê dié departement het lank dokumente van hom weerhou wat hy nodig gehad het om die ondersoek te doen.

Cele het getuig dat Seipati Dlamini, voormalige finansiële hoof van dié departement, by geleentheid aan hom gesê het “die Basotho-mense gaan hom (Cele) doodmaak”.

Hy het die Valke hieroor ingelig, waarna hy deur veiligheidsbeamptes na verdere vergaderings met dié departement begelei is.

David Maree, ’n landbou-ekonoom verbonde aan FNB, het Vrydag met sy getuienis voor die kommissie begin.

Hy het onder meer getuig oor ’n drastiese afname in melkboere in Suid-Afrika.

In die Vrystaat was daar ’n 57%-afname in melkboere van Januarie 2006 tot September 2013.

Maree sê een van die Vrede-suiwelprojek se planne was om melk aan te koop by plaaslike boere en dit dan te verwerk in ander produkte.

“Maar dit maak nie sin nie. Hoe wil hulle melk aankoop by boere wat al hoe minder raak in die Vrystaat?”

Zondo het ook Vrydag aangekondig dat pres. Cyril Ramaphosa sy beëdigde verklaring aan die kommissie gegee het en dat hy ingestem het om te kom getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.