Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vrede-projek: Van talle beloftes het niks gekom

’n Begunstigde van die Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat het Dinsdag aan die Zondo-kommissie van ondersoek gesê kleinboere is elk tien melkkoeie beloof, asook 52% van die aandele in die projek – maar daarvan het hulle niks gesien nie.

Ephraim Dhlamini
Ephraim Dhlamini wat Dinsdag voor die Zondo-kommissie getuig het. Foto: Skermgreep

Daar is ook aan die begunstigdes gesê dat hulle in Indië opleiding sou ondergaan oor hoe om die koeie te versorg en te melk.

Ephraim Dhlamini, wat voor die kommissie getuig het, het gesê hy is ’n inwoner en boer van Thembalihle by Vrede. Hy boer met 52 beeste en is die plaaslike voorsitter van die African Farmers’ Association wat kleinboere in die omgewing verteenwoordig.

“Dit het geklink na ’n baie goeie projek; die mense was baie tevrede,” het Dhlamini gesê oor ’n vergadering waar die Vrede-suiwelprojek deur ’n voormalige LUR vir landbou in die Vrystaat, Mosebenzi Zwane, bekend gestel is.

Die kleinboere moes ’n groep vorm en hulle sou gesamentlik ’n 52%-aandeel in projek kry.

Net soos wat daar niks gekom het van die tien melkkoeie wat elkeen sou kry, asook van die aandele nie, het hulle ook nooit na Indië gegaan nie.

Dhlamini het getuig Zwane het eerder ’n groep jong mense van ’n kerkkoor na Indië geneem. Dié koor was volgens inligting wat in Vrede onder die mense bekend is, ’n koor van die kerk van Zwane se pa (’n pastoor).

Zwane het eerder sy koor na Indië gevat vir opleiding . . . en die vreemdste is dat hulle daar brandrissies geëet het en nie eens lank kon bly nie.
Ephraim Dhlamini

“Zwane het eerder sy koor na Indië gevat vir opleiding . . . en die vreemdste is dat hulle daar brandrissies geëet het en nie eens lank kon bly nie,” sê Dhlamini.

Hy het getuig dat daar ’n byeenkoms in Frankfort was waar ’n plaaslike radiostasie ook teenwoordig was.

Dhlamini wou die kwessie van die Vrede-melkplaas daar opper. Hy het sy hand opgesteek en het die geleentheid gekry om vrae te vra oor die Vrede-projek.

Hy het in Frankfort gesê daar was Indiër-mense by die Vrede-plaas, “dit was die Guptas”. Ek het gesukkel om te verstaan wat hulle gepraat het,” het hy getuig.

Adv. Leah Gcabashe SC, getuienisleier, het gevra of Dhlamini spesifiek na die Guptas verwys, of dalk eerder na ’n groep mense.

Dhlamini sê hulle is ingelig daar is familielede van die Guptas wat aan die Vrede-projek werk. “Dit is mense wat op die melkplaas werk en ook in die plaaslike woonbuurt bly wat gesê het daar is Guptas wat by die melkplaas werk,” het Dhlamini getuig.

Hy het ook genoem tydens ’n latere besoek aan die Vrede-melkplaas (toe die Vrystaat Ontwikkelingskorporasie die bestuur daarvan oorgeneem het) het hy gesien daar groei indringerplante wat giftig is vir beeste. Hy het ook ’n beeskarkas in die veld gesien lê, en het besef die plaas se bestuur is nie op standaard nie.

Dhlamini getuig Woensdag verder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.