Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vrees vir wit mense laat ANC De Klerk verdedig, sê Malema

Dit is weens die ANC-regering se vrees vir wit mense dat “ ’n massamoordenaar en apartheidsapologeet soos (oudpres. FW) De Klerk verdedig word”.

Só het Julius Malema, EFF-leier, Vrydag in Kaapstad gesê toe hy onder meer sy indrukke oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand met die Persklub Suid-Afrika gedeel het.

Julius Malema. Foto: Daily Sun

Malema en al die EFF-LP’s het Donderdagaand die Nasionale Vergadering (NV) verlaat nadat hulle die president se staatsrede met langer as ’n uur vertraag het met hul eise dat De Klerk die sitting verlaat en dat Ramaphosa die minister van openbare werke, Pravin Gordhan, weens die Eskom-krisis afdank.

De Klerk het die verrigtinge op uitnodiging van die parlement saam met ander oudpresidente soos Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe bygewoon.

Malema het Vrydag gesê daar was niks nuuts in die staatsrede nie, behalwe ’n herhaling van planne en drome wat nie geïmplementeer word nie.

Volgens hom sal dit kortsigtig wees om te dink dat Suid-Afrika se probleme weens ’n gebrek aan eenheid is “en deur vals verhoudinge tussen wit en swart mense herstel kan word”.

“Dis presies sulke gekheid wat daartoe lei dat mense ons in die parlement van hul drome vertel in plaas daarvan om met praktiese oplossings vorendag te kom.”

Malema het gesê die ANC-regering het sedert 1994 nie regtig ’n behoefte om die burgers van die land se lewens te verander nie.

“Die meerderheid Suid-Afrikaners woon steeds op mekaar in onmenslike omstandighede in townships. Ons mense bly grondloos, sonder elektrisiteit en skoon water en niks word daaraan gedoen nie.

“Dit alles omdat die regering te bang vir wit mense is. Hulle laat steeds toe dat wit mense alle strategiese sektore van die ekonomie beheer,” het Malema gesê.

Intussen blyk dit dat hy en die ander EFF-LP’s nie lig daarvan gaan afkom nadat hulle die verrigtinge ontwrig het nie. Die meeste ander partye het Donderdagaand daarop aangedring dat teen die EFF-LP’s opgetree word.

Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Vergadering, wat albei voorsittende beamptes by die staatsrede was, het gaste en Suid-Afrikaners Vrydag in ’n verklaring om verskoning vir die EFF se gedrag gevra.

“Die gedrag van die EFF-LP’s sal na die magte- en voorregte-komitees vir oorweging en aanbevelings verwys word.

Hulle wou die EFF-LP’s genoeg tou gee om hulself mee op te hang vir moontlike tugstappe.

“LP’s sal ook voortaan ernstig moet oorweeg of die bestaande reëls vir ’n gesamentlike sitting doeltreffend genoeg is om te waak teen wanorde wat parlementêre sake kan verlam,” het hulle gesê.

LP’s het hulle daarvan beskuldig dat hulle die ontwrigting veels te lank laat voortgaan het. Modise het egter in die sitting gesê: “As ’n LP gevra word om te sit en die LP gaan sit, watter gronde is daar dan om so ’n LP uit te stuur? Dít is die tegniese aspek waarmee ons geworstel het.”

Oor kritiek dat Modise en Masondo te geduldig was, het prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, Vrydag gesê dat hulle die situasie reg en prosedureel binne die parlementêre reëls gehanteer het.

“Hulle wou die EFF-LP’s genoeg tou gee om hulself mee op te hang vir moontlike tugstappe.”

Dennis Bloem, Cope-woordvoerder, het Vrydag die EFF se “onaanvaarbare” gedrag teenoor De Klerk as “totaal kinderagtig” beskryf.

“Die EFF moet verstaan dat hierdie demokrasie nie deur die loop van ’n vuurwapen gewen is nie, maar deur ’n onderhandelde skikking waarin De Klerk sentraal as destydse NP-leier was.”

Waarom wou die EFF de Klerk laat verwyder?

Die EFF het Donderdagaand op sosiale mediaplatforms ’n uittreksel van ’n SAUK-onderhoud met De Klerk oor die destydse vrylating van Nelson Mandela en die ontbanning van die ANC en ander bevrydingsorganisasies – wat op 2 Februarie vanjaar uitgesaai is – gesirkuleer. Hulle het dit as rede voorgehou oor waarom hulle hom voor die staatsrede uit die Nasionale Vergadering wou laat verwyder.

In die onderhoud wou die SAUK-joernalis Manelisi Dubase onder meer by De Klerk weet of hulle saamstem dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom en boos was soos wat die Verenigde Nasies destyds verklaar het.

De Klerk antwoord hierop dat hy nie ten volle daarmee saamstem nie, maar dat hy apartheid nie op enige wyse regverdig nie. Hy meld dat hulle al herhaaldelik verskoning daarvoor gevra het.

“Dit is egter iets anders om iets ’n misdaad te noem. Volksmoord is ’n misdaad. Daarom kan apartheid byvoorbeeld nie met volksmoord vergelyk word nie. Daar was nooit volksmoord nie.”

Dubase sê dan dat massas mense gedurende apartheid doodgemaak is.

De Klerk se reaksie daarop is dat meer mense destyds in “swart-op-swart-geweld as weens apartheid gesterf het”.

De Klerk erken egter dat apartheid “moreel onregverdigbaar en verkeerd” was, dat hy al herhaaldelik daarvoor om verskoning gevra het en die nodige stappe gedoen het om dit te beëindig. Hy ontken dat hy apartheid ooit regverdig het.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.