Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vrot appels van ANC steeds op pad na parlement

Die vrot appels op die ANC se kandidatelys wat aanstaande week as LP’s in die Nasionale Vergadering (NV) ingehuldig word, is steeds daar.

Die name van omstrede figure soos Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, Bathabile Dlamini, minister in die presidensie belas met vroue, en Malusi Gigaba, omstrede oudminister van binnelandse sake, bly op die ANC-lys.

Nomvula Mokonyane
Nomvula Mokonyane Foto: Morapedi Mashashe

Die lyste is Woensdag deur die Verkiesingskommissie (OVK) in Johannesburg oorhandig aan hoofregter Mogoeng Mogoeng, wat dit op sy beurt aan die waarnemende sekretaris van die parlement oorhandig het.

Hoewel die party se integriteitskommissie vroeër twyfelagtige kandidate op die lys geïdentifiseer het wat nie geskik is om die party in die parlement te verteenwoordig nie, is dié omstrede ANC-lede se name is steeds op die lys. Die kommissie het probleme met hulle gehad omdat hulle betrek word by beweerde staatskaping of korrupsie.

Malusi Gigaba. Foto: Felix Dlangamandla.

Dit is egter onbekend of die integriteitskommissie reeds sy verslag daaroor aan die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) voorgelê het. Die NUK vergader eerskomende naweek in Kaapstad.

Die eerste 108 name van die ANC se nasionale lys is feitlik die hele huidige kabinet wat almal op pad terug is parlement toe.

Bathabile Dlamini

Daar is egter ook nuwelinge soos Ronald Lamola, lid van die ANC se NUK, en Zizi Kodwa, voormalige ANC-woordvoerder. Kodwa het vroeër vanjaar vrywillig sy pos as woordvoerder verlaat ná bewerings van seksuele teistering teen hom.

Ingevolge die proporsionele formule wat deur die OVK saamgestel is, sal die res van die ANC se 230 LP’s in die NV van die provinsiale lyste kom.

Altesame 26 sal van Gauteng kom, gevolg deur KwaZulu-Natal (24), Oos-Kaap (18), Limpopo (15), Mpumalanga (12), Noordwes (9), Vrystaat (8), Wes-Kaap (7) en Noord-Kaap (3).

Mmusi Maimane, DA-leier, keer terug na die NV, so ook ander senior DA-LP’s soos James Selfe, Mike Waters en Glynnis Breytenbach.

Daar is geen verrassings onder die nuwe EFF-LP’s nie – Julius Malema, EFF-leier, se naam is daar asook dié van Floyd Shivambu, onderleier, Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder, en Godrich Gardee, sekretaris-generaal.

Die party, wie se steun die beste in die verkiesing gegroei het, se aantal LP’s vermeerder van 25 na 44.

14 politieke partye gaan in die parlement verteenwoordig word.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng is geskeduleer om aanstaande Woensdag 400 LP’s van die Nasionale Vergadering te beëdig en die 90 van die Nasionale Raad van Provinsies ’n dag later.

Ingevolge die kandidaatlyste wat politieke partye voor die verkiesing by die OVK ingedien het, kan die kandidate wie se name daarop verskyn met ’n posisie opskuif ingeval ’n posisie bó hul name vakant word.

Die OVK het Woensdag in ’n verklaring gesê 45,25% van die 400 nuwe LP’s sal vroue wees, terwyl Mpumalanga die provinsiale wetgewer sal wees met die beste gender-verteenwoordiging omdat die helfte van die lede daar vroue sal wees.

Die Wes-Kaapse wetgewer het die laagste genderverteenwoordigers met 35,71% vroue.

Die gemiddelde LP sal 50 jaar oud wees.

“Die oudste LP sal die 90-jarige Mangosuthu Buthelezi, leier van die IVP, wees. Die jongste LP is Sibongiseni Ngcobo (23) van die DA.

“Die jongste lid van ’n provinsiale wetgewer sal Karabo Khakhau (21) van die DA in die Vrystaat wees,” sê die OVK.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.