Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Vrot appels’ wys perke van Ramaphosa se mag

Pres. Cyril Ramaphosa se kabinetskommeling Maandag “is ’n teken van swakheid en wys waar die perke van sy mag lê”, sê die politieke ontleder Aubrey Matshiqi.

Hy sê Ramaphosa moes faksies tevrede hou deur sommige van die vrot appels uit die era van oudpres. Jacob Zuma te behou.

Prof. Piet Croucamp van die Noordwes-Universiteit stem saam en sê Bathabile Dlamini en Nomvula Mokonyane bly in die kabinet ter wille van eenheid in die party.

Hier is ’n paar van die twyfelagtige ministers:

Bathabile Dlamini, nuwe minister in die presidensie belas met vrouesake. Foto: Deaan Vivier

Bathabile Dlamini, minister in die presidensie belas met vrouesake

Die voormalige omstrede minister van maatskaplike ontwikkeling is bekend vir haar uitlating dat die meeste politici “smallanyana skeletons” het.

In 2006 is Dlamini en nog 13 LP’s geïmpliseer in die Travelgate-skandaal waarin parlementêre reiskoepons misbruik is.

Sy het gesê hoewel sy geweet het die koepons kon net vir lugvervoer gebruik word, het sy dit nogtans gebruik om die koste van hotelverbyf, huurvoertuie en ander voordele te dek.

Sy is skuldig bevind aan bedrog van R245 000 se reiseise.

As die minister van maatskaplike ontwikkeling het Dlamini nie daarin geslaag om die regering se plan vir die uitbetaling van maatskaplike toelae teen 31 Maart 2017 in werking te stel nie. Die bestaande kontrak met Cash Paymaster Services (CPS) sou dan verval het.

Dit het tot groot onsekerheid gelei of die toelaes wel op 1 April 2017 uitbetaal sou word. Dlamini is gekritiseer weens haar gebrek aan optrede en haar onvermoë om te verseker dat daar of ’n nuwe dienskontrak onderhandel is of dat die verspreiding van die toelaes deur staatsinstellings self gereed was.

Die konstitusionele hof het Dlamini primêr vir die krisis verantwoordelik gehou. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het gesê daar is geen verduideliking vir die onbevoegdheid wat sy en die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) aan die dag gelê het nie.

Nomvula Mokonyane, nuwe minister van kommunikasie Foto: Lindile Mbontsi

Nomvula Mokonyane, minister van kommunikasie

Soos Dlamini het Mokonyane ook “smallanyana skeletons” in haar kas.

As minister van water en sanitasie is Mokonyane beskuldig van wanadministrasie ten opsigte van die Lesotho- Hoogland-waterprojek.

City Press het berig dat ’n enkele maatskappy, LTE Consulting, binne een jaar kontrakte gekry het ter waarde van R5 miljard wat met water en sanitasie verband hou.

LTE het ook in Mei en Junie 2016 R3,5 miljoen aan die ANC geskenk. As LTE by die Lesotho-Hoogland-waterprojek betrokke raak, kan hy nog R2,6 miljard maak.

Amptenare wat by dié projek betrokke was en nie tenders aan LTE wou toestaan nie, is vervang.

Julius Malema, leier van die EFF, het Mokonyane ook in 2016 daarvan beskuldig dat sy die platemaatskappy Mabala Noise gefinansier het. Reggie Nkabinde, nasionale tesourier van die ANC-jeugliga, besit Mabala Noise. Malema beweer die platemaatskappy is gebruik om geld te was van watertenders wat Mokonyane se ministerie aan Nkabinde toegestaan het.

Bheki Cele keer terug as die minister van polisie. Foto: Craig Nieuwenhuizen

Bheki Cele, minister van polisie

Cele keer terug na sy ou portefeulje nadat Zuma hom uitgeskop het weens sy betrokkenheid by die omstrede R500 miljoen-huurooreenkoms in 2012.

In 2011 het adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, bevind die huur van die geboue in Durban en Pretoria waarby die sakemagnaat Roux Shagangu geïmpliseer is, is onwettig.

Dit het daartoe gelei dat ’n raad van ondersoek Cele se geskiktheid om sy pos te beklee bekyk het en hy is gevolglik afgedank.

Cele is bekend vir sy streng houding jeens misdadigers en het al voorgestel dat die polisie “skiet om dood te skiet”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.