Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vroue pleit by Cyril oor afsit van plase

Vroue wat op plase in die Wes-Kaap werk, het Donderdag met plakkate in die Mbekweni-rugbystadion in die Paarl opgedaag om te vra dat pres. Cyril Ramaphosa “sy woord gestand doen” en ’n moratorium op plaasuitsettings plaas.

Ramaphosa was Donderdag op die punt om met sy toespraak by die amptelike Vrouedagvierings in die Mbekweni-rugbystadion te begin toe ’n groep van sowat tien vroue voor in die gehoor met hul plakkate opgestaan het. Die plakkate wat hulle vreedsaam en stil omhoog gehou het, het gelui: “Teken die moratorium op uitsettings” en “Stop plaasuitsettings”.

Ramaphosa het gesê hy neem kennis van hul saak en dat hy later daaraan aandag sal gee.

Ons plaaswerkers is die mense wat die swaarste kry. Ons het niks nie. Ons het nie grond nie en ook nie ons eie huise nie.

Hulle is deur ’n vrou uit die groot markiestent in die stadion waarin die geleentheid plaasgevind het, gelei.

Carmen Louw, mededirekteur van die organisasie Women on Farms, het ná afloop van die geleentheid in die stadion gesê hul pleidooi aan Ramaphosa is om ’n moratorium op plaasuitsettings in te stel. “Toe hy vier jaar gelede hier in die Paarl was, het hy die plaaswerkers belowe dat daar ’n moratorium op plaasuitsettings sal wees. Dit was plaaswerkers wat ’n pleidooi tot hom gerig het om sy woord gestand te doen,” het Louw gesê.

Die vroue het van Wes-Kaapse plase by Simondium, Ceres, Wolseley en De Doorns gekom. “Van hulle staar uitsettings in die gesig. Van hulle is reeds uitgesit. Uitsettings is vir hulle ’n werklikheid,” het Louw gesê.

Bathabile Dlamini, minister belas met vroue in die presidensie, en Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het die vroue buite die tent ontmoet en onderneem om aandag aan hul kwessies te gee.

Ida Plaatjies, wat reeds 30 jaar op ’n plaas naby Simondium werk, het gesê sy het aan die betoging deelgeneem om die president se aandag te kry.

“Ons plaaswerkers is die mense wat die swaarste kry. Ons het niks nie. Ons het nie grond nie en ook nie ons eie huise nie. Ons verlang grond en ons eie huise. Die president het mos in 2014 belowe dat hy ’n verandering sal maak. Ons wil seker maak dat hy sy belofte gestand doen.”

Sy het gesê ’n nuwe boer het die plaas gekoop waarop sy werk en dat sy een van die werkers is wat ’n uitsettingsbevel gekry het. “Ons is tans besig met die saak,” het sy gesê.

Maria Scheepers van die plaas Simondium het gesê mense word van die plase afgesit. “Mense wat jare lank daar gewerk het, wat oud is en wie se kinders daar gebore is, word afgesit. Die plaas word verkoop en die nuwe boer wat nie ons omstandighede ken nie, kom nie en doen navraag nie. Al wat hulle sê is dat die mense wat nie vir die vorige eienaar gewerk het nie, moet gaan. Veral ons wat in die hokkies bly, kry swaar.”

Sy het die hoop uitgespreek dat die president kennis neem van hul probleme.

Meer oor:  Ramaphosa  |  Cyril  |  Plaasuitsettings  |  Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.