Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Vrystaat is klaar geplunder, los ons uit’

Géén wetteloosheid en chaos sal in die Vrystaat geduld word nie – die provinsie is reeds onder die waak van Ace Magashule, vorige premier van die Vrystaat, en oudpres. Jacob Zuma tot op die grond geplunder.

Só sê Themba Zweni, ’n leier van Mangaung Community Concern (MCC), ’n apolitieke organisasie, asook politici en gewone inwoners in reaksie op oproepe op sosiale media dat die plundery in KwaZulu-Natal (KZN) en Gauteng ook na die Vrystaat moet oorspoel.

Dudu Zuma-Sambudla, ’n dogter van Zuma, het op Twitter sê: “Gauteng, Mpumalanga, Vrystaat! Is julle daar? #FreeJacobZuma”

Oudpres. Jacob Zuma en sy dogter Dudu Zuma-Sambudla. Foto: News24

Hierop antwoord ene Tito namens die Vrystaat: “Ons gaan nie betrokke raak by die interne sake van KZN nie. Ons was nie daar toe ubaba homself en sy onmiddellike familie en vriende verryk het nie. Ons het geen voordeel getrek nie. So los ons uit!”

Zweni sê die MCC gaan nie nou voort met sy beplande “tweede sluiting” van Bloemfontein nie. “Ons sê beslis ook nee vir die pro-Zuma-, Magashule-veldtog van wetteloosheid wat in van die ander provinsies hoogty vier.”

Hy sê die Vrystaatse plaaslike regerings het onder Magashule in duie gestort en dat alle Vrystaatse regeringsfere onder die wanbestuur van Magashule en Zuma geweldig agteruitgegaan het en geplunder is.

“Ons gaan beslis nie daaraan deelneem om JZ (Jacob Zuma) bevry te kry nie.”

Brig. Sam Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê daar is nog geen teken van plundery en brande in die provinsie nie, buiten veldbrande.

“Ek kan nie reageer op paniek of vals boodskappe wat op sosiale media rondgestuur word nie.

“Dit is eers as nasionale intelligensie ons inlig dat ons kan reageer.”

Themba Zweni, ’n leier van groep Mangaung Community Concern. Foto: Argief

Hy sê die polisie sal wel gebeurlikheidsplanne hê vir groot hofverskynings, soos wanneer Magashule en sy 16 medebeskuldigdes weer op 11 Augustus in die hooggeregshof in Bloemfontein verskyn in die asbesdak-bedrogsaak van R255 miljoen.

Meryl Henning, woordvoerder van die Loch Logan-waterfront-winkelsentrum in Bloemfontein, sê hulle bly in noue kontak met owerhede en die Waterfront kan binne minute met groot hekke en skuifdeure afgesluit word.

Ander winkelsentrums in die Vrystaat het Dinsdag gesê hulle sal gesluit wees, soos die Dihlabeng Mall in Bethlehem, waar die bestuur sê dit word gedoen uit vrees dat die geweld en plundery daarheen kan oorspoel.

Oupa Khoabane, woordvoerder van die tussentydse provinsiale komitee van die ANC in die Vrystaat, sê namens Mxolisi Dukwana, sameroeper van die komitee, hulle veroordeel die plundering van winkels elders in die land en vra dringend dat Vrystaters hul sakeondernemings en inkopiesentrums beveilig.

“Ons verstaan dat ons mense deur verskriklike swaarkry en armoede in die gesig gestaar word. Maar hulle kan nie ander mense se regte met plundertogte en misdadige optrede vertrap nie.

“Ons doen ’n beroep op alle ANC-strukture om te help keer dat die gewelddadige optrede en plundery tot die Vrystaat oorspoel en werkloosheid verder verhoog.”

Oupa Khoabane, woordvoerder van die tussentydse provinsiale komitee van die ANC in die Vrystaat. Foto: Argief

Leona Kleynhans, DA-LPW in die Vrystaat wat in Harrismith woon, sê die N3 van Johannesburg tot by Durban is gesluit.

“Gevolglik kan daar nie massas mense Harrismith binnekom om te plunder nie en is winkels in bedryf.

“Ons het tot drie weke gelede ’n maand lank onluste in Harrismith gehad. Ons sê oproermakers het by ons kom oefen. Maar dit is nou stil. Ook in Qwaqwa is dit stil. Daar het wel Maandagoggend motorbande op die N3 gebrand waar klippe gegooi is.

“Die inwoners bly egter maar bangerig en bly in noue kontak met die polisie, gemeenskapspolisiëringsforums, veiligheidsmaatskappye en buurtwagte.

“Boere word vergesel as hulle produkte vervoer.”

Armand Cloete, VF Plus-LPW, sê diegene wat teen Zuma se tronkstraf gekant is, wil soveel paniek moontlik saai.

Sy raad is: “Bly in noue kontak met plaaslike veiligheidstrukture, soos buurtwagte en veiligheidsmaatskappye en die polisie, en bly kalm.”

Meer oor:  Vrystaat  |  Chaos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.