Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vrystaatse DA vra ingryping by omstrede Bfn-projekte

Die DA gaan pres. Cyril Ramaphosa vra om spesiale ondersoeke te gelas na drie omstrede projekte in Bloemfontein.

Patricia Kopane (regs), die DA se Vrystaatse premierskandidaat, en Phumzile van Damme, (tweede van links) woordvoerder van die DA, saam met Alice Monokoane (heel links) en Vivian de Bruin (tweede van regs), wat kla dat hulle nie goeie diens by die Buthelezi-ambulansdiens gekry het nie. Foto: Mlungisi Louw

Patricia Kopane, die DA se Vrystaatse premierskandidaat in volgende jaar se verkiesing, en Phumzile van Damme, woordvoerder van die DA, het Woensdag die drie plekke besoek.

Dit is die onvoltooide Thuto Ke Thebe Primary School in die Caleb Motshabi- informele nedersetting, onvoltooide behuisingsprojekte in Silver City en Dark City in Bochabela, en die Buthelezi-ambulansdiens.

Kopane en Van Damme het Woensdagoggend ’n groep leerlinge van tussen ses en 12 jaar oud in Caleb Motshabi na hul skool vergesel.

Omdat die Thuto ke Thebe-skool nog nie voltooi is nie, moet dié kinders elke oggend tot 6 km ver loop sonder dat iemand hulle vergesel. “Hulle kan maklik die slagoffers van misdaad word,” het Kopane gesê.

Miljoene rande is aan die skool bestee, maar die bouwerk is ’n geruime tyd al gestaak.

“Kontrakteurs wat hier gebou het, beweer hulle is net gedeeltelik betaal.”

Adv. Tsoarelo Malakoane, hoof van die Vrystaatse onderwysdepartement, het vroeër gesê die projek sal so gou moontlik hervat word en daar word met kontrakteurs vir verdere betaling onderhandel.

Hulle was ook by die onvoltooide behuisingsprojekte in

Dark City en Silver City, wat al meer as ’n jaar gelede voltooi moes wees. “Dit het die belastingbetaler sowat R100 miljoen gekos en is nie naastenby voltooi nie. Bouwerk staan botstil.”

Kopane en Van Damme was ook by die omstrede private Buthelezi-ambulansdiens, wat deur die Valke en die tesourie ondersoek word.

Die Silver City en Dark City-behuisingsprojek in Bochabela, wat ’n jaar gelede al voltooi moes wees en waaraan R100 miljoen reeds, volgens die DA, bestee is. Foto: Mlungisi Louw

“Dié ambulanse daag dikwels laat of nooit op nie, met tragiese gevolge,” het Kopane gesê. Dit is dikwels niks meer as ’n taxi-diens nie omdat daar glo nie die nodige toerusting en opgeleide personeellede is nie.

Volgens haar het die Vrystaatse gesondheidsdepartement in die afgelope vyf jaar R1,6 miljard aan Buthelezi betaal.

* Mondli Mvambi, Vrystaatse woordvoerder oor gesondheid, sê die departement besit nie die Buthelezi-nooddiens nie.

“Ons gebruik in dié stadium ander nooddiensmaatskappye nadat die kontrak met Buthelezi in Augustus verlede jaar verstryk het. Ons gebruik die bykomende nooddienste omdat ons nie al die vaardighede het wat ons nodig het nie.”

Nuwe kwotasies word nou aangevra. Buthelezi en ander diensverskaffers, soos ER24, sal kan tender.

Mvambi sê die Vrystaatse gesondheidsdepartement het onlangs ambulanse aangekoop, maar het nie genoeg gekwalifiseerde personeellede om dit te bedryf nie.

“Ons hoop dat ons die 202 poste wat ons geskep het, sal kan vul, op voorwaarde dat ons gekwalifiseerde mense sal kry.”

Netwerk24 kon ondanks verskeie probeerslae nie Thapelo Samuel Buthelezi van dié ambulansdiens opspoor nie.

Meer oor:  Da  |  Cyril Ramaphosa  |  Bloemfontein  |  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.