Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
VS-ANC gly van een krisis na volgende, verdeeld oor Ace

Terwyl die Fezile Dabi-streek vir Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, ondersteun en sê “hande af van ons Ace”, en selfs gedreig het om die nasionale uitvoerende komitee (NUK) voor die hof te sleep as Magashule opsy moet staan, bly die Vrystaatse ANC erg verdeeld.

Selfs in die Fezile Dabi-streek (Noord-Vrystaat), wat Parys (die grootwordplek van Magashule) insluit, is daar ook ’n groep wat hom nié steun nie, maar uit vrees vir viktimisering verkies om anoniem te bly, aldus ’n betroubare bron.

Dít terwyl daar ook in die Vrystaat van die een ANC-krisis na ’n volgende voortgestu word oor kwessies soos ANC-takke in Thaba Nchu wat voortgaan om algemene takvergaderings te hou ter voorbereiding van die benoemings vir kandidate wat as raadslede kan dien ná die munisipale verkiesing vanjaar, sonder dat daar provinsiale afgevaardigdes teenwoordig is om die proses te monitor.

Brutus Mahlaku
Brutus Mahlaku Foto: Argief

Ingeligtes meen dit kan weer tot verdere hofsake lei om die benoemingsprosesse te bevraagteken.

’n Ander moontlikheid is dat ANC-kandidate wat die gemeenskap en takke se ondersteuning het, hulle as onafhanklikes kan registreer of selfs by ander partye kan aansluit en sodoende die ANC se ondersteuning by die stembusse verder kan verdeel, meen sommige ANC-lede.

Brutus Mahlaku, sekretaris van die Fezile Dabi-ANC-streek, sê hulle wag vir Vrydag om te hoor wat die NUK oor Magashule se opsystaan-kwessie gaan sê. “Maar ons sê ons ondersteun hom van harte. Hy het verlede jaar hier ’n voordrag aan ons kom lewer en ons ondersteun dit.”

Mahlaku sê hulle is ook bly oor die progressiewe aksie wat die “nederige” Sam Mashinini, voormalige Vrystaatse voorsitter van die ANC, geneem het om die konstitusionele hof te nader om vir verlof tot appèl te vra sodat appèl aangeteken kan word teen die beslissing van die appèlhof wat gemaak het dat die Vrystaatse PUK wat in 2018 in Bloemfontein verkies is, nou ontbind is.

Sam Mashinini Foto: Argief

Dit was nadat die appèlhof beslis het dat daardie konferensie van 18 en 19 Mei 2018 waarop die PUK verkies is, “onwettig en ongrondwetlik” gehou is.

Mahlaku sê ook dat hulle teleurgesteld is oor die gedrag van William Bulwane, voormalige ondervoorsitter van die ontbinde PUK, en Paseka Nompondo, voormalige sekretaris.

Bulwane is een van twee wat ’n versoeningsooreenkoms moet onderteken dat die twee ANC-faksies in die Vrystaat hulle tot eenheid sal verbind, wat oudpres. Kgalema Motlanthe voorgestel het nadat hy met die faksies se leiers op Glen buite Bloemfontein vergader het.

Nompodo het weer Mashinini en Magashule se prokureur opdrag gaan gee om die regsdokumente wat by die konstitusionele hof ingedien is om verlof vir appèl te vra, terug te trek “omdat Mashinini nie die mandaat van die Vrystaatse ANC hiervoor gehad het nie”.

Maar Mashinini het intussen aan Netwerk24 gesê die hofsaak gaan voort.

Hy het ook Maandagaand gesê algemene takvergaderings van die ANC kan voortgaan ongeag die feit dat daar nie tans ’n PUK in plek is nie.

“Hulle kan voortgaan sonder ’n PUK of die NUK omdat hulle die mees basiese of grondvlak-boustene van die organisasie is.”

Op ’n vraag of hy Magashule ondersteun, vra hy die teenvraag: “Hoekom vra julle dit vir my? Vir my gaan dit daaroor dat geen hof hom nog skuldig bevind het nie.”

Oor die kwessie dat Motlanthe nou in die Vrystaat is om eenheid tussen die twee faksies van die ANC te probeer bewerkstellig en of hy dít ondersteun, sê Mashinini: “Ek het nog altyd die aksies van die NUK se nasionale werkkomitee (NWK) gesteun.”

Meer oor:  Ace Magashule
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.