Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
VS-begroting ‘moet op ekonomie fokus’

Ekonomiese groei en armoedeverligting behoort volgens opposisiepartye twee van die kernaspekte van die Vrystaatse begroting te wees wat Woensdag by die Gariepdam deur die LUR vir finansies, Elzabe Rockman, ter tafel gelê word.

Die DA vereis as hooffokuspunte werkskepping en ekonomiese groei, omdat dit van die grootste uitdagings en selfs krisisse is weens die werkloosheidsyfer in die provinsie.

David van Vuuren, DA-hoofsweep in die Vrystaatse wetgewer en lid van die staande komitee vir finansies en openbare verantwoordbaarheid, sê die party sal dus wil hoor dat Rockman ’n duidelike plan uiteensit hoe om ekonomiese groei te stimuleer om armoede in die provinsie te verminder.

Rockman sal ook moet sê hoe sy voorsien dat die Vrystaat sy inkomste gaan verhoog.

“Sy sal haarself sterk moet uitspreek oor hoe sy korrupsie gaan beveg. Onbekwame amptenare moet vir swak finansiële bestuur verantwoordelik gehou word.”

Meer kan volg as drastiese stappe nie gedoen word om korrupsie te voorkom en om toe te sien dat goeie geldelike bestuur geld nie.

Die afdwing van kostebesparingsmaatreëls moet aandag kry.

“ ’n Bron van geweldige kommer is steeds die onderwys- en gesondheidsdepartement wat nog onder administrasie is,” sê Van Vuuren.

Korrupsie en swak finansiële bestuur in Vrystaatse munisipaliteite is ’n groot knelpunt.

“Drie Vrystaatse munisipaliteite is tans onder administrasie: Masilonyana (Winburg, Theunissen en Brandfort), Mafube (Frankfort, Villiers en Tweeling) en Maluti-a-Phofung (Harrismith, Kestell en Qwaqwa).

“Meer kan volg as drastiese stappe nie gedoen word om korrupsie te voorkom en om toe te sien dat goeie geldelike bestuur geld nie.”

Baie inwoners bly steeds in plakkershutte omdat regeringsbehuising nie voltooi word nie.

Bekwame en gekwalifiseerde amptenare in bestuursposte in provinsiale departemente, sowel as in munisipaliteite, moet aangestel word.

Van Vuuren sê groter verantwoordbaarheid moet geld wat betref beurse vir oorsese studente sodat die belastingbetaler waarde vir geld kry.

“Ons sien jaar ná jaar hoe die begroting van die premier se kantoor styg oor veral uitgawes vir beurse aan dié studente.” Hy sê die DA het nie vertroue dat Rockman se begroting ’n beduidende verskil aan die krisisse in die Vrystaat sal maak nie.

Kgotso Morapela, provinsiale EFF-leier, sê hy stem saam werkskepping moet die grootste voorkeur geniet.

“Die maatskaplik-ekonomiese toestand van die inwoners moet voorkeur kry.

“Ons hoop dat ons ook in die begroting gaan sien hoe halfgeboude behuisingsprojekte oral in Vrystaatse townships voltooi gaan word met geld wat hiervoor bewillig word.

“Baie inwoners bly steeds in plakkershutte omdat regeringsbehuising nie voltooi word nie.”

Pleks van om diensleweringsekspo’s van miljoene rande in die Sand du Plessis-teater te hou, moet dienslewering na die mense van die Vrystaat geneem word, sodat hulle op voetsoolvlak dienslewering in hul eie dorpe kan kry.

Morapela sê die BTW wat op 1 April met 1% styg, gaan ’n groot impak op die armste van die armes in die provinsie hê.

Rockman sal ook moet sê wat met die Ramkraalprojek gebeur het waar sowat R120 miljoen na bewering bestee is, maar nog geen steen vir die beplande Vrystaatse wetgewergebou gelê is nie.

Tammy Wessels, VF Plus-lid van die Vrystaatse wetgewer, sê dié party hoop dat infrastruktuur soos paaie, water, riolering, krag en skole aandag sal kry.

“Die Vrystaat is ’n deurgangsprovinsie en dra baie verkeer. Pleks van om diensleweringsekspo’s van miljoene rande in die Sand du Plessis-teater te hou, moet dienslewering na die mense van die Vrystaat geneem word, sodat hulle op voetsoolvlak dienslewering in hul eie dorpe kan kry.

“Basiese onderrig moet steeds die voorkeur kry, want indien dit afgeskeep word, sal daar binnekort geen studente wees wat kwalifiseer vir die gratis tersiêre onderrig waarmee die regering nou spog nie.”

Meer oor:  Tammy Wessels  |  David Van Vuuren  |  Kgotso Morapela  |  Gariepdam  |  Vrystaat  |  Politiek  |  Da  |  Anc  |  Begroting  |  Eff  |  Vf-Plus  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.