Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Opdrag aan provinsiale regering: 'Betaal binne 30 dae'

Die Vrystaatse openbare dienstekommissie is bekommerd omdat die provinsiale departemente nie hul verskaffers binne 30 dae ná die ontvangs van ’n faktuur betaal nie.

So sê dr. Henk Boshoff, Vrystaatse kommissaris van die openbare dienstekommissie.

Hy sê ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) en die regulasies van die tesourie moet alle betalings aan verskaffers binne 30 dae gedoen word.

Boshoff sê in sommige gevalle neem dit die regeringsdepartemente jare om betalings af te handel, of betalings word nooit gedoen nie.

“Die impak van die niebetaling op die ondernemings en op maatskaplike dienste en die ekonomie is groot.”

Hy sê sakeondernemings, veral klein-, middelslag- en mikro-ondernemings, speel ’n belangrike rol in die ekonomie.

“Benewens die feit dat dit ’n noodsaaklike diens aan die regeringsinstellings lewer, is dit kernbelangrike dryfvere vir ekonomiese groei en werkskepping.”

Volgens hom erken die regering die belangrikheid van klein sakeondernemings, wat duidelik blyk uit departemente soos dié vir ekonomiese en vir kleinsake-ontwikkeling.

Dr. Henk Boshoff, kommissaris van die Vrystaatse openbare dienstekommissie. Foto: André Damons

Boshoff sê dit is ironies dat dieselfde kleinsake-ondernemings nou die slagoffers geword het van die niebetaling vir dienste wat gelewer is.

Anders as groot ondernemings het hulle nie kapitaalbronne nie en is grootliks afhanklik van die regeringskontrakte vir oorlewing, groei en hul bestaansmiddele.

“Dit is waarom daar ’n tekort by sommige hospitale en klinieke is aan noodsaaklike produkte en verbruikersitems, soos mediese en persoonlike beskermende toerusting, en hoekom daar probleme is met die verskaffing van medisyne en kos – asook met die verskaffing van leermateriaal aan openbare skole wat vir leerlinge en onderwysers bedoel is wat nooit opdaag nie of wat laat by die skole afgelewer word.”

Boshoff sê kinders verdrink ook in tydelike toilette omdat projekte waarmee ordentlike skole met behoorlike ablusie-geriewe opgerig moet word – en behoorlike huise met behoorlike toilette in ordentlike menslike nedersettings – weens dié wanbetalings nooit voltooi word nie.

“Dit is ook waarom lede van gemeenskappe hulle tot gewelddadige protes wend.”

Boshoff sê die wanbetalings veroorsaak geldkrisisse, wat daartoe lei dat sakeondernemings personeel moet aflê en ander hul deure permanent moet sluit.

Hy sê toe die staat van inperking in Maart aangekondig is, was sommige van die sakeondernemings reeds op die rand van bankrotskap.

Ons is egter bekommerd dat die volgehoue wanbetaling ’n nadelige invloed hierop sal hê.

Boshoff sê dit is betreurenswaardig dat sommige van die ondernemings nooit sal herstel nie, al word die inperkingsregulasies dadelik opgehef, omdat regeringsdepartemente hulle geld skuld.

“Vir hulle was Covid-19 en die inperking die finale spyker in die doodskis.”

Die benarde ekonomiese toestande en die toenemende werkloosheid kan volgens hom net aan bande gelê word as beter omstandighede en meer geleenthede geskep word waarin kleinsake kan floreer.

Boshoff sê die regering het hom reeds verbind tot die uitvoering van herstelplanne om die kwynende ekonomie te red.

“Ons is egter bekommerd dat die volgehoue wanbetaling ’n nadelige invloed hierop sal hê.”

Dit is waarom die Vrystaatse openbare dienstekommissie nou besluit het om die departemente se betalings te monitor om druk uit te oefen sodat rekenings binne die voorgeskrewe tyd betaal word.

Die saak is in die verlede verskeie kere onder die aandag van die provinsie se staande komitee oor openbare rekeninge gebring. Daar is versoek dat die skuldige departemente gedwing word om aan wetlike voorskrifte en regulasies te voldoen.

Hy sê volgens die verslag aan die Vrystaatse tesourie vir die 2020-’21-boekjaar se eerste kwartaal oor die betaling van rekeninge binne 30 dae, is daar weer ’n beduidende aantal departemente wat nie by die voorskrifte hou nie.

Hy sê die departementshoofde is gebel en opdrag gegee om aan wetgewing en regulasies te voldoen, anders sal regsopsies uitgeoefen word om verdere druk toe te pas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.