Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
VS-premier gryp in met Bfn-onluste
Die polisie van Bloemfontein was Dinsdag in die strate soos wat hier in Dr. Belcherweg op pad na die Pelonomi-hospitaal gesien kan word. Foto: Mlungisi Louw

Die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, het Dinsdag ingegryp op ’n vergadering met leiers van die oproeriges in Bloemfontein. Daar is op die vergadering ooreengekom dat die kop van die Mangaung-metro se stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, moontlik sal rol, soos deur die oproermakers geëis is.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, het dit bevestig en gesê dat ’n spesiale raadsvergadering Donderdag in Bloemfontein gehou sal word waarop die aangeleentheid oor Mea se skorsing hanteer sal word “omdat dit die raad is wat hom moet verwyder”.

Sello Pietersen, woordvoerder van Ntombela, het in ’n mediaverklaring Dinsdag bevestig dat die premier en haar uitvoerende raad, die verteenwoordigers van Mangaung Community Concern, die Mangaung Business Forum, die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) en die leierskap van die metro vergader het oor die protesaksie van die afgelope twee dae wat veroorsaak het dat strate en winkels in Bloemfontein “gesluit” is.

Ook oor hoe die gewelddadige protesaksie daartoe gelei het dat ’n tiener, Jevano Liam Siegel, ’n gr. 7-leerling van die Laerskool Heide in Heidedal, deur ’n veiligheidswag doodgeskiet is.

’n Senior personeellid van die Mangaung-metro se reinigingsdienste, Lebohang Kolobe, se BMW is met ’n petrolbom gegooi nadat hy uit die motor verwyder is. Foto: Mlungisi Louw

“Die vergadering het die kommer van die oproeriges hanteer oor die gebrek aan dienslewering, dat daar nie toegang tot sakegeleenthede is nie en daar nie goeie en deursigtige bestuur van munisipale sake plaasvind nie,” sê Pietersen.

“Daar is op die vergadering ooreengekom dat hul gesamentlike ooreenkoms op skrif (gestel sal word en) deur die premier en al die partye onderteken sal word." Daarin sal ook "uitgestippel word watter aandag aan die gemeenskappe se eise gegee sal word" en ’n "tydsraamwerk vir die implementering" sal gegee word.”

Die premier sal ook uitreik na die ouers van die tienerseun wat doodgeskiet is rakende die begrafnisreëlings.

Daar sal toegesien word dat alle skole heropen kan word en dat mense na die werkplek kan terugkeer met openbare vervoer wat hervat.

Ntombela sê die stand van die metro is nie op ’n gewenste vlak nie, maar dat dit wel bereik sal kan word as almal saamwerk, volgens Pietersen.

Meer as 100 buitelanders se winkels is in Bloemfontein geplunder, soos dié een van Masfin Dasleny in Batho. Foto: Mlungisi Louw

Intussen is 30 mense reeds weens die onluste in hoofsaaklik Bloemfontein se townships in hegtenis geeem, sê brig. Sam Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder, nadat nóg winkels Dinsdag deur die dag in die townships geplunder is.

Masfin Dasleny, ’n buitelandse winkeleienaar, het gesê Maandagnag is meer as 100 winkels van burgers van Pakistan, Bangladesj en Ethiopië geplunder en in sommige gevalle uitgebrand, waaronder sy eie.

Makhele het Dinsdagmiddag gesê dat die 30 wat in hegtenis geneem is op aanklagte van onder meer moord, openbare oproer, kaping en saakbeskadiging in die hof sal verskyn.

Die veiligheidswag (57) wat die tienerseun na bewering tydens die openbare geweld doodgeskiet het, word van moord aangekla en sal Woensdag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.

Makhele het Dinsdagmiddag gesê daar is nog klein groepies op straat wat sommige strate versper het, maar dat die meeste van die strate ná die vergadering met die premier weer oop is vir verkeer.

Die stadsbestuurder, Mea, wat ’n salarispakket van R3,3 miljoen per jaar verdien, word deur twee senior advokate ondersoek ná ’n mosie van die DA waarin gevra is dat hy oor sy beweerde wangedrag en wanadministrasie ondersoek moet word, aangesien hy glo die metro in duie laat stort het.

Die metro bestaan uit Bloemfontein, Dewetsdorp, Wepener, Van Stadensrus, Thaba Nchu, Botshabelo en Soutpan.

Oproermakers het ook Dinsdag in Dewetsdorp, Wepener en Van Stadensrus opgeruk waar paaie met brandende bande versper is. Winkeleienaars is geïntimideer om hul ondernemings te sluit, maar nou lyk dit asof die oproer vir eers iets van die verlede is.

Meer oor:  Adv. Tankiso Mea  |  Sisi Ntombela
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.